I
Stalker (gebaseer op die roman Roadside Picnic)
is gemaak in 1979 en word getipeer as psigologiese drama, ofskoon dit ook
science fiction is. Žižek gee hoog op oor hierdie film in The pervert's
guide to the cinema. Dit word in Brittanje as een van die beste 50
rolprente nóg beskou.
Dit is ’n baie
morbiede rolprent met ’n sepia filmtekstuur; ’n tegniek wat Tarkofski veral
aanwend in droom-sekwensie in sy ander films. Later word dit helderder, maar
dan word die film weer grinterig en grys.
Dit handel oor
’n sogenaamde ekspedisie van die “Stalker” wat twee kliënte saamneem, te wete ’n
melankoliese, uitgebrande skrywer wat wens hy kan weer geïnspireer raak en ’n
professor wat ’n wetenskaplike ontdekking wil maak. Hulle word na die “Zone”
geneem, ’n plek waar alle begeertes vervul kan word. Dit word ’n reis vol
konflik en teenstand en die kyker dink aan bekende ekspedisies (soos Everest)
met die vanselfsprekende ingeboude gevare. Ook die ruimte is onseker: hulle
roete kan net aangevoel word; maar nie gesien word nie. Weer eens dink die
kyker aan bergekspedisies wat dramaties verkeerd kan loop.
Hierdie film
speel in die toekoms af, waar geen werklikheidsreëls meer geld nie.
Die “Zone” is ’n
plek wat jy kan besoek om jou begeertes te vervul. Maar om dit te bereik, moet
daar ’n gevaarlike sone oorgesteek word.
Die Skrywer
hoop om weer geïnspireer te word, terwyl die Professor hoop om die Nobelprys te
verower.
Die skadu van
Porcupine wat homself in die sone gehang het, omdat hy dit alles vir geld gedoen het
in plaas van om die die ware soektog na innerlike geluk te probeer vind, is
belangrik vir die lees van die film. Porcupine het sy broer na sy dood gelei.
Daar word deur
tonnels gewaad en Tarkofski se film kan psigoanalities benader word. Alleenlik
wanneer jy jou skadukant konfronteer, kan jy tot selfinsig kom. En as jy jou
lewensreis verkeerd aanpak of afdwaal van wat jy behoort te doen, kan dit
tragiese gevolge hê. Die film werk met die spanning tussen die Bose en
die Goeie. In ’n stadium dra ’n karakter ’n doringkroon soos Jesus Christus.
Daar is toespelings op oorlog en die Professor dra ’n kernbom met hom
saam. Hy wil die kamer vernietig, omdat hy vrees bose magte mag dit oorneem. Hy
gooi dit weg en ’n vis swem oor die toestel.
Die drie
figure veg voortdurend met mekaar; ten slotte loop dit uit op fisieke geweld.
Maar niemand wen nie.
Hulle keer terug
na die beginpunt waar Stalker sy vrou en dogter ontmoet. Die slot is
onheilspellend. Die vrou wil ook die sone besoek, maar hy weier om haar te
neem.
Die vrou lewer
’n monoloog oor haar verhouding met die man wat onseker is oor sy lot. Sy dink
haar verhouding met hom hou meer positiewe as negatiewe gevolge in. ’n Siniese
monoloog gegee die onsekerhede van alles om hul.
Die kind is
Monkey en sy dra ’n gedig voor van Fyodor Tyutchef.
Een glas val
van die tafel af sonder om te breek.
’n Trein wat
verbygaan laat die hele vertrek bewe.
II
Boris en Arkady Strugatsky het Tarkofski so
meegesleur dat hy dit moes verfilm. Die produksie was egter in ellende gedompel
omdat die film wat op Kodak geskiet is nie ontwikkel kon word nie. Hieroor
praat Aleksandr Knyazhinsky openlik in ’n dokumentêr
oor die film. Hierom is die film in twee dele gemaak. Die tweede een is die
nuwe een gemaak deur ’n erg ontstelde Tarkofski. Boonop het verskeie ellendes
die rolprentgeselskap geteister tydens die vervaardiging asof die produksie beheks was.
Vladimir
Sharun onthou:
We were shooting near Tallinn in the area around the small river Jägala
with a half-functioning hydroelectric station. Up the river was a chemical
plant and it poured out poisonous liquids downstream. There is even this shot
in Stalker: snow falling in the summer and white foam floating down the river.
In fact it was some horrible poison. Many women in our crew got allergic
reactions on their faces. Tarkovsky died from cancer of the right bronchial
tube. And Tolya Solonitsyn too. That it was all connected to the location
shooting for Stalker became clear to me when Larisa Tarkovskaya died from the same illness in Paris.
Dis ’n film
wat ’n mens onrustig maak. Miskien is die Skrywer en Professor en Stalker een
persoon wie se verskillende dimensies na vore kom?
Met elke
herbesoek vind ’n mens ’n ander dimensie. Dis ’n stadig-bewegende, dog
briljante film. Lacan se Verbeelde, Simboliese en Reële dimensies word hier
losgetorring. Geen wonder Žižek vind dit so goed nie.
© Joan Hambidge