Sunday, February 10, 2013

Wilma Stockenström - Die stomme aarde (2007)



Wilma Stockenström. Die stomme aarde. ’n Keur. Human & Rousseau, 2007. ISBN 9780798147484.

Resensent: Joan Hambidge

“Ek maak maar ‘n gedig wat drup-
drup van bewondering, ses keer”

1.

Wanneer ‘n mens die resepsie van die Afrikaanse digkuns noukeurig deurgaan, is die naam van hierdie digteres orals aanwesig. Sy is in die tagtigerjare ‘n aanwesigheid, bykans ‘”geur van die maand”,  saam met Cloete.

Haar Monsterverse het’n hele seminaar ontlok en “Die eland” is waarskynlik die mees geanaliseerde gedig in Afrikaans – naas klassieke van DJO en VWL. En hoe resensente en literatore nie gespook om al die slimmighede in hierdie bundel te ontfutsel nie! Gesiene literatore het verskil van mekaar en daar is ‘n magdom tesisse geskryf oor monsters as ‘n monster / voorbeeld of dier wat jy vrees.

Dit is ‘n digterskap van die intellek, van metarefleksie, van ‘n dekonstruksie van die mens se eiewaan gesien teen die grootsheid van die heelal.

Sy is waarskynlik – weens haar drama-en aktrise-agtergrond – hierom ‘n voorste vertolker van haar eie verse.

Sy is bekroon met die Hertzogprys vir haar bundel Van vergetelheid en van glans in 1977 – ‘n bundel wat Koekie Ziervogel, daardie anonieme kommentator, genoem het: Van vermetelheid en van mans!

Haar tekste is in Engels, Frans, Nederlands, Duits, Italiaans en Hebreeus vertaal en hierdie bundel vra dan ook om saamgelees te word met die uitstekende vertalings van die digter Johann de Lange.

Die stomme aarde is ‘n persoonlike keur en dit is altyd openbarend om te sien  wat ‘n digter kies uit ‘n oeuvre: wat is haar persoonlike gunstelinge. Die geskiedenis van hierdie digterskap is fassinerend. Sy het indertyd Vir die bysiende leser (1970) gepubliseer by Wilhelm Grütter se toenmalige uitgewershuisie, te wete Reijger uitgewers. D.J. Opperman het van die bundel kennis geneem en die res is geskiedenis. As DJO in daardie dae goedkeuring gegee het, was jy “gemaak”.

Brink – ‘n leidende kritikus in die 80er jare – haar van die lewende, aktiewe digters in Afrikaans die grootste genoem. Louise Viljoen verwys na die monumentale plek wat sy vir haarself oopgeskryf het. En na die konkreetheid van die verse asof jy aan hulle kan vat...


II.

‘n Keur, en meer spesifiek, ‘n persoonlike keuse, is altyd  tersaaklik oor presies wat ‘n digter as “goed” in ‘n oeuvre beskou. Wanneer Ted Hughes ‘n seleksie maak van Emily Dickinson, is dit verse buite hom. Hier beskou die digter haarself: is sy outo-kritikus, -keurder, -kanoniseerder.  Die vertolkings van haar verse, wat gebruik maak van ironie en dramatiese wendinge, belig sekere aspekte van haar digkuns.  Sy word as ‘n “moeilike” digter beskou -  ten spyte van vele toeganklike /maklike verse in haar oeuvre. (Al die indrukke tot dusver word gemaak sonder dat die inleiding geraadpleeg is. Ek sal my kanttekeninge later vergelyk met Ronel Foster se opmerkings.)

“Dalk gaan niks verlore nie”- so ‘n keur bestendig ‘n digterskap en binne die nuwe boekklimaat word bundels wat uit druk uit is of dalk nou mag verkoop nie, ‘n nuwe lewe gegee. Lesers wat nie werklik bekend is met haar werk nie, word nou teruggeneem na die belangrikste gedigte en die digkuns-liefhebber vergelyk hierdie keuse met ‘n eie persoonlike seleksie. Hoeveel universiteite doseer haar nog? 

