Tuesday, June 28, 2016

Joan Hambidge - Tarkofski se Solaris (1972)

I

Hierdie film word as een van die hoogtepunte beskou in die genre van sciencefiction. Dit is egter ook een van Tarkofski se films waarin ‘n mens sy belangrikste tegnieke kan sien soos:

Eduard Artemyef

1.     lewenswyshede (Ons dink ons lewe vir ewig, omdat ons nie weet wanneer ons sterf nie);
2.     die ontginning van drome (in grys of donker kleure);
3.     die gebruik van kerk- of gewyde musiek om die simboliese inhoud van die film te versterk : hier is dit Johann Sebastian Bach se "Ich ruf zu dir, Herr Jesu Christ" en elektroniese musiek van Eduard Artemyef;
4.     die ondersoek na liminaliteit. In hierdie film is dit ‘n verskyning of replika van die geliefde wat selfdood gepleeg het en die grense tussen lewe en dood verskuif;
5.     die terugkeer na die jeug of ouerhuis. In die slottoneel reën dit op die vaderfiguur, terwyl die seun deur die venster na hom staar. Dit intimeer dat die vader waarskynlik reeds dood is en dat dit ‘n fantasie of herinnering mag wees;
6.     die gebruik van verskillende kleurskakerings om emosionele inhoude oor te dra;
7.     die intense verhouding tussen lewe en kuns, waar lewe dikwels kuns naboots. Byvoorbeeld ‘n toneel wat oorgeskiet moet word, omdat die kamera gefaal het (Nostalgia) of  ‘n aktrise wat verlief raak op die filmmaker (Solaris) wat die grense tussen kuns en werklikheid problematiseer en wys hoe kompleks kreatiwiteit is.


II

Stanislaf Lem se roman (1961), met die gelyknamige titel, was die inspirasie vir hierdie film. Kris Kelvin wat moet ondersoek instel oor die ervarings op die ruimteskip wat rondom die planeet die Solaris wentel, skep meer vrae as wat dit antwoorde bied. Die wetenskaplike ondersoeke op die ruimteskip kan nie vorder nie, omdat elkeen van die wetenskaplikes met emosionele probleme belas is. (Solaris (1972 film) - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 26 Junie 2016.)

Kelvin ontdek dat sy vriend selfdood gepleeg het en dat die ander wetenskaplikes antagonisties is teenoor hom. Gibarian, sy vriend, laat ook 'n selfdood-nota agter wat via 'n video beleef word. Ook die reis na die Solaris word verpak via 'n videofilm wat Henri Berton, 'n voormalige ruimtevaarder, aan hom gee. Dit bevat o.a. 'n verhaal van 'n viermeter-lange kind ...

Wanneer Kelvin in die ruimteskip is, sien hy sy oorlede vrou Hari. Hy plaas haar in 'n angstoestand in 'n ruimtekapsule ten einde haar uit te wis. Die DVD wat ek bekyk het, se tweede gedeelte begin by hierdie futiele aksie.

Sy keer egter terug, want die planeet, Solaris, het die replika van sy dooie vrou uit Kelvin se herinneringe aan haar geskep in sogenaamde neutrino-sisteme. Sy kan ook met die sogenaamde uitwisser vernietig word.

In 'n pynlike toneel wys Kelvin vir Hari, of dan die replika van haar, films van sy jeug, sy ouers, en sy werklike vrou.

Ondertussen probeer een van die wetenskaplikes uitvind hoe sy breinpatrone werk ten einde die verskyning van Hari te stop. Dit geluk egter nie.

Sartorius, die een wetenskaplike vertel Hari dat sy 'n replika is van die vrou; ook sy pleeg selfdood deur gif te drink. Sy verskyn egter weer, todat die twee wetenskaplikes haar uitwis.

