Irna van Zyl – Moordvis. Penguin,
2016. ISBN 978 1 41520 720 9
Resensent: Joan Hambidge
I
Irna van Zyl se debuutroman Moordvis
aktiveer die uitvis na ‘n oplossing. Die verhaal van Storm van der Merwe lees
vlot. Dit handel oor die grieselige (in die boek lees dit grieselrige) ontdekking van die lyk van ‘n jong vroulike joernalis,
sonder haar arm.
Dit speel af in die fiktiewe dorpie Grootbaai, ‘n kusdorpie, met ‘n
haaiduikbedryf wat geknou kan word deur so ‘n moord. Die dorpie is iewers naby
Hermanus, as 'n mens die kodes getrou volg.
Die roman word op die buiteblad aangeprys deur Marita van der Vyver (“Die
spanningslyn gaan jou inkatrol, die storie gaan jou meesleur”) en Karin Brynard
wat met groot stelligheid beweer:”’n dawerende nuwe stem in die Suid-Afrikaanse
misdaadfiksie”.
Ek het die roman met genoegdoening begin lees op ‘n lang vlug na Wenen. Dis
vlot en leesbaar geskryf. Al die bestanddele van ‘n goeie misdaadverhaal is
hier: die gekniehalterde Storm (wat ingeperk is tot kantoorwerk); sy ry ‘n
Volla en ‘n man met sy insleepwa ry in haar vas. Haar ondersoek word
gesinkopeer met dié van haar oudkollega, Andreas Moerdyk, wat die dood van ‘n
springbokstut ondersoek wat op die N1 ook deur ‘n trok getref is.
Local is hier bepaald nie lekker nie.
‘n Haai, lyke, perlemoenstropery, botsings …
Met hierdie roman plaas Van Zyl haarself binne-in die genre van
vroue-misdaadfiksie: Ruth Rendell, Patricia Cornwall en klassieke speurskrywers
soos Agatha Christie en P.D. James. Vele skrywers in Afrikaans is tans
aangetrokke tot hierdie sub-genre – waarskynlik weens Deon Meyer se enorme
sukses. Selfs ernstige skrywers soos
Etienne van Heerden (Klimtol) en
Ingrid Winterbach (Vlakwater) gebruik
elemente van die who-dunnit in hul
romans.
Die roman geniet wye aandag in die media en een van die onderhoudvoerders,
Karen Zoid, word in die roman via ‘n liedjie aangetref. Vraisemblance? Die werklikheid
wat inbeweeg en uitbeweeg na die bekendstelling van die roman wat afspeel in ‘n
akwarium.
Daar is geweldig baie navorsing gedoen oor die withaai as ‘n mens die
erkennings lees en die boek verskyn in sowel Afrikaans as Engels terselfdertyd.
Dead in the water, heet die Engels.
II
Die doodsteek van die speurverhaal (verskoon die pun) is natuurlik die
wending. Van Zyl se roman behoort tot die orde van die lisible teks (Roland Barthes) eerder as die scriptible of meer komplekse teks. Min speurverhaalskrywers kry dit
reg om die leser onkant te betrap of ‘n haas uit die hoed te ruk. Agatha Christie
kon wel; Deon Meyer soms.
Die Belgiese speurskrywer, Georges Simenon skryf ‘n soort speurverhaal waar
die “geheim” nie die speurverhaal voortstu nie; dit handel eerder oor die
verbintenisse tussen mense wat fokus op die
fiksionele speurder Jules Maigret se verhouding met sy vrou en sy uitsprake oor
die lewe.
Hier is dit die verhouding met die moeder en 'n geheim wat openbaar moet
word.
By die meer populistiese roman is die ontknoping of geheim (in navolging
van Edgar Allen Poe se The purloined
letter) dít wat die leser najaag. Van Zyl se roman wil neig na ‘n meer
komplekse verhaal weens die subtiele sosiale kommentaar. Ook die ekologie word
aangespreek (die lot van die grootwithaai, natuurbewaring en
perlemoenstroping).
Storm het deelgeneem aan 'n optog
teen die doodmaak van gestrande walvisse. En sy lei honde op.
Daar word ook erkenning gegee aan Maria Phalime se Postmortem: The Doctor Who Walked Away (Tafelberg, 2014). Webblaaie
is besoek vir verdere inligting. Die ywerige joernalis of letterkundige
speurder sal al hierdie ingebedde kodes kon natrek en die storie ágter die
storie kon volg. Teenoor die see wat die bewysstukke verwoes (234).
Met haaibote as ‘n front vir perlemoenstopery (ek wil nie storiebederwer speel
nie); maar iets skuil agter iets anders …
Kitskoffie is 'n vals bodem.
III
Ramot, Sigarette, drank. Plastieksakke om mense se koppe wat verniel word.
Uniforms vir die polisie. Dit alles dui op ‘n werklikheidsgetroue weergawe van
hierdie sub-genre. Selfone speel ook ‘n rol. Die identiteit van Storm (hier ook
'n spoiler) aktiveer 'n ander dimensie.
Die naamgewing is interessant: Storm, Spyker, Moerdyk ... en Purdey. Gaan
kyk maar net na naamgewing by James Bond en hoe 'n naam 'n karakter opsom:
Jaws, Pussy Galore ...
Witvoet het struggle credentials
(20).
Musiek help vertel aan die storie: Aretha Franklin, o.a.
Mans met borselkoppe, die spesifieke taal van gewone mense, Gmf, ensomeer
maak dit populisties. Ook die opposisie tussen goeie en bose karakters (en
goeies wat agterna booswigte blyk te wees). Gaan kyk maar Jerry Palmer oor
thrillers (Thrillers - Genesis and structure of a popular genre. Edward Arnold, Londen. 1978.)
Fassinerende inligting oor haaie is daar ook.
Daar is 'n taaipou op bladsy 20: luisterrke.
Deborah Steinmair som dit korrek op as 'n populistiese roman wat 'n mens
nie lank sal onthou nie (Lesers behoort dié hoek te byt | Netwerk24. Besoek 3
Augustus 2016).
Van 'n withaai-speurverhaal is hier helaas nie sprake nie. Miskien wou die
skrywer te veel stellings oor die ekologie maak en te veel inpak wat die storie
se dénouement in die wiele ry. Boonop is daar deesdae, veral via die BBC,
pakkende speur- en misdaadverhale wat kompeteer.
(Die volgende James Bond mag dalk 'n vrou wees.)
Dat dit wel eietydse kwessies aanspreek, is 'n pluspunt.
(Hierdie resensie word geplaas
met vriendelike vergunning van Fine Music
Radio)