Saturday, February 16, 2013

Ken Barris - African Easter (2005)



Ken Barris. African Easter. Protea Boekehuis, 2005. ISBN 1 86919 123 4.

Resensent: Joan Hambidge

Die mooi klinkende titel African Easter van die bekende romanskrywer Ken Barris roep vanselfsprekend T.S. Eliot se Four quartets (on)bewustelik op by die leser.

Die voorblad met skulpe – dalk ook ‘n heenwys na die ‘periwinkle’ (alikruik oftewel maagdedeblom)van Wallace Stevens? – en die Afrika-masker, vrugte en ander simbole en vrugte wys op die dubbelkantige aard van die bestaan hier in Afrika.

Time present and time past

Are both perhaps present in time future.

And time future contained in time past, dig Eliot in “Burnt Norton”. In die openings- of programgedig, p. 7 verwys Barris na die Amerikaanse en Britse “Imagists” (“they were modern / men and women who knew exactly / how to write poetry”). Digters soos H.D. en Marianne Moore het hiertoe beweeg, saam met die grote Pound.

En soos hulle dus in die omgangstaal sê: ‘n hoë afskop wat die presies-verliteratuurde aard van die bundel wil beklemtoon of op die voorgrond plaas.

In hierdie opsig is Barris dan ‘n Imagist. Sy gedigte is reguit en sonder fieterjasies. Dit is ‘konkrete’ gedigte wat sterk emosies oordra en die leser aktief betrek.

Wat van hierdie bundel ‘n besondere leeservaring maak, is die digter se vermoë om mense raak op te som, hulle letterlik te teken: tantes wat teedrink, terwyl ‘n eensame vroutjie op haar eie sit; herinnering aan sy ma se kos; skuldgevoelens oor aborsie, ensomeer. 

Die gedigte verraai ‘n verwikkelde, ambivalente verhouding met woorde; ‘n mens dink hier aan “Words” (p. 12) en die gedig oor Ezra Pound, ‘n digter bekend om sy moeilike, modernistiese verse. Pound se siening van die digkuns  was dat ‘n gedig suiwer en kompak moet wees, sonder vreemde of poëties-klinkende woorde (Bron: www.Imagists on 
Encyclopedia.com). Kyk ook na die gedig “Ideograms” (p. 36) in hierdie verband.

Pound weer op sy beurt se lewe het egter weens sy politieke uitsprake ‘n ander loop geneem en die digter vra tereg in die slot van “Ezra Pound” (p. 34) of die prys wat hy hiervoor betaal het, die moeite werd was.

In “Words” (p. 12), ‘n klein ars poetica, word die skryfdaad gelyk gestel aan die verloop van ‘n liefdesverhouding. Die digter verbind dus die sogenaamde verwikkelde proses aan iets wat vir die leser herkenbaar en eie is. “The prodigy” (p. 13) gee op sy beurt ‘n skerp blik op die jong godinnetjie wat later juis in ‘n mislukking verval vanweë die druk en verwagtinge van mense om haar.

By Barris is die diguns ‘n dialoog met die self en die wete dat mense maskers dra en in “What poetry is left” (p. 22) vra die post-post moderne digter vrae oor die betekenis en funksie van die digkuns wat gekoppel word aan die alledaagse herhalings, die verloopte liefde, die uitgebakte politieke posisies wat mense inneem. Ironies genoeg staan hierdie gedig langs “Life must have a purpose” (p. 23) met sy Tsjekof-aanslag. Eenvoudig briljant!

“There is a device” (p. 24) vra vir ‘n saamlees met Sklovsky, die bekende Russiese Formalis en kenner van die digkuns, se uitsprake, maar wees asseblief gerus: vir die speurende akademiese leser is hier die plesier van intertekste, gesprekke wat nie beteken dat die gewone leser uitgesluit sal wees van die gedigte as emosionele artefakte nie.

Juis hierom is die bundel so geslaagd; dit funksioneer op albei vlakke van emosioneel en ‘slim’ wees.

Daar is verse waarin die metafisika beskryf word: o.a. “Ghosts” (p. 60)– wat ‘n ‘poetry of differences’ vergestalt” – die aangrypende “The angel visits” (p. 61) wat saampraat met die Duitse filmmaker Wim Wenders se beroemde Wings of desire.

Of ‘n kind wat vlugtig ‘n dooie sien en waar die ouers dit bloot as ‘n ooraktiewe verbeelding afmaak in “A glimpse”(p. 27)...

Eweneens onthoubaar is “The death of Glenn Miller” (p. 37) :

High above a pewter sea
wrestling forever with its own
agony of music and silence,
he marks time ....

Dis waarskynlik een van die grootste prestasies van hierdie bundel waarin hierdie soort opposisies treffend beskryf word.

In “Township air”(p. 30) word die maan ‘n vuil muntstuk, terwyl die indrukwekkende “Moles in the pool”(p. 31) ‘n soort helderheid ten spyte van die verrotting of ondergang probeer beskryf.

Agterin bely die digter dat hy deelgeneem het aan die UCTPoetryWeb, ‘n e-pos-forum waarin gedigte afgerond word. Wat bewys (opnuut) dat die skryf van gedigte ‘n harde en veeleisende taak is. Mazeltov!

En daardie geluk gaan aan sowel die uitgewer, Protea Boekhuis as die digter.

Om op te som: dit is ‘n bundel van ‘n behendige digter wat ‘n veelheid van temas aanspreek, maar in die eerste instansie sy gedigte aanbied as goed-afgewerk, poëtiese artfefakte wat veral vir diegene wat dink ‘n gedig moet die “klip klipperiger maak”, sal imponeer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]