Reeva Steenkamp & Oscar Pistorius, fatale ontmoeting
Foto's van 'n
huilende en selfs opgooiende Oscar. Beeld het ook TV-analises gemaak en met
regsgeleerdes gepraat oor elke dag se aflewering.
Na die uitspraak - waar dolus eventualis deur elke leek bespreek en gekritiseer is - het die appèl-saak gevolg.
Nou is ons by
die verhoor met moord en nie meer strafbare manslag nie. Nog 'n hoofstuk waarin
ons nogmaals geskok word.
Hierdie keer
met Oscar wat op sy stompies moet loop om sy weerloosheid te bewys (op versoek
van Adv Barrie Roux) en Reeva se lyk wat vir die wêreld gewys moet word (op
versoek van Adv Gerrie Nel).
Dat
laasgenoemde met die toestemming van die ouers gedoen word, vind hierdie
kommentator skokkend. Ons dink aan die onlangse verlede waar ouers geprotesteer
het oor die lyk van 'n kind op die voorblad, omdat dit teen die Joodse geloof
indruis (in die Goldin/Bloom-saak) en ouers wat Carte Blanche by die persraad
aangegee het oor die onregmatige publikasie, juis omdat hulle die hof verlaat
het toe dit gewys is (in die Inge Lotz-saak).
Nou is daar
media-besluite oor of Reeva se foto's gebruik mag word. Vir my gaan dit nie om
die konsep van die gesinskoerant nie. Jong kinders het waarskynlik alreeds haar
foto op die internet raakgeboor, wetend hoe bedrewe hulle is met hierdie
ekstensie van ons bestaan.
Dead Marilyn, by Marlene Dumas
Dit gaan
eerder om respek vir die afgestorwene. Daar is in hierdie wêreld ook foto's van
Marilyn Monroe beskibaar op die internet en ja, digters het ook al hieroor
geskryf en Marlene Dumas het 'n skildery hiervan gemaak. Maar die verskil
tussen 'n gedig oor iemand en 'n brutale, realiteitsfoto is hemelsbreed.
Is dit twee
regsgeleerdes wat nou alles in hul vermoë doen om hul kliënt te verdedig? Die
een wat 'n familie se verlies wil vergeld; die ander wat Oscar Pistorius uit
die tronk wil hou en pleit vir korrektiewe toesig?
Gert Coetzee,
redakteur van Beeld se Vrystaatse susterkoerant, Volksblad, sê “ja vir Oscar se
stompies, maar nee vir Reeva se lyk".
In 1957 het
Roland Barthes in Mythologies (Jonathan Cape, 1972) die volgende woorde
geskryf:"What I claim is to live to the full the contradiction of my time,
which may well make sarcasm the condition of truth" (12).
Hy verwys ook
na die ideologiese misgrype van koerante wat in sy tyd nie die epiese afmetings
van die moderne media enigsins kon verdiskonteer of voorspel nie.
In ons tyd met
die internet en Facebook is die grense só verskuif dat die kyker/leser
telkemale verbyster staan voor nog 'n krisis/hofsaak. In die beroemde essay oor
stoei verwys Barthes na die "spectacle of excess" (15) en dit is hoe
'n mens die jongste aflewering van ons eie The
bold and the beautiful moet interpreteer. 'n Samesnoering van Griekse
drama, bulgeveg en spektakel.
Maar mites
leeggemaak van hul oorspronklike inhoude of geloof soos Steiner klinkend
argumenteer in sy studie (37)
*
Kon jy weet
daardie laaste
keer
by die hekke
van die Silwer Huis
en Rooi
Badkamer
'n
sekuriteitsbeampte
sou Heilige
Petrus vir jou speel?
Was daar 'n
geel gloed óm
jou gehul,
soos Jung beweer,
wanneer ons
wetend-onwetend dié oorgang
in volledige
eensaamheid, dus solo, maak?
Sou jy kon
raai dat die beroemdheid
waarna jy smag
jou 'n ereplek sou gee
in die galery
langs JFK en Marilyn Monroe?
Jou oë gesluit
soos Marilyn s'n
in die
Brentwood-lykshuis in Los Angeles;
jou kop
oopgeklief nes Jack s'n.
Kon jy dink
realiteitstv was net 'n voorspel
tot 'n hofsaak
met jou as die aanwesige-Afwesige?
Foto's geneem,
selfs uit 'n lykshuis geskaai,
verkoop,
vervleg, verpand, versend
met opgeswelde
oë asof jy jou verweer
teen die
ongerymde, die vervorming;
ja, selfs teen
hierdie gedig,
'n vérdere
openbare skending.
*
George Steiner
had gelyk
in The Death of Tragedy
hoé onmoontlik
dit blyk
te wees om ná
Nietzsche
te praat van
iets soos tragedie.
The Blade Runner
word The Blade Gunner:
in ’n wenkslag
begryp
ons “he could
turn on a tickey”.
Soos ’n koeël
uit ’n geweer,
’n moderne
Achilles,
met voete van
plastiek.
Hubris?
Hamartia?
Straf die gode
die ongehoorsames?
Of moet ons
volstaan
soos Pier
Paolo Pasolini
in sy film oor
Oedipus Rex:
in ons
verwonding lê
ons krag
én ondergang?
© Joan
Hambidge