Monday, February 11, 2013

Studie: Die man agter die foto


Tom Hintnaus (c) Bruce Weber

I.


Die gedig “Calvin Klein” wat in Nagsweet (1991) verskyn het, is ‘n besondere boeiende gedig.  Hierdie gedig tree in gesprek met ‘n gedig in my Bitterlemoene (1986). ‘n Mens sou hierdie twee verse as ekfrastiese, oftewel beeldgedigte kon tipeer, met ander woorde, gedigte wat handel oor ‘n foto / skildery van ‘n bekende. ‘n Gedig bly uiteraard altyd ‘n interpretasie van sodanige gegewe, selfs in gevalle waar dit op ‘n werklike foto / skildery gebaseer is.

Beide hierdie gedig verikoniseer die model van Calvin Klein se onderbroek-reeks, Tom Hintnaus, wie se foto op Times Square gehang het. Die foto het ‘verdwyn’. Volgens party ‘bronne’ (of straatlegendes) is dit gesteel deur akoliete van die prag-model. Ander het weer te vertelle gehad dat die foto deur Calvin Klein verwyder is, omdat die model glo Vigs gekry het. Dit was egter nie so nie!

Tom Hintnaus, oftewel, Tomas Waldemar Hintnaus, is die seun van Tsjeggiese immigrante wat in Brasilië groot geword het en ‘n Olimpiese paalspringer. Sy ouers het na die Kommunistiese oorname in 1948 na Wes-Duitsland gevlug. Aanvanklik bly hulle eers in Brasilië en later in Kalifornië. In 1980 het hy die eerste plek behaal in die Olimpiese uitdunne vir die Moskouse Spele, wat deur die VSA geboikot is.

Weens die Olimpiese boikot het hy Brasilië vanaf 1983 verteenwoordig, omdat hy dáár gebore is.

Hy is uiteraard ook ‘n beeldskone man, soos die twee verse hierbo bewys. 

In 1979 is hy deur ‘n fotograaf van Track and Field News raakgesien wat hom ooreed het om modelwerk te doen. Hierna het hy Calvin Klein se supermodel geword en die foto waar hy rus teen ‘n suil in Santorini, het beide hierdie verse geaktiveer.


II.

Die De Lange-gedig verklaar hom tot ideaal, tot Griekse god en wys op die geskondenheid van die ikoon of god deur die blindedermmerk te beklemtoon. Die skending van skoonheid of volmaaktheid (‘n deurolopende motief in die digter se oeuvre) word hier geaktiveer Sowel sterflik as onsterflik; volmaak én geskonde. Waarom hierdie litteken nie van die foto verwyder is nie, sou ook ‘n relevante vraag wees. Wou Calvin Klein dalk die sterflikheid so signifieer?

Die Hambidge-gedig is ‘n metavers, met ander woorde, ‘n gedig wat kommentaar lewer op die ontstaan van die vers en speel met die verhouding tussen waarheid / leuen (mite / verdigsel). Indien die leser dan bewus is van die spel met die foto se mitologie, kry die gedigte nuwe betekenisse by.


Calvin Klein
vir Hannes

Volmaak en tydloos
die blok blou lug
– mediterreens blou –
die bolyf en bene
bruin teen die wit
van ‘n suil die kort-
geknipte donker hare
die skoon nek agter-
oor gekantel
die sagte onderbroek
stralend wit
die vingerpunte
ligweg op bobene
van warm marmer
opgerig hoog bo
die ronkende verkeer
van Times Square –

om die waarheid te sê:
nog meer volmaak as dit
is die fyn litteken
regs onderkant sy naeltjie
in die kwesbare nerf

: reeds daar
begin hy stadig sterf


Die Hambidge-gedig:


Gulliver
na die advertensie-foto van Calvin Klein

Klein bespotter van die dood
bykans wêreldkampioen in paalspring
bely: “I love the feeling of being up
in the air” en “Maybe I was supposed to be a bird”
sou my gedig goed pas
as die gerug oor VIGS
waar was:

                         Homme fatal
’n Goue songod seun
reus oor ’n Griekse suil
dis Santorini dié
droom toe-oog oor die soet
begeertes van ’n steeg
– ’n brandgloed van herinnering –
sorgelose seks, vinnige motors
sy penis geborge in spierwit “scants”.

Reeds in die perfekte foto
(kyk, selfs die naeltjie in ’n driehoek)
die skadu van die dood:
’n bykans verskanste blindederm-merk
versteur die orde; ’n voorspel
tot die stom slot
wanneer én foto én model verdwyn.


Vir verdere leeswerk:

This image of Brazilian Olympic pole vaulter Tom Hintnaus – while not intended to be gay or primarily appeal to gays – is a breakthrough image that lead to the acceptability of the male form in mainstream American advertising. Featuring Y-front fly briefs, it debuted in New York City's Times Square and took underwear ads – previously unsexy with Baltimore Orioles pitcher Jim Palmer – to a new level. They featured Hintnaus leaning back like a Greek adonis, emphasizing his crotch and clearly visible penis.

It was created by photographer Bruce Weber (later of Banana Republic and then Abercrombie & Fitch fame) and creative partner Sam Shahid.



2. Tom Hintnaus – Biography. Afgetrek 9 Januarie 2009.


Bibliografie:

De Lange, Johann. 1991. Nagsweet. Johannesburg: Taurus.

Hambidge, Joan. 1986. Bitterlemoene. Kaapstad: Human & Rousseau.