Tuesday, February 12, 2013

Heinrich Troost - Plot loss (2007)



Heinrich Troost. Plot lossUmuzi, 2007. ISBN 978  1 4152 0027 8.

Resensent: Joan Hambidge

Plot loss van Heinrich Troost is ‘n roman waarin ene Harry van As se waarnemings van Pretoria, toe en nou, vertel word. Die roman is ‘’n moderne Tom Jones verpak met aanhalings uit liedjies, gedigte en wat nog (die lang erkenningslys agterin gee blyke hiervan, ofskoon ‘’n bladsyverwysing nuttig sou wees).

Elke keer wanneer ‘n insig die hoofkarakter tref, maak hy ‘n verwysing, bykans soos in ‘n musical waar karakters sonder waarskuwing begin sing. Vanselfsprekend word die gegewe met betekenis gelaai, maar op die duur ondermyn dit die vertelling. Vir wie was die boek geskryf? Vir ‘n (Suid)-Afrikaanse leser of ‘n buitelandse een? Vir ‘n Engelse lesertal om die Afrikaner / Afrikaans te “verduidelik’”?

Omdat die skrywer spring van die Briels, Min Shaw, Eugène N. Marais, Ingrid Jonker, selfs Lina Spies, ensomeer, verloor die boek fokus. In-verwysings en –grappe werk nie in vertaling nie. Dis soos om die “punch-line” van ‘n grap te moet verduidelik. Vir semiotici – soos Umberto Eco – sal dit ‘n teks wees waar elke teken heenwys na iets anders. Reg so, maar op die duur raak dit vir die leser vermoeiend, sodat die onthulling van ‘n tragiese insident gewoon batos word (p. 86) Dis asof alles wat gelees en waargeneem is, hier uitgestal word. Op ‘n plek word daar  na ‘n Engelse lesing verwys en ‘n mens dink, ja. 
Die leser moet eindelose bekende staaltjies aanhoor, soos oor Helen Martins of die butch-kultuur in Pretoria. In wese is die boek eg-postmodern: die plot is verlore.

Die volgende stuk belydenis som die roman waarskynlik ten beste op:

“I have sat in the shadowy temples of Cambodia to take solace in the light of the Buddha,’ he says,’I have read the Sufi poets in the lofty mosques of  Iran. I have even read Christian mystics like John of the Cross, Meister Eckhart and Plotinus”(p. 88).
So what?

Ly die verteller aan trauma dalk?

‘n Mens wil later saam met Henry James uitroep: don’t tell me, show me, as jy nogmaals ‘n stukkie wysheid moet meemaak op die vlak van ‘n TV-vasvra-wedstryd.
Ai, there is only one way and that is the railway, verneem ons selfs!

Jy beweeg tussen soveel verwysings en aanhalings en vertellinge dat jy ‘n mise-en-abyme binnegaan. Die opsomming van Die Tibetaanse Boek van Lewe en Dood oor illusies is Reader’s Digest op sy ergste. (Ek wil nie die toegewyde leser se enigste plesier bederf oor die spel met die dood en karakters nie.) Grappies oor Cry the Beloved Country is gewoon kamp – soos wat Susan Sontag die begrip verstaan het. Selfbewuste kyk-hoe-slim-is-ek-verwysings wat op die teks inbuig ad nauseam.

Op bladsy 187 is daar ‘n belydenis dat daar n begeerte is m “popomo” te wees. Om alles as ‘n post-postmodernistiese werkswyse te verskoon, oortuig helaas nie. John Barth (Lost in the Funhouse) kon speel met verwysings en boei.

Waarom is die boek in Engels aangebied as die gegewe eg-Afrikaans is soos Brandewyn-en-Coke?

Dis die soort boek wat plek-plek boei, maar dan deur pretensie ondermyn word.

Hierdie gegewe is egter reeds deur Julian Barnes beskryf en uitgevoer en ek dink Adam Thirlwell se Politics (Londen, 2003) oor die politiek van verhoudings het my eindeloos beindruk.

Met ernstige snoeiwerk en redigering kon dit ‘n beter roman gewees het.

Plot loss? Die titel kan werklik negatief van toepassing gemaak word op die roman.

Oom Paul Kruger, Café Riche selfs, gooi hier ‘n fasiele draai – met die geskiedenis van Sunnyside. Haai, het jy geweet? Oor die uitbeelding van sy swart mede-karakters sal ek liefs swyg. Ook hier skud ‘n mens net die kop….

Die roman is met soveel geykthede verpak as daardie bekende Richelieu-advertensie oor Frankryk.

207 bladsye vir R133 – het jy geld en tyd om te mors?

Ek het hierdie roman gelees terwyl ek ter afwisseling Klaus Kinski se Nosferatu gekyk het. Daar is die verwysings vandag so lagwekkend dat ‘n mens niks kan ernstig opneem nie. Ja-nee, Kobus en Hannelie sing nie verniet nie “Kamma Kamma”.

And we are marching to Pretoria is ook daar…
En….Dante.
En 1 Korinthiërs 13.
En muzak.
En Marais se “Diep Rivier”
En “Apocalypse now”.
En Four Jacks & A Jill se “Haai Casanova” en die Pangaman.

Sontag meen kamp-tekste is so oordrewe in die uitstalling van hulle tekens dat dit opsigself die betekenis word.

Ik heb gezegd.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]