Isobel Dixon –
Bearings. Modjaji Books, 2016. ISBN 978
1 928215 29 5
Resensent: Joan Hambidge
Met Weather Eye, A Fold in the Map en The
Tempest Prognosticator het Isobel Dixon haar gevestig as ‘n gerekende
digter waaroor hierdie leser al uiters positiewe resensies geskryf het. Haar
vierde solo-bundel Bearings is
eweneens uitstekend. Dit is ‘n bundel waarin veral die blik van buite en die
blik van binne op ‘n uiters oorrompelende wyse saamgedig word. Die digter is
woonagtig in Engeland, reis dikwels na verre streke, maar keer ook terug na
Suid-Afrika.
Alles in die
bundel werk op twee vlakke: die hier versus die nou; onthou teenoor vergeet;
lewe en dood – met die digter as dubbelganger, soos beskryf in die sentrale
gedig “Doppelgänger” (70) met die motto: “I have doomed to such a dreadful
shipwreck: that man is not truly one, but truly two”. Die digter as Jekyll en
as Hyde dus. In hierdie besonderse gedig is daar ‘n verwysing na Werner Herzog,
die magistrale filmmaker, wat op sy beurt hierdie proses uitstekend verwoord
het in sy verbintenis met Klaus Kinski: My
Best Fiend.
Die bundel sny
vele temas aan soos jeugherinneringe, die dood van ‘n geliefde vader, die reis
na Japan of Egipte, en sterk politieke verse soos "Trade Matters"
(34) en "Late Knowledge" waarin die geskiedenis wat ons op
skool geleer het, ontluister word (27). "Pickings" (32) verduidelik
die titel; ten spyte van al ons grense en drade is die voëls vry ...
"Nouns"
(54) skop jou in die maag met sy woordekonomie oor die waansin van oorlog. 'n
Stad se brûe sien sy as "twisted synapses"!
Gedigte het
sterk mitologiese ladings ("Finsong", 11) en in "Dream Song for
John" (13) word hierdie ikoniese digter besing. "A part of Me is
Gone" (14) is 'n lykdig, waarin die geliefde vader 'n teenspeler word vir
die dogter. 'n Ring wat verloor word in die see in "Treasure" (18)
speel in op die Faraos wat dit mag vind! "Pinball Electra" (15) neem
standpunt in teen die manlike orde wat vrouens hul stem misgun. Ons vind dan
ook skerp beelde in gedigte oor stilte ("don't give me your Easter Island
stare", 17). Cleopatra word 'n simbool en teenvoeter vir mans se siening
van vroue as onderdanig. In die kort reeks wys die digter op die argetipes van
ons lewens waar dominansie so 'n gegewe word dat mense in patrone bly dink en
optree. Hierom die toespeling op Gilbert & Gubar se The Madwoman in the Attic (24). Die digter probeer om die
gesigslose vrou te word; die gedigte maak egter deure oop vir haar.
In hierdie ryk
geskakeerde bundel gee sy kodes waarmee ons die bundel kan ontsluit. Een so 'n
leeskode is die trompe l'oeil om die
"wondrous and absurd" van die lewe te ontsluit (22).
Die
reisgedigte is iets besonders: Egipte, Dubai, Seville, Japan, Jerusalem, Gaza
...
Die bundel
bevat ook endnote wat verse met nuwe en sterker implikasies laai soos die gedig
“Beyond the fragile geometry” (61) wat verwys na Nicholas Roeg se film Don’t look now (gebaseer op Daphne du
Maurier se verhaal). Teks wat skuilhou agter ander tekste. Dixon het ook al
meegedoen aan ‘n projek waarin Hitchcock se Psycho
saam met mede-digters digterlik verwoord word. Hierdie multi-media-projek heet Psycho Poetica.
In 2013 het sy
saamgewerk met die Italiaanse komponis Roberto Rusconi aan Doppelgänger, wat
deur Schubert se Der Doppelgänger
geïnspireer is en aan Dark Matters
vir De Materia Nigra et Obscura. In
2014 het sy met die komponis Stephen Montague The Brewdog Howls geskep. Dit is tersaaklik vir die lees van
hierdie bundel waar gedigte met teenstemme geplaas word in kursief.
J. M. Coetzee
en Kylie Thomas (van Open Stellenbosch-faam) prys die bundel aan. Dit is twee
verdere asse waarop ons die bundel kan benader: enersyds digterlike beheer;
andersyds as sosiale en politieke kommentaar.
'n Digbundel
wat in my geheue 'n soort opera word met stemme en teenstemme.
'n Mens ontdek
met elke herlees 'n ander dimensie!
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike
vergunning van Rapport)