‘n Mens lees hierdie bundel met verbystering oor die ongelooflike taalvernuf: so gepraat van ou woorde en begrippe wat in onbruik geraak het: wat beteken “blasoen” en “bordesse” vir die gewone leser? Of “patogeen”, anomie”, “guds”, “mastodonties”? En die ongelooflike taalbeheer is die sterkste indruk wat hierdie bundel maak waarin die leser geneem word op ‘n afwisseling tussen woede en onthutsing; pyn en melancholie – met dikwels ‘n ongelooflike verdriet en weerloosheid wat deurslaan in die latere verse, soos in die gedig “Die komeet besoek die Kaap van verkragting” (p. 134), die slotgedig in hierdie bundel en waarskynlik ‘n soort testament van die digter waarin die geskondenheid van die nuwe-Suid-Afrika so voortreflik verwoord word. 

‘n Mens vind veral in die latere werk dat die aanvanklike intellektualisme met ‘n melancholie deurdrenk is – asof die voormalige “monsters van verse” nou ‘n oorrompelende weemoed geword het (p. 132). Hoe dan anders? In Monsterverse, o.a. is die ongeregtigheid uitgewys; nou is daar ‘n nuwe bedeling en ‘n ander monster het sig tuisgemaak.

Hierom is alles “buite belydenis en vergoeding en onmagtig” (p. 131). Talle gedigte getuig van ‘n metarefleksie en verse-oor-die-verskuns waarin die spreker verwonderd staan. In Spesmase  word verse gevind op die lig van die see....(p. 129).


III.

Kodes en temas in die hierdie digkuns:

Die mees opvallende en bykans refeinagtige aspek is die mens se nietigheid binne die kosmos; die mens is ‘n toevallige (melancholiese) oomblik met klippe, rotse, Tafelberg, die natuur wat onversteurd bly voortbestaan. Die aarde gee ook moelik sy geheime prys en slange, paddas,‘n hotnotsgot, lewe ten spyte van die mens se politieke of sosiale drange.
In die vroeër verse is daar satire en spotspraak oor die mens se eiewaan – in die laaste bundel, word die mens weer as weerloos en uitgelewer aan groter magte beskou. Die politieke veranderinge en klmaat word dus so geregistreer: só gelees, lewer die bundel implisiete politieke en sosiale kommentaar. In Monsterverse was dit “wit skrif”en die implisiete paranoïa wat oor alles hang; nou is dit openlike, barbaarse verkragtings, moorde, ensomeer.

‘n Digter herskryf waarskynlik altyd dieselfde temas. Ons vind hier ‘n preokkupasie met verganklikheid en in die laaste bundel is daar die vrees vir mooiskrywery – voorheen was die verse gekomponeer rondom ingewikkelde konstruksies en ‘n sterk Germanistieke aanslag.

Die “isheid” van alles word onder die loep geneem in ‘n digkuns wat afkerig staan teenoor die metafisika en die vervalsings wat ideologie en mites meebring:

Hierdie isheid van sandsteen en graniet (“Vanuit ‘n venster bekyk” uit Spesmase)

Ook taal is nie veilig nie.  Trouens, sy is “buite belydenis en vergoeding en onmagtig” (“Vrou met snoet” uit Spesmase) en  hierom in die slotvers, “Die komeet besoek die Kaap van verkragting” die volledige onmag om iets deur middel van ‘n gedig te besweer.  Hierdie bundel het teer oomblikke en die gevaar van mooiskrywery is iets waaroor die self-dekonstruerende digter bly tob. 

Daar is in hierdie poëtika altyd sprake van ‘n dubbelloop-aksie, van dig en skepties wees oor die effek van die proses. Daar is dus spotspraak èn deernis. Met ‘n pynlike bewuswees van die verganklikheid van alles. Die aanvanklik ingehoue, verintellektuele digter van o.a. Van vergetelheid en van glans en Monsterverse word in die latere bundels ‘n belydend-openbarende stem.

