Monday, February 25, 2013

Vladimir Nabokof: Deel III (2006)

Vladimir Nabokov in Switzerland (Foto: Horst Tappe/Getty Images)


Vladimir Nabokof: Deel III
Joan Hambidge

Vladimir Nabokof word dikwels geassosieer net met die skokkende roman, Lolita. ‘n Boek, wat terloops, oor meer as ‘n ouer man se obsessie met ‘n nimfet hande. Dit word ‘n meedoënlose analise van Amerikaanse kultuur, ou psigiese wonde en die soeke na heling. Een van  Nabokof se belangrikste kenmerke is sy taalspel, wat onder andere in Ada tot groot hoogtes ontgin word.

Daar word vertel dat ‘n non in ‘n Nabokof-lesing te Cornell eenmaal gekla het oor die vryery van twee jong studente in die klas.

“They are spooning,” het sy teenoor die professor opgemerk.

“A, you mean forking!”, het hy teruggespeel.

Die verhaal van Dolores (Lo’) (12) en die verhouding met Humbert Humbert, ongeveer 35, vind plaas wanneer Humbert Europa verlaat en na die VSA verhuis. Hy is akademikus en en trek by Charlotte Haze in. Die obsessie met Lolita ontstaan, omdat hy as jong kind ‘n meisie aan die dood afgestaan het en hy probeer deur Lolita hierdie verlies ophef. 

Lolita/Lo/Dolly is die nimfet wat Humbert oorweldig, soveel so dat hy selfs met die moeder trou om nader aan Lolita te wees.

Die moeder ontdek egter ‘n dagboek met die versugtinge van Humbert, beoog om met haar dogter weg te gaan, maar sterf  ná ‘n konfrontasie met Humbert Humbert wanneer ‘n motor haar raakry.

HH gaan haal Lolita by die somerkamp, neem haar na ‘n motel waar hy haar verlei, en uiteindelik, na vele ontvlugtinge, bly hulle in New England waar hy voorgee om haar vader te wees.

Hulle slaan egter weer op die vlug wanneer hy vermoed dat Lolita iemand anders sien.

Hulle word agtervolg deur Quilty – in die Kubrick-film vertolk deur Peter Sellers – ‘n pedofiel en pornograaf.

Lolita slaan op vlug met Quilty en Humbert is onbewus daarvan hy sy geliefde van hom weggeneem het. Hy besluit om haar ontvoerder te vermoor. Lolita, is nou 17 en swanger en skryf om geld van Humbert te kry.

Humbert vind haar (hy is ondertussen met Rita, ‘n alkoholis getroud) en ontdek dat Lolita se man nie die ontvoerder was nie.

Humbert ontdek dat Quilty films van sy geliefde gemaak het; Lolita bely egter haar liefde vir Quilty.

Humbert vermoor ‘n waansinnige Quilty en word van moord aangekla.

In die tronk skryf hy sy memoirs, sterf tragies en verwond, terwyl Lolita sterf op Kersdag, 1952, nadat sy geboorte geskenk het aan ‘n doodgebore baba.

Die leser maak die verhaal vanuit ‘n agterna-perspektief dus mee.


Na Deel I

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger, “Kantlyn” geplaas.]