Bernard Odendaal - Woorde hul storie sien ken: Essays en rubrieke. Naledi, 2016. ISBN 978 0 928316 36 0
Resensent: Joan Hambidge
Bernard Odendaal is digter en
digkunsresensent, tans skryfskooldirekteur op Potchefstroom. Hy doen verder
uitstekende werk vir Vers en klank
(RSG). Sopas het daar ‘n bundel rubrieke verskyn onder die titel: Woorde hul storie sien ken. Van
hierdie rubrieke het verskyn in Bloemnuus
en in Die Volksblad.
Rubrieke is ‘n veeleisende taak en elke
rubriekskrywer weet hoe meedoënloos dit is om vir ‘n koerant te skryf: daar is
‘n woordbeperking, daar is ‘n tydlyn, daar is lesergroepe (negatief en
positief); en boonop kan elke mens net soveel keer oor iets skryf sonder om te
verveel of jouself te herhaal.
In Afrikaans is daar uitstekende
rubriekskrywers. Een van my gunstelinge is (en bly) Marnus Hattingh wat ingelig
(en ook humoristies) oor motors skryf vir Die
Burger.
Uiteraard moet die rubriekskrywer 'n kenner wees van sy/haar
onderwerp. En rubriekskrywers het personas. Sommige lees jy gewoon nie, omdat
die “stem” jou afskrik of nie geval nie. Ander lees jy weer, al is dit net om
te weet wat jy nie wil weet nie (soos Max du Preez). Sommige is selfkoesterend
en vry openlik met celebs en bekende skrywers, en plaas selfs sielige foto’s op
Facebook van hulself en die beroemdes; ander is kantig in hul van eie kante.
Odendaal kan skryf. Hy begryp die aard van
die rubriek. Dit is impressionisties; dit dra ‘n bepaalde lewenswaarheid oor;
dit is humoristies of pynlik; en ja, veral leesbaar. Hy skep teenstemme - hier
Buurman en Vroulief met wie hy in gesprek tree of lewer kommentaar op 'n
boekbekendstelling waar 'n ou man opdaag om sy oorlede vrou as't ware op te
soek, omdat dit háár ruimte was.
'n Handvol bydraes kan ons tipeer as
essays. Hy haal byvoorbeeld Elize Botha aan, daardie kenner van die essay in
Afrikaans en Audrey Blignault. Die essay wat 'n lewenswaarheid oordra wat jou
bybly - soos ons dit ken uit Montaigne. Meer durend as die rubriek.
Ook skryf hy insigryk oor ons boekbedryf en
hoe die digkuns getransformeer het. En oor Afrikaans se vele sprekers. Hy is
niemand se "ander" nie. Daar is verwysings na Pieter W. Grobbelaar en
Boerneef; Breytenbach en ons ouer digters word netjies ingevleg. Ook Ina
Rousseau, George Weideman en Daniel Hugo.
In “Laatwinterrit” vra die jong student of
hy ‘n memo het wanneer hy sy studente in die skryfkursus se gedigte nasien?
(16) In hierdie naïewe opmerking is daar egter baie opgesluit. Hoe dikwels dink
mense nie dat jy gedigte “objektief” of “neutraal” kan benader nie?
“Opruimers van die onverskilligheid” is
eweneens ‘n juweel. Die blootgestelde reisiger wat in die diep nag
gekonfronteer word met uitskot op ‘n pad. Ook iemand wat die skrywer ontmoet
wat doodgeryde diere optel en hulle ordentlik begrawe. Dan is daar ook die
storie van die verkragte meisie en haar lot en die rubriekskrywer wat na woorde
soek om sy ónmag en pyn weer te gee. Hoe vind 'n mens die regte woorde
hiervoor?
Die rubriekskrywer is immer ‘n “naked I”,
te wete iemand wat nie sy (voor)oordele of lewensiening kan wegsteek nie. Dit
is ‘n persoon met skerp waarnemings en gevoelens wat namens ander mense
buikspreek. Oor veldflieke wat nie meer bestaan nie of hoe meedoënloos die
moderne lewe geword het.
Die belangrikste aspek van hierdie bundel
is dat elke stuk iets aktiveer oor heimwee (en Fernweh) en oor nostalgie.
Boeke, mense, ontmoetings, 'n Duitse dosent wat 'n bepalende invloed had op die
rubriekskrywer, word eerlik belig. 'n Opstelwedstryd in sy jeug wen hy met
"oorgehewelde brokke" uit Chris Barnard, die goeroe van
rubriekskrywers. Maar die gewete word byna gesus met die wete dat hy fyner as
die beoordelaars gelees het!
Rubriekskrywers - soos ons weet uit Roland
Barthes se Mythologies (1957) en
Umberto Eco se Faith in Fakes (1986)
- gebruik die rubriek as 'n oefenlopie vir 'n groter projek. Mag ons 'n
volgende digbundel sien!
Die grein van die stem, soos Barthes dit
noem. Dit is wat 'n mens bybly lank na die lees van die bundel wat soms
ontstellende inligting oordra (oor kuns en ideologie met verwysing na
Sjostakowitsj se Sewende simfonie in
Leningrad), maar soms speels oor die gebruik van die oom-woord.
" 'n Mens se kop sypel vol vertes en
verledes" (91), van dit wat jou die mens gemaak het wat jy uiteindelik
geword het.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)