Adam, Rosalie & Joan op Franschhoek
Adam Small het gereeld met my gekorrespondeer; elke e-pos afgesluit met “alles van die mooiste”. Sowel sy digkuns as dramas kan as bakens beskou word. Die onoortroffe Kanna hy kô hystoe (1965) en sy bundel Kitaar my kruis (1962) met sy wonderlike praatverse is tekste waarheen ek altyd terugkeer. Sy eiesoortige Kaaps het ’n stem gegee aan sý mense in ’n tyd toe witheid en manlike oorheersing alles bepaal het in Afrikaans. D.J. Opperman het hom raakgesien en gekanoniseer.
Sy liefde vir
N. P. van Wyk Louw is alombekend. Hy het Louw in Engels vertaal (Oh wide and sad land wat in 1975 verskyn
het.)
By ’n Franschhoek-skrywersbyeenkoms,
’n tyd terug, moes ek ’n gesprek met hom voer; altyd met Rosalie langs hom. Hy
was die oggend die vieste in oor ’n verkeerde berig dat hy krities was oor die
Sestigers. Al wat die gesprek kon red was humor. “Julle hou van Klawerjas,
Adam. Ons van strip-poker.” Hy het lekker gelag en toe kon die gesprek
voortgaan met die oorwegend Engelse gehoor wat kon hoor hoe uitstekend “Kô laat
ons sing” steeds is!
Agterna het hy
in die pers bedank vir die genoeglike oggend, die ou jintelman wat hy was.
Huldeblyk vir Adam Small
In Groot Verseboek staan jy,
daardie blou
monument vir Apartheid,
beheer deur
Wit Manne
met
vrouedigters toé uitgeskuif
tot ’n blote
vroulike aanvulling,
doenig met
potte en panne
in die kombuis
of tot ’n manlike digter
se minnares
met wie hy smiddae
op die rusbank
die jambiese pan slaan.
O treurig dié
wysie op die digter se naat.
Hier is
lesbiese vroue eens afwesig
of op vlug na
Kanada en ander uithoeke
van die
aardbol. Tweederangs, stil,
terwyl ’n
gedig net-net ’n natuurbloemlesing haal
én die dieper
onheil troebel soos ’n haai
onderwaters
draal.
Jou kon hulle
nie uitrangeer na die slawekwartier
of buitekamer
nie.
Jou stem te helder,
bytend.
Jy staan vir ’n
Distrik ses in hierdie digterlike Bybel,
herinner hulle
aan “forced removals”
en die
Groepsgebiedewet.
Boonop dryf jy
die spot en hekel
met die
Heilige Orde van die Woord.
“Dis die lô,
dis die lô”,
klink dit op
in elke vers
en jy vertaal
selfs die VaderGod van die Digkuns.
Vandag onder ’n
mat
ontdek ek ’n
klein geraamte
van ’n
vlugtende gekko gemosaïek.
Naby Ingrid
Jonker en Breytenbach
nes die
rollende duisendpoot van Louis Eksteen
én die ander
stilgemaaktes, is jy immer die een
wat rats,
sonder omhaal van woorde, steeds
in Kaaps bly
skel teen mensgemaakte wette.
En ek wonder:
hoe voel jy nóú?
Of is jy soos
daardie gekko
deur al die
teenstand
tog
stilgemaak?
(Uit: Lot se vrou. 2012)
© Joan
Hambidge