Muhammad Ali,
wêreldkampioen
driemalig,
glo meer
binnegoed as bek,
het
ge-Rumble-in-the-Jungle,
ge-Thrilla-in-Manila;
selfs buite
die kryt óm
geveg, baklei,
geboks
vir vryheid
van spraak.
"No
Vietcong ever called
me a
Nigger", byt hy terug.
Gestroop van
titel en eer;
selfs
bokslisensie op
vyf-en-twintig
verloor
toe hy Viëtnam
kets.
Driejaar lank
die kryt belet:
hierdie god
van die harpuis.
Met tronkstraf
opgeskort bly
hy "float
like a butterfly,
sting like a
bee"
teen
swartlyste in:
dié
vrypostige, allemin-
tige,
vreeslose Louisville Lip.
Totdat 'n
groter,
venyniger
opponent
as Foreman,
Frazier,
Liston of
Norton
hom ont-
troon, planke
toe stuur:
Parkinson,
'n
skadu-bokser,
se kris-kruis:
een-twee-drie …
een-twee-drie …
© Joan Hambidge