So open die
kongres dan op die Donderdag. Wonderlik om bekende gesigte te sien van vorige
internasionale kongresse in Rio de Janeiro (op die stoep van die Hotel Regina
sien ek weer vir Dorothy) of in Parys (hier staan David).
Marina Warner
Ons ontvang ’n
program wat so dik soos ’n telefoongids is met 388 bladsye. Alles kan jy nie
beluister nie, maar ek volg altyd my intuïsie. Die program word geopen deur die
beroemde Marina Warner ("Magical Writing: Oracles, Curses, & Further
Preventive Measures") wat praat oor ons "collective utterances"
en "magical writing" wat sy via die Bybel (en natuurlik via Frank
Kermode se The sense of an ending vir haar luisteraars
verduidelik. Hoe die toekoms al wink deur die "cuts" van die oomblik.
En letterkunde grense oorsteek en kan voorspel. Julian Barnes se History of
the world in 10 1/2 chapters (1989) wat eindig met die korrekte
voorspelling van wie die sokker in Engeland gaan wen. Gewone lesers het hom op
sy woord geneem.
Klytemnestra vermoor Kassandra
Dit is ’n
skitterende lesing (wat my diep tref), omdat sy na beroemde mitologiese en
Bybelse figure soos Jeremia, Klytemnestra, Kassandra, o.a. verwys. Ook King
Lear kom aan bod. Dit is by uitstek ’n lesing wat primordialiteit aanspreek:
soos die nette wat die dooies gevange hou in die Boek van die Dood.
Moderne Britse teater kom ook aan bod in die hervertolking en interpretasie van
onder andere die Oresteia. In hierdie ryk geskakeerde lesing (via Auerbach,
Said, Kermode, e.a.) word ’n mens weer bewus van hoe die grense van
literatuurteorie voortdurend verskuif. Ons begin waarskynlik weer terugkeer na
die argetipiese of primordiale benadering wat vir etlike dekades uit
literatuurteorie verban is.
Die soeke na
die lesinglokale in die Universität Wien is moeilik. Lesinglokale word op ’n kaart
aangedui, maar jy vind dit nie sommer nie. Die gebou is soos ’n
Escher-skildery.
Ek stap by ’n
lesing in (onbespreek) en hoor wel iets relevants oor die representasie van
Godot in komiekstrips.
Ek ontdek ’n
gender-seksie wat fassinerend is. Hemingway se vreemde verhouding met Gertrude
Stein wat die spreker sien as ’n verplaaste gay-dimensie. Ek wys haar daarop
dat hy salig onbewus was van die verhouding tussen haar en Alice B. Toklas. Hy
het eers eendag toe hy voor hul huis in die Rue de Fleuris gestaan het, gehoor
hoe die twee rusie maak ...
Die
gender-sessies is fassinerend: gender en genre; gender en taal;
genderkonstruksies wat grense bevraagteken, afbreek en herdefinieer, soos in
die Algeryns-Franse letterkunde waar gay-tekste geheime kodes het wat nie
ingeligte leser begryp.
Soos poisson (vis) wat ook ’n soen tussen
twee mans beteken ...
En dan ’n
hoogtepunt ... aan’t verdwaal in die UniVie se oordonderende geboue, kom ek af
op ’n sessie: “The metaphor and Languages of the Diseases, the Healing and the
Medicine since the 20th Century”.
Al Berto and the writing of Fear en Torture and Consumption.
Insatiable Appetite in Kim Je-woon's I Saw the devil (2001).
Al Berto wat
skryf uit ’n posisie van gepynig wees en siekte wat hom voortdryf en anders
maak blyk die dinamo vir sy kreatiwiteit te wees. Hierteenoor ’n lesing oor ’n
reeksmoordenaar as ’n marginale persoon en wat in I saw the devil
behandel word. (I Saw the Devil - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 23
Julie 2016).
Fassinerend
hoe hierdie twee referate van waarde is vir my werk oor Johann de Lange en o.a.
sy hantering van die marginale persoon en die reeksmoordernaar (soos Jeffrey
Dahmer) wat ’n troop word van onvervulling en die abjekte.
Veral lesings
oor vertaling (en die sogenaamde "untranslatable") word in vele
sessies bespreek.
Daar is ’n
paneelbespreking rondom minderheidstale: uit Indië en Afrika. En hoe hierdie
tale "bewaar" moet word. Ja, noem die een respondent dit. Daar is ’n
selfs ’n woordeboek in ’n Afrikataal met ’n X begin wat hy nie kan uitspreek
nie. Xhosa, help ons hom. En maak ook die gehoor daarop attent dat daar selfs ’n
Zoeloe/Engels/Afrikaanse woordeboek bestaan. ( isiZulu.net – Zulu-English online dictionary. Besoek 24 Julie 2016)
Selfs
Amerikaanse komparatiste verdedig minderheidstale en hoe ons moet bly veg vir
minderheidstale, diversiteit en verskillende kulture. Dit is immers waarmee
Komparatisme besig is - en eerder die parallelle teks as die een verswelgende
Engelse teks is die antwoord.
Is daar iets
soos World Literature? Of is dit ’n blote kanonisering van Groot Name, geskep
deur maghebbers, wat die kleiner, randletterkundes verdring? Emily Apter en
David Damrosch is hier in debat. (David Damrosch | Department of ComparativeLiterature. Besoek 24 Julie 2016)
Emily Apter is die
skrywer van die bekende studie: On The Politics of Untranslatability (2013).
Sekere
konsepte in die filosofie word hervertaal, weer vertaal, en in wese bly dit
on-vertaalbaar. ( Emily Apter | Department of Comparative Literature | NYU. Besoek 24 Julie 2016)
By elke lesing
hoor hierdie kongresganger presies dit wat universiteite aan Suid-Afrikaanse
universiteite tans ontken: die ontkenning van diversiteit, meertaligheid en die
erkenning van multi-kulturalisme.
Om van buite -
op selfs subliminale maniere - bevestiging te kry dat meertaligheid belangrik
is, maak van hierdie kongres ’n opwindende en tersaaklike ervaring.
Daardie
telefoongids neem ek huis toe. Daar sal ek ander relevante lesings kan aflaai
en herbesoek.
Vandag is
Sondag. ’n Klein respyt want more begin die lesings weer in aller yl.
Migrasie,
grense, klein tale, minderheidsposisies ...
© Joan Hambidge