1. Waarom het jy besluit
om jouself vierkiesbaar vir die raad te stel?
Ek is ‘n oud-Matie (dus alumna, vroulik!) van
Stellenbosch. Ek is ‘n professor aan die UK en beleef as lid van die Skool vir
Tale hoe tale al hoe meer uitgerangeer geraak het die afgelope dekade. Ons
beleef tans ‘n vloedgolf van anti-intellektualisme wêreldwyd. Facebook en
sosiale media het aan almal stem gegee en die demokratisering van Jan en
Alleman se mening is die konsekwensie van die postmodernisme. My mening is
gelyk aan joune. Wat uiteraard nie so is nie. Wat taalsake betref, moet
taalbeplaning en –politiek oorgelaat word aan kundiges en nie aan bestuurslui
wat universiteite as semi-besighede (probeer) bestuur nie. Universiteite
behoort akademiese en intellektuele ruimtes te wees. Die sogenaamde
hutsmerk-generasie is die kollektief van opstand. ‘n Woede wat ons terugneem na
die 1968 met die studente-opstande in Parys. Tans is owerhede bang vir
studenteonlus en hierdie subliminale vrese het dikwels krisisbesluitneming tot
gevolg. John Searle se The campus war
lees ‘n mens asof alles nou, sopas gebeur het.
Universiteit – nie mono nie!
2. Is daar spesifieke
doelwitte wat jy hoop om by die raad te bereik?
Bepaald. Ten minste ‘n gelyke kans vir Afrikaans en
Engels. Sowel Afrikaans as Engelse onderrig. Nicol Stassen (van
Protea-boekwinkel) het nou onlangs op Facebook daarop gewys dat studente aan
die UP steeds Afrikaanse handboeke koop. So is die gedagte dat studente Engels
verkies met vraelyste getoets? Of is dit bloot persepsies en aannames?
3. Wat beskou jy as die
US-raad se grootste uitdagings?
Om kongruent en eerlik te wees.
Die dubbelpratery (of dan die ervaring daarvan in die
Afrikaanse pers ) moet beter bestuur en geartikuleer word.
4. Wat verwag jy gaan
jou grootste uitdaging as raadslid wees?
Om samewerking te gee tussen die verskillende partye. Op
komitees moet ‘n mens altyd luister – goed luister – na wat jou opponent sê.
Dit help dikwels om jou standpunt te verander. As Afrikaanse skrywer behoort ek
tot ‘n minderheidsgroep, ook weens my genderidentiteit; so ek weet hoe om die
standpunt van die minderheid te verwoord. En dit is in hierdie geval:
Afrikaans, soos 2000 ander klein tale op die kontinent, word gepraat deur mense
van alle skakeringe en oortuigings. Met een groot verskil: Afrikaans, soos
Hebreeus, onder andere, het ontwikkel binne ‘n kort bestek tot wetenskapstaal.
Kyk onder meer na die digter Olga Kirsch wie se Afrikaanse gedigte sterker as
haar Engelse verse is.
Hoekom moet ‘n taal wat hier ontstaan het – en gegroei
het met Bybelvertalings, verseboeke, woordeboeke, stylhandleidings,
uitgewershuise, koerante, die internet en wat nog – trustaan vir ‘n
patois-Engels of selfs taxi-Engels? As Afrikaans dui op uitsluiting, hoor ek
bepaald iets anders in die Wes-Kaap en selfs aan die UK wat ‘n Engels-medium
universiteit is.
5. Jy betree die US-raad
aan die begin van wat sekere raadslede die begin van die taalstryd noem. Gaan
jy saam veg vir Afrikaans se saak by die US?
My standpunt oor die toekoms van Afrikaans is bekend.
Afrikaans as spreektaal is veilig. ‘n Mens moet egter die hoër funksies van ‘n
taal beskerm. As voormalige Direkteur aan die Skool vir Tale het ek álle tale
beskerm, want inheemse en vreemde tale is verbind aan mekaar. Afrika-tale – so
sal linguiste uitwys – kan leer by Afrikaans. Ons is al oor die twintig jaar in
‘n demokrasie en dit is pynlik dat ons regering nie juis iets gedoen het vir
die ontwikkeling van Afrika-tale nie. Ek moes egter toekyk hoe Latyn (en
Afrikaans!) afgeskaf is by die opleiding van regstudente. Aan die UK het ons ‘n
kursus ontwikkel (“Becoming a Doctor”) waarin die jong dokter sowel Xhosa as
Afrikaans leer sodat hy sy pasiënt se kwaal reg kan interpreteer. Vra advokate
wat gebeur wanneer iemand nie in sy moedertaal kan getuig nie! En hierdie
kursus is al langer as tien jaar met ons.
Hoekom moet ons in ‘n land waar diversiteit ‘n modefrase
geword het in ‘n eentalige land leef. Met Engels, wat terloops, op sekere
plekke op aarde nie gepraat word nie. Reis na Chili en Engels is in sekere
areas niks werd nie. In Brasilië word kolleges begin vir klein dialekte …
Hoekom ‘n taaluitwis wat archi-ideologies benader moet
word, aldus Slavoj Žiżek?
6. Die vroue akademici
en -studente by die US het die afgelope tyd hul stem dik gemaak sekere
kwessies. Wat dink jy is vroue by die US se grootste uitdaging? Is daar
spesifieke kwessies wat jy hoop aangespreek sal word tydens jou termyn?
Ek is ‘n genderteoretikus. Uiteraard is genderkwessies
iets waaroor ek my dikwels uitlaat. Ek dink ons moet versigtig wees om te praat
van ‘n “verkragtingskultuur” aan die US. Dit ontneem vroue van hul agentskap.
7. Is die
verteenwoordiging van vroue se belange by die US-raad vir jou belangrik?
As genderteoretikus is die belange van álle
minderheidsgroepe vir my van belang: gay, transgender, vroue, mense wat wil
Afrikaans praat en vertel word dit is nie polities-korrek nie, ensomeer.