Saturday, August 27, 2016

Bemarking of bevarking?



Gestel ek skryf ’n jagroman Jou doppie is geklink en skuur skouers met die Groot Vyf in hierdie sub-genre. Dit is my debuut. Ek huur die Kruger Wildtuin vir ’n langnaweek. Teen ’n aansienlike bedraggie. Nooi al my vrinne en die media. (In my geval is die een die ander).

Sjampanje en krokodil-soesji vir ontbyt.

Vuurwerke in die nag. Olifanttemmers.

In nag ’n boottrip; ek vreesloos afgeneem op ’n krokodil se rug.

Helikopters vlieg in met twintig kaste Black Label toe die slordige gaste die hele voorraad opslurp die eerste aand.

Braaivleis in die lapa. Perderuiters wat polo speel met ’n sokkerbal.

Ek voer ’n onderhoud met Karlien van Jaarsveld wat ’n nuwe lied spesiaal net vir my en die gaste gekomponeer het.

Ek teken my boekie (bemark deur twee gesiene skrywers met shouts wat gil “Hier het ons 'n nuwe dawerende stem: iets soos ’n kanonskoot om twaalf in Kaapstad”; “Net eenkeer in jou lewe kom die jagboek so weergaloos” ...). ’n Tweede druk na die eerste oplaag van ’n 100 binne ’n ommesientjie.

Ek verskyn op die voorblad van Weg afgeneem met my mak tier. Op Kwela lag ek skalks vir die kamera. My safari-pak en kam in die kous ’n berekende kenteken.

Boek van die maand jubel Sarie. Rooi Rose bemark my roman in tien aflewerings. Visi neem my af op my plasie. My huis se ruwe bakstene word ’n nuwe modegier.

“Styl is alles,” koer ek. “Ek was al immers ’n karakter in Die vark in die pad en ek glo die lewe skuld jou geen verskoning nie; jý is die vertoning in jou lewe waar kuns altyd die lewe moet naboots.”

Ek is op die voorblad van Perspektief & Profiel waarin ’n jong literator my beskou as “larger than life”. My eerste boekie Die slangvanger het net-net nie die skoolvoorskryfmark gehaal nie en die tweede Soos ’n paal bo water is deur Huisgenoot opgeraap.

Die resensies van Jou doppie is geklink begin die dagbladpers haal. Wie het daardie vuige resensie geskryf? Og, het ons vergeet om hom te nooi na die paartie? Gmf, natuurlik jaloers op my Crocodile Dundee-styl waar elke-woord-tel. Sub-teks is alles, man.

Kom ons stop die satire vir eers.

Umberto Eco in sy Faith in Fakes (essays), gepubliseer in 1986, (dit het al twee herdrukke beleef) skryf oor die moderne gemeenskap se "Travels in Hyperreality". Die afdruk word so belangrik dat dit die oorspronklike verdring en die kyker het nie meer ’n behoefte daaraan nie.

Wat hy skryf oor die sogenaamde Fortress of Solitude van Lyndon B. Johnson opgerig (deur homself) in Austin, Texas is op oor-reklame van toepassing. Soeweniers, die reproduksie van my sy kantoor, die swaard wat hy as geskenk ontvang het van die Koning van Tailand, doilies met die Amerikaanse vlag as embleem.

In Eco se woorde: “The ‘completely real’ becomes identified with the ‘completely fake’. Absolute unreality is offered as real presence” (7).

En dit is van toepassing op boekbemarking. As ’n oordrewe reklamering van ’n boek nie deur die boek se intrinsieke gehalte ondersteun of bevestig word nie, skep dit eerder weerstand.

Dan neem dit ons terug na die ou spreekwoord: “Skoonheid vergaan, maar deug bly staan.” En boeke bly op rakke lank nadat die media-lawaai verby is.


© Joan Hambidge