Ilse van
Staden - Waar die oog van stil word. Protea
Boekhuis, 2016. ISBN 9781485306054
Resensent: Joan Hambidge
Ilse van
Staden se digbundel Waar die oog van stil word is daardie soort bundel
wat lank ná die lees bly nawerk in die leser se gemoed. Die gedigte lyk
oënskynlik eenvoudig, maar met elke herlees, aktiveer dit die woord karapaks
wat die digter gebruik.
Hierdie woord
beteken skulp (soos by ’n skilpad), maar volgens die tesourus dui dit ook op
abnormaliteite soos geskep deur trauma, infeksies, tremore, en so meer. Daar
was al ’n digkunstydskrif met hierdie titel. Gaan kyk gerus in L.G. de Stadler
se Groot tesourus van Afrikaans
watter woordassosiasies daarmee verbind word.
Die digter
sinspeel op albei begrippe. Die gedig wat toegesluit is agter ander gedigte of
die gedig geskep uit menslike ontsteltenisse of onrustigheid.
Eersgenoemde
soort gedig vind ons in haar antwoord op Wallace Stevens se beroemde werk
“Thirteen ways of looking at a blackbird” wat sy “Dertien kraaie” noem:
1.
’n noot op die
dwarsbalk van bome
’n enkele kras en
krakende
kraai
2.
twee kraaikuikens
uit ’n boom
gewaai
ewe dood
Hierdie
palinodie (of teenstem) is egter in die minderheid. Die meeste gedigte in die
bundel is liries en eenvoudig.
Bloekoms
die bloekoms ontklee
van bo af
skil uit hul skedes
skilferend
bietjies-bietjies blaai
hul uit die bas
en keer
satyngeskilderde lywe
skaam teen die wind.
Die bekoring
van hierdie oënskynlik eenvoudige vers kan nie genoeg vermeld word nie. ’n Mens
sal nooit weer na bloekoms kan kyk sonder om te onthou hoe sy dit beskryf nie.
Die skede, die karapaks wat oopgemaak en afgehaal word, is deel van die
digterlike proses. Party noem dit die dromende denke; ander praat van die
akwarelle van die dors. Vir sommige is dit weer ’n hipnoties betowerende
proses. Vir ander dinkwerk.
Die een is nie
beter as die ander nie. Dit is om in dáárdie manier van dig, jou merk te maak.
Jy kan nie ’n alt met ’n sopraan vergelyk nie. Of ’n tenoor met ’n bas nie.
Maar wel soprane met mekaar. In die liriese digkuns het ons uitstaande digters
soos Olga Kirsch en die onderskatte Annette Snyman. G.A. Watermeyer.
Hierdie Ilse
van Staden kelk ook die sonlig in haar keel.
Soms moet sy
’n winterbaadjie aantrek (soos in “woestuin”) om haar teen pyn te beskerm. Die
digkuns kan beskerm, maar die digter ervaar ook soms die pekel van haar woorde
(“opgedis”).
Daar is
uiteraard dan ook verwysings na ’n slak, die selakant (wat ’n beeld word vir
die digterlike proses en slim inspeel op Antjie Krog se gebruik van visbeelde
in Lady Anne, 1989). Verder dan: gerugte van eenhorings, fenikse en
selakant / drake en dinosourusse, basilisk en narwaltand (“bou jou skip”).
Hier is ’n
skerp blik op die oorlewingstryd as mens. Die digter het verhuis na die
buiteland (Australië) en hiermee word sy dan deel van ’n ekspatgenerasie.
Daardie digters wat van buite na binne gekyk het (soos Elisabeth Eybers, Olga
Kirsch, Barend J. Toerien, Julian de Wette, Casper Schmidt, onder andere)
verstaan die “patrone van stilte” anders as die digters wat té na aan mekaar
skuur in die tuisland.
Kort ná haar
verdienstelike roman Goeie dood wat saggies byt, is dié mooie bundel met
ons. Oog en stilte. Die digter wat kyk en patrone waarneem. Verliese karteer.
En gekonfronteer word met ’n stil gevriesde stilte. Dis hoe ’n mens hierdie
bundel kan opsom. Haar vorige bundel is deur ’n resensent verniel. Met hierdie
bundel maak sy daardie besware ongedaan.