Kelvin - totaal verlore - tob of hy na al sy ervarings en verliese moet terugkeer aarde toe. Hy keer terug na sy ouerhuis, 'n huis waarin sy vader staan waar die reën val op sy vader. Die huis is egter op die planeet Solaris in die middel van 'n oseaan.

Brueghel, Jagters in die sneeu

III

Hoe interpreteer hierdie kyker die film? Dit is 'n film oor hoe jou jeugjare jou lewensuitkyk bepaal en hoe jy altyd terugkeer na hierdie primordiale verhouding. Die vrou wat 'n replika is van 'n ander dui op hoe mense waarskynlik altyd dieselfde argetipes (onbewustelik) in die liefde herhaal ...

Die betekenis van die Brueghel-skilderye (Jagters in die sneeu, 1565) behoef ook ondersoek.

Of Rembrandt se Terugkeer van die verlore seun (1669) dui daarop dat Tarkofski die film wil laai met ander psigiese inhoude as blote scifi wat waarskynlik ook een van die redes was vir Lem se ongelukkigheid met hierdie film.

IV

Uiteindelik is dit ‘n film oor primordialiteit. In die kamera wat fokus op ‘n draaiende wolk of water, dui hierop.

Tarkofski se films is gelaai met sub-teks en simbole wat met elke herbesoek nuwe interpretasie-moontlikhede aktiveer. In dieselfde tyd wat ek Solaris sien, kyk ek weer na The conversation, Francis Ford Coppola se film uit 1974, met Gene Hackman in die hoofrol. Coppola het Blowup (1966) van Antonioni as sy bepalende invloed beskou. (The Conversation - Wikipedia, the free encyclopediaBesoek 28 Junie 2016). 

Wat het hierdie drie films in gemeen?

In aldrie gevalle gaan dit om die ekstensies van die self (video’s, afluisterapparaat, kameras) wat nie alleen ‘n lewe vergemaklik nie, maar ook kompliseer.

Gene Hackman, die professionele afluister-kenner, se interpretasie van twee mense wat in ‘n sirkel loop en ‘n aanval vrees, maak hom paranoïes. Het hy die woorde reg vertolk?

Harry Caul (Hackman) gebruik net tiekiebokse en sy kantoor is in ‘n ou stoorplek in San Francisco. Hy dra ‘n aaklige reënjas. Wanneer bande gesteel word en drie mense vermoor word, voel  hy homself aandadig. Hy is Katoliek en die kyker sien ook hy sy sondes bely in ‘n bieghok.

Het die twee mense ‘n verhouding wat hy afluister?

Die besoek aan die aangrensende hotelkamer speel weer in op Hitchcock se Psycho (1960) wanneer hy onder die stortprop vir bloed soek. Die grieselrigheid word egter gevind in die toilet.

Die herbesoek aan die tapes en die wegvee van geraas soos musiek en ander stemme laat hom net met die stemme van die twee karakters.

Harrison Ford is sy skadukant, die een wat hom agtervolg en wanneer die bande gesteel word, besef hy sy medepligtigheid aan die moord.

Daar is egter ‘n ander moord en Caul vrees dat daar meeluisterapparate in sy woonstel geplant mag wees. Hy verwoes sy hele woonstel in ‘n futiele soektog en breek selfs ‘n Jesus-beeldjie (die einde van sy geloof?).  Aan die einde speel hy sy saxofoon in ‘n verinneweerde ruimte.

Antonioni se beeldskone Blowup handel oor die modefotograaf wat per abuis ‘n foto neem van ‘n moord. Ook hier word die foto’s gesteel, behalwe vir een foto van die lyk.

Hierdie film is gebaseer op Julio Cortázar se The devil’s drool en was indertyd ervaar as grensoorskrydend ten opsigte van die naaktheid. Ons sien egter nooit Vanessa Redgrave se borste nie.

In sowel Solaris as in The conversation sien ons lyke toegemaak in deurskynende plastieksakke.

© Joan Hambidge