Wednesday, June 8, 2016

Joan Hambidge: reaksie op M. C. Botha brief aan Die Burger [Brief]


6 Junie 2016

In sy stuk "O, die ge-oink in die moddertrog", met die sub-titel Comrades van die praatsiekes, gee MC Botha sy mening oor die taalstryd (Die Burger, 4 Junie). 'n Mens sou waarskynlik hierdie gebla-bla om te wha-wha kon ignoreer het as dit nie was dat Botha sélf 'n Afrikaanse skrywer is nie.

'n Mens kyk na die beelde wat hy gebruik: ge-oink in die moddertrog; samboktaal van die vaders; taalbulle; dodelike sweer; utopiese dokument; paranoïes; morbiede Wedloop van die Praatsiekes; meelopers; nepotisme; geween en gekners van tande ...

Boonop beweer hy dat die taal van die koloniseerders van Suid-Afrika was nie Engels nie, maar Nederlands. Watter taal het Milner gepraat?, wonder 'n mens.

Op 'n potsierlike wyse stel hy die huidige stryd gelyk aan die Bittereinders in die ABO.

'n Mens sou vir Botha wou antwoord: geniet die oorlog, want die vrede gaan erger wees; maar dít daargelaat. Sy opmerking dat Afrikaans sy plek in die samelewing sal behou ten spyte van die taalstryders; nie as gevolg van hulle nie, is onbewysbaar. En hy wat so te velde trek teen statistieke (en selfs 'n Unesco-dokument aanhaal om sy argumente te staaf), net dit: as daar nie mense is wat standpunt inneem teen korrupsie en die minagting van reëls en regulasies aan universiteite nie, sou ons net sowel boedel kon oorgee.

Dat hy ewe ernstig vra waar die vroue, die gekleurdes en die jeug in hierdie debat is, dui op verdere onkunde.  Ek wonder wié het standpunt ingeneem teen die minagting van die raadsbesluite aan sowel die US as die UP en hof toe gegaan?

Lees ons 'n stekie na Jan Rabie wanneer MC Botha skryf: "Sonder Afrikaans was apartheid niks ..."?

Ek wonder wie kom hier eintlik in die opstand teen die samboktaal van die vaders? Is hy dan nie familie van die voormalige Minister van "Bantoe-onderwys" nie?

'n Duisend vermorste woorde wat sy eie oedipale stryd openbaar. Miskien moet hy Orwell se Animal farm weer lees.


© Joan Hambidge, Kaapstad