Monday, February 25, 2013

David Mitchell - Black Swan Green (2006)



David Mitchell. Black Swan Green. Sceptre, 2006. ISBN 0 340 83926 0.

Resensent: Joan Hambidge

David Mitchell is ‘n gerekende Britse outeur wat onder andere met Ghostwritten die Mail on Sunday/John Llewellyn Rhys-prys verower het. Sy number9dream het die kortlys van die gesogte Booker gehaal en Cloud Atlas was op die kortlys van die Man Booker. Dit het wel die Geoffrey Faber Memorial-prys gewen, die South Bank Letterkunde-prys en die Richard & Judy Best Read of the Year verower.

In Black Swan Green stel hy ‘n jong kind aan die woord. Ek moet bely dit is my eerste kennismaking met ‘n roman van hierdie skrywer en ek kon onmiddellik sien waarom die Britte, wat ontsettende puik romans lewer, so gaande is oor hom. Hy het daardie gawe om die leser onmiddellik te betrek by die verhaal-gegewe. Die “un-put-downable”-kwaliteit, soos dit genoem word.

Hy stel hier ‘n jong kind aan die woord, wat besondere eise aan die romanskrywer stel. En sodanige skrywer gaan altyd (waarskynlik) vergelyk word met Salinger se Catcher in the rye en Truman Capote se The grass is singing en die vertellinge van Carson McCullers, om enkele name uit te sonder.

Die verhaal van Jason Taylor, ‘n dertienjarige word verbeeld in die klein Worcestershire village, in Engeland 1982. Die Falkland-oorloë vorm die “backdrop” vir die kinders se ontdekking van hul eie identiteit en grense. Rook, daardie eerste soen, die musiek van Duran Duran, Moonraker, en ander herinneringe en kodes, wat ons “down memory lane” neem, maak van hierdie roman ‘n nostalgiese ervaring. Mevrou Thatcher se ystervuis politiek het ‘n invloed op ouer mans en jonger mans, wat sonder hul eie wil, deel word van ‘n oorlog.

Wanneer ‘n kind (of gestremde) verteller aan die woord gestel word, is daar altyd ‘n dubbel-ironie aanwesig tussen wat die ingeligte, vernugterde grootmens reeds weet en die kind al ontdekkende leer. Dit bly altyd vir enige skrywer ‘n fyn balans tussen nie te veel weggee nie en om terselfdertyd die karakter nie te slim of wysneusig te maak nie. Hierin slaag Mitchell meesal skitterend – byvoorbeeld: soos die gesprek tussen die hoofkarakter en die vrou in ‘n antiekwinkel wat ‘n gesprek word, onvermydelik of kinders werklik omgee vir hul ouers (p. 234).

Die verhaal, gesitueer in die Britse Midlande, is glo semi-outobiografies en die “coming-of-age”-verhaal is ‘n besondere boeiende sub-genre in die letterkunde is iets waarmee alle lesers kan identifiseer, omdat ons almal kinders was. Uitgelewer aan grootmense, voorskrifte, dubbelspraak en die leuens van die volwasse wêreld.

Jason se storie speel oor een jaar af. Vanaf Januarie wanneer hy sy oupa se duur Omega-horlosie per ongeluk breek en dit eindig met Kersfees, daardie huldiging, ofskoon mities, van familie-eenheid wat in hierdie roman, in stukke breek.

Boonop is Jason ‘n hakkelaar, met ‘n norse suster, bitchy ma, bebliksemde pa, speelgrond-bullies, ensomeer. En tog oorleef hy deur fantasie – in die afdeling “Bridlespath” ontdek hy ‘n tonnel wat die Romeine gegrawe het om die Vikings te uitoorlê. Dit is hier waar die krag van fantasie ontdek word – dikwels die enigste uitweg vir die sensitiewe kind wat homself as ‘n outsider ervaar.

In die area Black Swan Green waar daar geen swane is nie (p. 360).

Vir die Afrikaanse leser aktiveer hierdie titel onbewustelik Elisabeth Eybers se wonderbaarlike gedig, “Twee kleuters in die Vondelpark” en die romantiek wat aan swane gekoppel word.

Die roman bevat nota’s in handskrif om die illusie van die werklikheid te versterk. Nota’s van die vader aan die kind en skryfsels waarin hy homself verweer teen die skoolboelies.

Dit gee ‘n afwisseling tussen die kind wat sien en die ouerwordende, siniese verteller/fokalisator wat interpetreer vanuit ‘n agterna-perspektief. Die leser kan die semi-outbiografiese dimensie “aanvoel”, veral wanneer die werklike outeur se biografie betrek word; bykans soos in Jan Wolkers se roman, Terug naar Oegstgeest waar die skoolrapport agterop geplak word.

Die gevaar van so ‘n tipe roman is dat die insigte van die ouer persoon dikwels in die mond van die jong kind gelê word:

“The world never stops unmaking what the world never stops making. But who says the world has to make sense?” (p. 360). Is dit die ouer-wordende skrywer wat hier buikspreek?
Of: "The world’s a headmaster who works on your faults”(p. 367). Die jong verteller is sélf skrywer wat die ouers se verwydering van mekaar en die aftakeling van hul affeksie vir mekaar eiehands meemaak en probeer begryp.

Dit is ‘n pakkende roman, my klein vraagtekens daargelaat.

Private ontdekkings, ontnugterings (en oorwinnings) geplaas teen die groter, skuiwende werklikheid van politieke en sosiale onsekerhede.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]