Elsabé Brits -
Emily Hobhouse. Geliefde verraaier. Tafelberg,
2016. ISBN 978 0 624 07574 5
Resensent: Joan Hambidge
Enkele
kanttekeninge
I
Elke jaar
doseer ek ‘n kursus oor die representasie van die ABO in die gedigte van ons
ouer digters: Marais, Totius en Leipoldt. Marais se ambivalensie oor die
oorlog, versus Totius se intense betrokkenheid (“Vergewe en vergeet”) teenoor
die ironiese distansie van Leipoldt wat vanuit die buiteland na die oorlog kyk.
Hieroor skryf H. J. Snyman insigryk in Merwe Scholtz se huldigingsbundel vir
hierdie digter: Leipoldt 100 wat in
1980 by Tafelberg verskyn het. Snyman se essay heet: “Leipoldt se deuntjie:
ironie of nostalgie?”
Die ironiese
sintese, soos hierdie teoretikus dit noem, betrek Leipoldt se kragtige “’n Nuwe
liedjie op ‘n ou deuntjie”. As mediese student was hy veral in die lyding van
jong kinders geïnteresseerd en die stryd van die Transvaalse en Vrystaatse
republieke was uiteraard buite sy ervaringsgebied. ( “In die konsentrasiekamp”
maak hy terloops ‘n toespeling, myns insiens, op Totius se “Vergewe en
vergeet”.)
Snyman wys op
die disjunksie tussen betekenis en bedoeling, die kenmerk van ironie (127). Irony and the Ironic (Methuen, 1970) van
D.C. Muecke laat die leser ook verskillende moontlikhede van ironie en
toepassings daarvan.
Elsabé Brits @ Liza van Deventer
Sopas verskyn
daar ‘n boek oor Emily Hobhouse met nuwe bronne wat Elsabé Brits in ‘n trommel
ontdek het in Kanada.
Brits se
eerste ontdekking was natuurlik via Rykie van Reenen se Heldin uit die vreemde en danksy die korrespondensie met Jennifer
Hobhouse Balme, kon sy nuwe lig werp op hierdie fassinerende geskiedenis. Van
Vancouver-eiland terug in die lewe van hierdie uitsonderlike vrou: held of skurk
of verraaier?
II
Hierdie leser
het ‘n paar jaar gelede twee verse oor Hobhouse geskryf – by die aftrede van
Hans du Plessis het dit in ‘n Festschrift verskyn. Hierdie figuur het my nog
altyd gefassineer.
Emily Hobhouse in ‘n ongeposte brief aan Tibbie
Steyn:
Ek dank jou
vir jou warm
brief
uit die Verre
Vrystaat
met biltong,
ingelegde
vrugte,
flertsies
groen kweper,
‘n klein
karmenaadjie
my toegesend.
Ek proe my
aangenome land
in ‘n
toegetrekte keel:
sien vroue
wat weef en
spin
in ‘n verre
Phillipolis…
O Tibbie,
hier is ek ‘n
rebel,
‘n leuenaar,
‘n vyand van
my mense…
Maar ek weet:
eendag sal my
gees
weer sweef
oor die wye
velde
van my Troue
Land.
Hoe graag sou
ek nie
by die
monument
wou klaag?
My dank vir
die voordrag,
die lees van
my brief:
vir die wonde
wat jy, Tibbie,
só selfloos,
ón-stoets,
namens my dra.
*
Emily Hobhouse, ‘n selfgesprek:
Heer
Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die
oorlog ruik?
Mag ek u
vertel, meedeel
van die
ellendes daagliks uitgedeel
soos stinkende
kospakkies? Hoe ‘n vader sonder
steun sy kind
se uitvaart moet aanskou?
Heer
Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die
oorlog klink?
Hoe ‘n moeder
vir dae sonder trane
‘n lyk op haar
skoot hou,
‘n woordelose
wiegelied?
Op
Springfontein word ‘n jong vrou
in ‘n grys sak
ter aarde beklink.
Heer
Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die
oorlog proe?
Die rens melk,
die vleis vrot,
skifsels meel
langs vlieë en luise,
luise en
vlieë, en vlieë, en nogmaals vlieë,
digby grafte
soos gapende wonde.
Heer
Kitchener, Heer Milner,
vandag het ‘n
baba van drie maande gesterf.
En op hierdie
dag, die hereweet,
nog twee
ander…
Vir die
vaders, vegtend tot die bitterend,
‘n
swart-en-wit-kiekie
die enigste
nalatenskap…
Heer
Kitchener, Heer Milner,
ek sien die wit
blom
in die hand
van ‘n kind,
stóm.
Heer
Kitchener, Heer Milner,
hoor my, hoor
my aan.
III
Emily Hobhouse
Brits se boek
lewer belangrike addenda tot die reeds vertelde verhaal. Die uitleg van die
boek is vir hierdie leser ongelukkig te “besig”. Ek sou ‘n soberder boek
verkies het. Daar is te veel spatsels en vlekke vir my smaak.
Dit is 'n
relevante teks vir alle lesers wat belangstel in hierdie figuur, indertyd
voortreflik weergegee deur Wilna Snyman in 'n eenvrouvertoning in Dear Mrs Steyn.
“Al ons
ellende spruit uit ons onvermoë om alleen te wees” (190) – een van daardie
sub-tekste wat die leser by die lees van hierdie boek bybly.
Daar is vir
die belangstellende leser – soos die uwe – geweldig baie tersaaklike inligting.
Die plattegrond op bladsy 150 gee ‘n konkrete voorstelling van Emily se reis
deur die verskroeide aarde ná die Anglo-Boereoorlog, 1903.
Ook haar
belangrike brief aan Jannie Smuts ontruk die ellende aan die vergetelheid:
“You think it
is bad to be an Afrikander at this moment – believe me it is far worse to be an
English person. Your defeat is material, ours is moral” (152).
Die foto van
Petronella van Heerden (afgeneem in 1915 in Londen nadat Emily haar in
Amesterdam besoek het, 237) is lieflik.
Lizzie van Zyl, uitgeteer en siek met ingewandskoors
Die Britse
siening versus die Suid-Afrikaanse siening van die skending van menseregte
(uitstekend weergegee in Herman Binge se Verskroeide
aarde) is iets wat ‘n mens se lesing bepaal. Hierdie leser het dit nog
altyd as ‘n skreiende onreg ervaar en historici wat vandag probeer beweer dat
die boerevroue onhigiënies was en daarom in die kampe gesterf het, begryp nie
hoé haglik die omstandighede in die kampe was nie. En hoe aansteeklike siektes
werk neffens vuil water ensomeer nie.
Die ikoniese
foto van Hobhouse – geneem toe sy reeds in haar sestigs was op bladsy 289 – vra
om ‘n gedig. Nes die foto van Rachel Isabella (Tibbie) op bladsy 291.
IV
Hobhouse se
stryd vir vroueregte en stemreg en haar teenkanting teen onreg, is alombekend.
Die plakkaat op bladsy 84 vertel alles: as sy nie die onreg aan die groot klok
gehang het nie en ‘n sogenaamde “distress fund” help stig het nie, wat sou
gebeur het?
Ongeveer tien
jaar gelede het ek deur Verenigde Koninkryk gereis en haar huis besoek in St
Ives in Cornwall.
Ons onthou
immers haar woorde:
"Truth
for ever on the scaffold. Wrong for ever on the throne!"