Sunday, February 17, 2013

Henry James deur die oë van ander – Deel II

Henry James (c) John Singer Sargent

Henry James – The Creative Process van Harold T. McCarthy het in 1958 verskyn. Dit is ‘n fassinerende studie oor die meester wat tans deur verskeie bekende en groot skrywers in biografiese romans of gewoon net in gefiksionaliseerde romans, beskou word. Michel Heyns se The Typewriter’s Tale staan nie ‘n duit terug vir die Britse of Ierse beskouings oor James nie. Inteendeel.

Sy teks is waarskynlik sterker as Lodge se Author, Author.

In dieselfde jaar as Lodge se roman, verskyn die kragtige bydrae van Colm Tóibín.

Die eerste vraag is: het hierdie skrywers van mekaar kennis geneem? En is dit tersaaklik of nie?

Die leser kry telkens ‘n nuwe blik op die figuur Henry James: beskou vanuit die perspektief van ‘n fiksionaliserende outeur.

Selfs al is daar van mekaar se tekste kennis geneem, is dit steeds elke ervare skrywer se blikhoek op die komplekse figuur, Henry James. Lodge byvoorbeeld, wend o.a. James se tegniek van binnestroom aan, terwyl daar by Tóibín eweneens sprake is van die binnespraak.

By Lodge word die jaloerse verhouding met Oscar Wilde uitgewerk, omdat James se drama Guy Domville misluk. (Die drama is op 5 Januarie 1895 opgevoer). Vanweë sy komplekse psige en sy vrees vir intimiteit, vind hy Wilde se gedrag aanstootlik en die openbare hofsaak en verguising van Wilde se homoseksualiteit steurend. Tóbín in The Master egter skep ‘n toneel waar ‘n kortstondige aanraking met ‘n man wel moontlik sou wees. By Heyns is daar ook verwysings na die Wilde-saak in gesprekke tussen karakters.

Al wat hierdie drie romans gemeen het, is dat al drie skrywers hul enorme navorsing en kennis kreatief aanwend om meesleurende romans oor die meester, Henry James te skryf.

(In die nawoord van The Master erken die outeur dat hy kwistig Henry James-uitsprake rondgegooi het en Etienne Britz wys ook in welke mate Michiel Heyns se taal deur James beïnvloed is. Sy resensie, wat ek nie op Die Burger se webruimte kon vind nie, is goedgunstiglik aan my versend deur die boekeredakteur.)

A.N. Wilson se A Jealous Ghost aktiveer nie die lewe van James nie, maar gebruik as interteks The Turn of the Screw. Die hoofkarakter, Sallie Declan, is ‘n jong Amerikaner wat haar in Londen bevind. Sy is geobsedeer met Henry James se The Turn of the Screw waaroor sy haar doktorale tesis skryf. Ten einde finansieel te oorleef, moet sy ‘n “nanny” word. Vir die leser van James se werk wat altyd handel oor vreemdelingskap of ‘displacement’, is die skrif reeds aan die muur wanneer ons lees dat sy ‘n Amerikaner in Londen is. Die verwysing na The Turn of the Screw laai die gegewe oor die goewernante in James se teks nog verder. Trouens, hy insinueer dat hierdie vertelling ‘n botsing uitbeeld tussen die bo-natuurlike en kinder-seksualiteit. ‘n Moderne skrywer sou binne ons samelewing waarskynlik die pedofiliese implikasies verder uitgebrei het. Maar juis omdat James hierop sinspeel, word dit ‘n krag in die roman, het ek in Mei verlede jaar geargumenteer in my resensie oor hierdie boek.

Wilson laai ook sy teks met verwysings na letterkundige teorie, soos onder andere die verwysings na Foucault, Todorov en Roland Barthes.

By die lees van al die verskillende romans oor James se lewe en werk, vra die leser die volgende vrae:

Is hierdie roman so geslaagd en pakkend as die eerste roman/lewe? Of sou dit nie gewerk het as dit nie vir die eerste teks was nie?

Die tweede vraag is uiteraard vanselfsprekend: indien die leser nie bekend is met Henry James-kodes nie, sou die teks enigsins kon slaag? 

Op hierdie twee vrae sou ‘n mens kon antwoord dat die ‘n bekendheid met James-kodes die teks met meer nuanses en suggestie laai, maar dat die oningeligte leser dit bloot net as ‘n “storie” kan lees.

In Wilson se roman sou ‘n mens derdens moet vra of die teks die volgehoue spanning met die bo-natuurlike so goed volhou as in die oorspronklike teks? Hierop meen ek van ja, want ‘n mens probeer agterna presies uitvind waar het die hoofkarakter, Sallie Declan (decline) ontspoor? En waarom raak sy so geobsedeer met haar baas?

Wilson se verhaal is dan ‘n modernisering van James, gedoen op ‘n behendige en pakkende wyse, met ‘n aweregse kritiek op die Harry Potter-reekse se populistiese hantering van die bo-natuurlike.

In Henry James se roman werk alles op suggestie. Dis ‘n verhaal van spoke en kontak met die parapsigologiese; by Wilson ervaar ons die tragiese ineenstorting van wat in die moderne sielkunde as ‘n “border-line”-persoonlikheid beskou sal word. En so gelees, word die spanning tussen twee tydvakke goed verbeeld.

In Harold T. MacCarthy se studie oor Henry James word ‘n lang hoofstuk afgestaan oor James se werkswyse. Hy skryf: “James preferred, even in short stories, to develop the dramatic oppositions latent in his donnée and produce a work that illustrated something about life as a whole. He wanted to exhibit delicate shadings, to see one thing through another and still another through that, to see all the dimensions of an idea and produce the effect of ‘truth diffused, distributed and as it were atmospheric’.”

En al hierdie verskillende romans doen presies dít waaroor MacCarthy skryf in sy studie, ‘n geskenk aan my jare gelede gedoen deur ‘n bekende romanskrywer.




Bronne:

Heyns, Michiel: The Typewriter’s Tale. Jonathan Ball, Kaapstad. 2006.

Leon Edel: Henry James: The Master 1910 – 1916. Rupert Hart-Davis, 1972.

Lodge, David. Author, Author. Penguin, Londen. 2005 (2004).

McCarthy, Harold T.: Henry James – The Creative Process. Thomas Yoselhoff, 1958.

Tóibín, Colm: The Master. Picador, Londen. 2004.

A.N. Wilson: A Jealous Ghost. Hutchinson, Londen. 2005.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]