Thursday, July 21, 2016

Reisjoernaal: Wenen | Stad van Musiek, Stad van drome



Dag 4

Vroegoggend brekfis ek. Lees e-posse. Die moderne akademikus kan eenvoudig nie die aanslag van e-posse pypkan nie. Wel, jy kan probeer; net om te ontdek dat ’n datum verbygeglip het of ’n aankondiging van ’n kongres in jou vakgebied is weg. Hier in Wenen sit ek reg oorkant die universiteit en beantwoord ’n tsoenami van e-posse. 

UCT/UK kampus

Beursaansoeke (wat nou geteken moet word); klastye en -toelatings wat nie kan wag nie; beangste studente wat tesisse wil inhandig. So iewers op jou reis knyp jy ’n paar ure af en laat weet ’n kursus is geskrap of ja, dit mag ...

Dan is daar weer die HoHo busse (hop on/hop off) wat jou jou deur die stad neem. Jy stop vir ’n vinnige koffie, mis die volgende bus, koop ’n aandenking en wag.

Jy beloer die plattegrond van die stad. Sekere areas begin nou al bekend raak. Soos die Freud-park naby jou hotel.

Jy verbeel jou hoe Freud en sy hond hier gewandel het. Met Paula, die huishulp.
Sigmund Freud Park

Meer as 3.7 miljoen mense besoek hierdie stad jaarliks wat naas Melbourne as die mees leefbare en genietbare stad beskou word.

Op straat vra ek vir aanwysings en ’n jong meisie vertel vir my hoe haar woonstel langs ’n park haar afsluit van stadsgeraas. Helaas, kan ons nie dieselfde in Kaapstad sê nie, waar jongeliede tot laatnag op stoepe drink (en lawaai) met bergies wat hul eie stadsmusiek het.

Wenen se Romeinse en Keltiese geskiedenis is herkenbaar; ons sien klassieke mure in die ou gedeeltes van die stad.

Van Wenen na Venesië

Neffens die Tsjeggiese Republiek, Slovakië en Hongarye kan jy selfs daguitstappies maak na die omliggende buurlande; mits jy ’n visum het.

Wenen (Vien) beteken bergstroom (Vedunia).

Ook geroep Dunaj.

In 1938 (met die Anschluss) beset Hitler Oostenryk.

Eers in 1955 is Wenen verlos uit die kloue van Nazi-Duitsland.

In 1945 het die Sowjet-Unie die stad beset tot in 1955.

Hierdie stad was ook vasgevang deur Duitsland en die Sowjet-Unie, bykans soos ’n kind wat in ’n egskeidingdebakel ’n twispunt tussen die ouers word.

Hitler se geboortehuis word oorweeg vir sloping

Onder die Nazi-regime is ongeveer 65 000 Jode gedeporteer en vermoor in konsentrasiekampe. 130 000 mense het gelukkig op vlug kon slaan, onder andere Freud en sy gesin wat genoeg geld gehad het. Vandag is die Joodse buurt amper on-Joods. ’n Mens wonder hoe het dit toe gelyk voor hierdie geweldige aanslag?

Hoe ironies dat Hitler gebore is in Oostenryk.

Voorblad van die Akte van die Weense Kongres

Uit al die na-oorlogse spanninge kon Graham Greene The third man skryf. Dit het behels dat die VSA, Sowjet-Unie, Frankryk en Engeland Wenen beheer het in die sogenaamde "Four-Power Vienna". 

(Vienna - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 18 Julie 2016). 

Die klimaat is sub-tropies; so tussen 22 grade en meer tans.

Vandag na ’n busrit, draai ek my rug op die stad om asem te skep.

Dis soos wanneer ’n mens ’n uitgebreide maal aandurf. Jy moet rus tussen die voorgereg, hoofgereg en nagereg.

Ons is nog net by die voorgereg in die stad.

Nog net geproe-proe.

Dus ’n dag van sleepvoet. In skoolterme: ek het vandag stokkies gedraai! Net ’n klein busroete meegemaak en bietjie gestap verby die universiteit.

More is ’n lang dag.

Ek kyk na die plattegrond.

Na links die Dieretuin, na regs die Donou waarop ek more gaan vaar.

Die Natuur- en Kunsmuseum is ’n enorme baken. Nes die Prater of die Groot Wiel waarvandaan jy die stad kan bespeid.

