David Cornwell
– Like it matters. Umuzi, 2016. ISBN
978 1 41520 160 2
Resensent: Joan Hambidge
“I knew a guy
once who tried to keep me sober by teaching me some Buddhist stuff, and he used
to say when your mind’s got drugs in, it is like being stuck to flypaper in a
room with a beautiful floor ..”
‘n Beter
begeleidende shout of blakerteks sou ‘n mens kwalik kon uitdink. David Cornwell
is ‘n skrywer en musikant (hy is lid van KRAAL) en Like it matters is sy debuutroman. So kort op die hakke van die
wonderbaarlike Huilboek van Ryk
Hattingh wat sopas by Human & Rousseau verskyn het en Wasted van Mark Winkler wat verlede jaar by Kwela uitgekom het.
Aldrie hierdie
uitstekende tekste stel die leser voor aan die “naked I” wat sonder skroom van
sy ellendes en verlede weergee. By elkeen is daar alkohol of dwelms aanwesig.
En telkens ‘n opstand teen die verdrukkende patriargale samelewing waarin die
komplekse, outsider-figuur sukkel om sin te maak van sy lewe.
Die verskoppeling
verskaf ook vir die leser werke wat hy gedoen het: waiter, kroegman, die afvee
van doudruppels op tweedehandse motors, o.a. om te verduidelik dat hy
uitgelewer is aan 'n onbestendige bestaan (62).
Daar is Edward
Hopper coasters (94) wat 'n kode is vir die lees van die roman. Hiermee wil die
verteller (eintlik die skrywer) die troostelose bestaan beklemtoon.
Hopper (1982 – 1967) word beskou as een van die grootste realistiese
skilders van die twintigste eeu. Sy bekende leë landskappe en stadstonele aktiveer
enorme eensaamheid. Op die tafel sien die verteller ook die volgende opjekte: “an
evil eye, a quill and a mostly empty bottle of purple ink, a jaw harp, some
tarot cards, a small statue of some kind of tree done in iron and wire and
precious stones”.
Watter
kaarte?, wonder die leser.
Uiteraard waag
‘n mens ‘n raaiskoot: die gehangde man, die towenaar, en Die wiel van
geluk …
Bladsy 251
wil-wil antwoorde verskaf vir die nuuskierige, strukturalistiese leser.
Die geroeste
sleutel waarmee hy ‘n deur probeer oopmaak, is ‘n verdere belangrike kode vir
die lees van hierdie roman.
Die beskrywing
van die verloederde Muizenberg en ‘n ou Monza is vinjette wat hierdie leser
nooit sal kan vergeet nie. Hierdie skrywer se oog vir détail is waarskynlik sy
sterkste punt. ‘n Kar se spoilers lyk soos die vlerke van ‘n vlermuis!
Die gebruik
van Afrikaanse woorde in die vertelling maak die belydenis uiters outentiek.
Die d-, f- en
p-woorde is hier. Ook blasfemiese taal. Want dit is hoe sulke mense immers
praat.
David Cornwell
Ons beleef soms
die bewussynstroom van die paranoïese, angstige verteller wat selfs nie weet
watter sportsoort in 2010 die Wêreldbeker gekry het nie. Hy is te hoog, man. En
die vertelling boots sy bewussyn na deur soms nie punte aan die einde van sinne
te plaas nie.
Die effek van
verskillende verslawings word goed verduidelik; cocktail-dronk teenoor die
gebruik van khat of die rook van ‘n joint.
Dit is ‘n goed
gekonstrueerde roman wat met stilisties uitstekend is. Die toets vir ‘n goeie
roman: jy kan dit op enige plek oopslaan en bewonder vir die taalgebruik. Dis
die storie van Ed en Charlotte wat uitgelewer is aan ‘n wêreld wat onder hulle
uitspiraal; nee eerder uitbliksem.
Vir hulle is
die lewe nie ‘n karnival nie en soos Kierkegaard onse Ed waarsku via ‘n boek:
as jy te veel fokus op die lewe se verval, gaan jy bepaald seerkry. Hier
beteken verval “drug lords” en betrokke raak by “shady deals”.
Die pers en
selfone word uitstekend ingespan om die storie vooruit te laat loop.
Dubbelpratery word deur die selfoon verraai en die Cape Times en Argus is
die koelbloedige optekenaars van die einde waarop alles afgestuur het. (My lips
are sealed.)
En die
vertelling is vol poëtiese wendinge (die see lyk soos “crushed velvet”) en
tussen die pynlike onthullings van ‘n karakter wat “f- dik gerook is”, is die
leser deurgaans bewus van ‘n fyn struktuur en knap stilistiese beheer.
Rehab, ou
geboue, mense wat onwetend betrokke raak by ‘n kultus wat ‘n “snuff porn ring”
blyk te wees, is verdere troebel motiewe.
Die ellendes
van nou gaan terug na ‘n pynlike jeug. Maar daar is ten slotte redding …
Fear and
loathing in Muizenberg.
Die roman is
besonder mooi uitgegee (in hardeband) met ‘n treffende voorblad deur Gretchen
van der Byl.
(Hierdie
resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)