Andrei Tarkofski se films kan ‘n mens telkemale herbesoek. Die bekende dokumentêr oor sy lewe waarin sy weduwee onder andere praat oor sy werk. Daar is die bekende toneel waar ‘n huis afgebrand word in verfilming, maar ongelukkig het die kamera gebreek en die brandende huis is nie op film vasgelê nie. Die hele huis moes weer gebou word om hierdie vinjet vas te vang.
Dit bewys hoe
gedrewe Tarkofski was. Van hom het Ingmar Bergman gesê: Tarkovsky for me is
the greatest (director), the one who invented a new language, true to the
nature of film, as it captures life as a reflection, life as a dream." ( Andrei Tarkovsky - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 8 Junie 2016)
In hierdie
dokumentêr bely hy ook: my films is ek; ek is my films.
Ook hoe hy
drome gebruik as inspirasie, word beklemtoon.
Die films van
Tarkofski is stadig-bewegende kunswerke waar elke skoot betekenis dra soos die
films van Bela Tarr. (WOORDE WAT WEEG/ Camera Lucida)
In sy rolprent
Nostalgia (1983), wat as 'n klassiek beskou word, vertel die verhaal van
die Russiese skrywer Andrei Gorchakof wat na Italië reis om navorsing te doen
oor die lewe van die agtiende-eeuse Russiese komponis, Pavel Sosnovsky, wat met
sy terugkeer na Rusland selfdood gepleeg het. Die film begin in die Toskaanse
landskap en sy tolk, Eugenia wil die klooster besoek om na die freskoes te kyk
van Piero della Francesca. Andrei besluit op die laaste oomblik om nie binne te
gaan nie. Hiermee word die religieuse spanning ingebou wanneer Andrei later in
die film Domenico ontmoet, vertolk deur Erland Josephson, een van Bergman se
gunsteling-akteurs. Domenico is bekend daarvoor dat hy deur
die mineraalbron kan stap met 'n kers om die wêreld tot ander insigte te
bring.
Wanneer Andrei
die eerste keer praat met die "mal" Domenico ry hy fiets - maar 'n
fiets wat stilstaan en nêrens heen beweeg nie ... ('n Simbool om vasgevang te
wees in jou eie psigiese ellende?)
In die kerk
vertel die ab vir Eugenia dat sy voor die Madonna moet kniel en dat die rol van
die vrou selfopoffering behels, omdat haar belangrikste rol is om kinders te
hê. (Sy lyk soos die freskoes van die Madonna.)
In 'n gesprek
lees Eugenia die gedigte van Tarkofski en wanneer die man, die skrywer Andrei
vra of dit in Russies is, antwoord sy nee. Hy voel sy moet die boek weggooi,
omdat gedigte onvertaalbaar is ...
In 'n droom
word Andrei (soos) Domenico, wat glo as hy met die kers deur die poel of bron
kan stap, sal hy die wêreld van ondergang kan red. Domenico, die buitestaander,
was opgesluit in 'n gestig nadat hy sy familie vir sewejaar lank toegesluit het
om hulle teen die wêreld te beskerm. Die polisie het hulle egter bevry. (Dit
word met terugflitste in bruin skote vertel.)
Andrei wil
terugkeer na Rusland en sy navorsing in Italië beeïndig. Eugenia het inmiddels
terugkeer na haar geliefde en sake tussen haar en Andrei is kompleks en
onopgelos. (Wanneer sy in aanbidding voor sy kamer buig, gly en val sy! 'n
Parodie van dit wat die ab versoek het.)
In 'n
droomsekwens - Tarkofski se sterkste punt in sy films om droom en werklikheid
saam te vleg - word hy Domenico; Eugenia en die Madonna word ook een in sy
droom.
Eugenia
ontmoet Domenico later in Rome en herinner Andrei aan die belofte om deur die
poel te stap. Die poel het egter opgedroog, maar Andrei stap daardeur. Wanneer
hy uiteindelik daarin slaag om met die brandende kers deur die poel te stap, lê
hy langs 'n brandende boek ...
Hy praat met
'n jong kind, Angela ('n engel). Is sy werklik of het die standbeeld lewendig
geword?
Voor dit, word
daar uit gedigte aangehaal. Uiteindelik die opmerking: postuum is dit net die
woord wat bly ...
Domenico se
stem wat draal oor alles word ook die stem van God.
Gejukstaponeer
teenoor Andrei wat deur die poel stap met 'n kers, is daar Domenico wat hom
self aan die brand steek om die mensdom tot insig te bring. Dit neem die vorm
aan van 'n politieke byeenkoms in Rome met Beethoven wat speel op 'n
kassetopnemer (onthou dit is 1983) met skewe klanke ...
(Nostalghia - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 12 Junie 2016)
Godsdiens teen
ongeloof; droom teen werklikheid; feminisme teenoor onderdanigheid; vertaling
teenoor oorspronklikheid; vryheid teenoor politieke gebondenheid, word op 'n
komplekse wyse in hierdie magistrale film saamgesnoer.
Met Beethoven
se Negende simfonie en Verdi se Requiem as begeleidende musiek
...
Miskien is
alle kuns onvertaalbaar en onbegryplik, suggereer hierdie film.
En die titel
verwys na die huisbediende in Milaan wat 'n huis afgebrand het waar sy gewerk
het sodat sy nooit weer kon terugkeer nie ...
Faith in
Russies is viera ...
Tarkofski
ondersoek sy films verskillende belewenisse van syn: waansin, droom, apatie,
kunstenaarskap in 'n besondere boeiende filmiese taal. Met konsentrasie op elke
oomblik. Stadig. Vir weer-kyk.
Die lewe as 'n
droom.
Ons kyk
volgende keer na Stalker en Solaris.
© Joan
Hambidge