Die tema van verganklikheid is ‘n deurlopende binding in hierdie oeuvre. Jong mense verwoes ‘n lewe van foto’s in orgie van opruimingsgeweld  – ‘n hele lewe in’n swiepslag verwoes. Dieselfde geld die mens en sy artefakte – uitgelewer aan groter magte. Ronel Foster maak tereg ‘n verwysing na die “raaiselagtige boodskappe” en dat die verse soms bruusk en brutaal opklink. Maar dat dit ‘n verbysterende sublimiteit geteig (p. 15). Ek wil dit tipeer as ‘n digkuns van die primordialiteit wat die metafisika op sy kop keer.

  
IV.

Daar is verruklike verse in hierdie bundel en my gunstelinge is te veel om op te noem.
Die gedigte speel op mekaar in hierdie keur en vergete verse meld sig weer aan. Ironie is waarskynlik ook een van die sterkste kenmerke van hierdie digterskap:

“Pret vir ‘n aand was die leeftyd van ‘n mens”  lui die slot van “Lêer van ‘n leeftyd”.
Skreeusnaaks is haar “Politikus” met sy “volksdit, volksdat, / volksvinger-in-die-hol, volkspêredrol”. Die leser is ‘n bysiende een ja, wat dikwels te staan kom voor ruite, afkaatsings wat weer ‘n Lacaniaanse lesing signifieer. Daar is immers ‘n spieël van water.  Die digkuns skep afstand; die spreker in die gedigte is deurgaans bewus van haar eie af-standelikheid, onthegting wat – as ons Jacques Lacan betrek – dui op die spieëlfase wanneer die “ek” sig self herken (vide o.a die Écrits.) (Dit sou ‘n hele studieveld kon wees vir ‘n jong navorser hierdie obsessie met spieëls en ruite.)

Ook die obsessie met taal en betekenis / stolling maak Lacan eweneens relevant.
Hoe verruklik bly die verse in Van vergetelheid en van glans nie! Die besef dat sy eenmaal ‘n mens was en kon deel aan die vreugdes en pyn van hierdie ‘stomme aarde’ maak van hierdei bundel steeds ‘n hoogtepunt. “Met my wysvingertop” waar daar met teerheid en geduld getrek word, spreek my steeds aan.

“Alles is eers wanneer beskryf”, lees ons op bladsy 116. So is dit, ja.

Wilma Stockenström – soos Peter Blum – het ‘n enorme bydrae gelewer tot die Afrikaanse digkuns. Hulle is nie populêr nie, omdat die persepsie bestaan dat hulle gedigte “moeilik” is.  Hierom verkoop die bundels glo nie. Hierdie keuse sal waarskynlik hierdie mite die nek inslaan. Daar is ingewikkelde verse, maar ook toeganklike gedigte. Mooi  om hul eenvoud, roerend in die menslikheid wat dit openbaar. Van ‘n sardonies-sarkastiese of skeptiese aanslag tot ‘n weemoedige refleksie oor ‘n land se verval.

Van die intellektueel-peinsende verse (soos Monsterverse) tot die laaste bundel waarin ons ‘n weerlose spreker sien: van buitespraak tot binnespraak.

En die oorwegende indruk vir hierdie leser dan, is die verbysterende tegniese beheer. Elke woord is op sy plek. Vorm en inhoud is hier in alle opsigte één.

Johann de Lange se uitmuntende vertalings sal hopelik die bundel aan ‘n groter leespubliek voorstel.

Ek doseer haar tans in my Kreatiewe Skryfwerk-klasse en die reaksie van my studente op haar werk, is uiters positief.


Bron:

Lacan, Jacques: Écrits - A Selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Tavistock, Londen. 1966/1977.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]