Die Belvedere Paleis. MUSA-museum.

Een van die bakens naby my hotel is die Votivkirche. En die universiteit.

Van ver kan ek die kerk se toring sien. Dit is ’n neo-Gotiese kerk geleë op die Ringstrasse. In 1853 was daar ’n aanslag op die lewe van Keiser Franz Joseph. En omdat sy lewe gered is, het sy broer Ferdinand Maximillian geld ingesamel om God te dank omdat sy broer se lewe gered is. Vandag stap hier mense met honde rond en die kerk word tans aan die voorkant gerestoureer.


Tydens die Tweede Wêreldoorlog is van die vensters beskadig.

Ek kyk na die ongelooflike argitektuur en na die sogenaamde "flying buttresses". Watter enorme geduld en harde werk het nie gekos om so ’n gebou van sandsteen te konstrueer en te bou nie?

Die kerk het twee klone: een in Speyer en een in Oostende.

Tydens slopende tye het hierdie kerk vertroosting gebied aan soldate. En vir moderne reisigers.

Dag 5

Nou begin die reis inskop. Na drie dae, so vertel dokters, verander jou metabolisme. Ek besluit: vandag gaan ons op die blou Donou vaar wat (sover ek weet) eintlik bruin is.

’n Laat-ontbyt met organiese koffie. Dan vertrek ons op ’n bustoer deur die stad. "All is an illusion" staan daar op ’n venster. Dit kaats terug na Lumen ’n paar aande terug ...

Hundertwasser museum

Ons ry deur die stad en ek begin  al sekere bakens herken. Daar is die Hundertwasser museum, ’n kunstenaar beroemd vir sy uitspraak dat hy bome liewer het as mense.

Ons sou kon raai hy was ’n misantroop.

Die Joodse area wat tydens die Kristallnacht vernietig is, spook by my. Hoe moes dit nie gevoel het om Joods hier te wees nie?

Fred Astaire moes sy naam verander; soos Heddy Lamarr.

Ons ry verby die Groot Wiel wat in 1897 voltooi is. Daar naby staan ’n Riesenrad bar waar mense nadink oor die tarot en die Wiel van Geluk wat hulle afgegooi het.

Vele bakens flits verby: Beethoven se huis, Dvorak se plek, unsw.

Dan tot in Grinzing waar ons nou die aand heurigen Wein gedrink: jonk, maar lekker. Of, klein maar getrein.

In Grinzing staan Nicky Lauda se huise en daar is selfs ’n monument vir Lady Di. Ook ’n park vir meditasie.

Die bootvaart is aangenaam, maar ietwat van ’n teleurstelling. My voorstellings van die Donou was anders ...

Ons weet mos hoe die Burgemeester van Wenen op sy dag ’n watertjie uit die Donou moes drink om te wys hoe skoon dit is. Dit was op televisie gebeeldsend, maar die urban legend loop dat hy eintlik met ’n glas konjak in die hand gestaan het.

Na die bootvaart verby is, vra ek die gids: waar is die bus om terug te keer na die hotel.

Daar is geen bus nie.

Ek staan in die middel van die stad. Ek besluit om ’n trem te neem terug hotel toe en danksy al die busritte, weet ek watter kant toe om te beweeg.

Neem nommer 1, verduidelik ’n man.

Nou is ek op die trem. Maar helaas. Jy kan geen kaartjie koop op die trem nie.

Ek weet in watter sop jy kan beland as jy nie ’n kaartjie het nie. Ek spring by die volgende stop af en weer help ’n Samaritaan my om ’n kaartjie te koop teen 2 euro's. Ek herken die bakens. Die trem tol vinnig om draaie.

Daar is die universiteit en ja die Kerk. Met sy gargoyles - om die bose af te weer.

Gargoyles. Besoek 20 Julie 2016). 

Ek gesels met ’n jongeling. "Wat noem julle dit hier?"

"Demone. Om die bose af te weer."

Inderdaad. Hy ken nie die woord gargoyle nie; van die Frans gargouille, wat letterlik keel beteken. Miskien omdat daar soveel dinge is wat ons deesdae aan die keel gryp. More begin my kongres. Ek begin al van die kongresgangers herken. Daardie een laas in Parys gesien; daardie een Rio de Janeiro.

Orals hoor jy dieselfde gesprekke: die onrus wat regoor die wêreld aan die broei is.



 © Joan Hambidge