Saturday, February 23, 2013

Reis: ’n Draaiboek vir ’n film oor Venesië


© 2009 - 2013 Inferno Operations Ltd 
 Mise-en-scène 


Met die aankoms begin dit liggies te sneeu. Die reisiger knoop haar jas dig toe sy die boot verlaat om die 100 meter na die hotel te stap.


Hotel Antigo Trovatore – driester – is die hotelletjie vir die verblyf van ons reisigers, ’n man en ’n vrou. Gesitueer naby die Hotel Danieli en naby die San Marco-plein neem die besoeker ’n vaporetto of boot deur die kanale. ’n Reispas vir €5 (op ’n advertensiebord) gee jou vrye toegang vir sewe dae.


Scène 1 


Acqua alta (vloedwater) word op die San Marco-plein verwag, en die werkers is besig om stellasies uit te pak waaroor jy kan stap.


Die eerste dag behels ’n besoek aan die museum op die plein, ’n staptog tot by die Rialto verby en dan ’n ete in ’n restaurant. Ons dramatis personae neem ywerig foto’s. Hulle verdwaal nes die karakters in The Comfort of Strangers (die film van Paul Schrader).


“Ek wil graag na Penny Guggenheim se huis,” sê sy.


“Wag, ons moet eers na Harry’s Bar, en ’n gondola-vaart beleef,” sê hy.


“Ek is so bly ek het Peter Ackroyd se studie oor hierdie stad se geskiedenis voor die tyd gelees en Don’t Look Now weer gesien.”


“En moet jy juis weer kyk!”


“Ackroyd skryf: ‘It is a city of double­ness, of reflections within reflections, in every sense.’ ”


Scène 2 


In ’n stegie skaf sy vir €80 ’n Fuji-kamera aan. Die kamera se battery moet gelaai word en dit sal ongeveer ’n uur duur, beduie die eienaar. In daardie tyd reis sy en ’n reisgenoot op ’n gondola vir 40?minute. Dis besonder koud, en die gondeliers roep om die draaie allerlei kodes uit om ’n botsing te verhoed. Hulle vaar by bakens soos Marco Polo en Casanova se huise verby. Die stad is skoon – behalwe een agterstegie waar rommel opgestapel lê. Hier ontmoet die twee gedoemde minnaars uit The Wings of the Dove.


“Het jy opgelet hoe hard die Venesiaanse mense se gesigte is?” vra sy.


“Ja. En het jy geweet dat almal wat in hierdie stad werk, deel uitmaak van die toeristebedryf?
”

Daarna vertrek hulle na die Caffè Florian, die beroemde koffierestaurant op die piazza San Marco met sy elegante kelners. Hy drink ’n koffie met Amoretto. Sy drink ’n gewone Americano.


Hulle wandel deur die stad, besoek die paleis. Vir middagete weer op die San Marco. Sy gaan stap alleen, en hy laat weet per SMS: “By die tafel neffens sit Dominique Strauss-Kahn. Sy silwer hare blink wederstrewig in die winterson.
”

Stiekem neem hy ’n foto van DSK en bespreek ’n plek in ’n Michelin-driester-restaurant. Hulle smul aan eksotiese geregte. Sy eet ’n speenvarkie met truffels as hoofgereg, hy skaapkotelette. Die kelners verskaf die beste wyne met gemak.


“Is jy seker jy gaan die hele rekening betaal? Vaderland! ’n Mens besef eers hier in die vreemde op watter vasteland ons boer!”


“Moenie jou bekommer nie. Ek betaal graag!” sê hy.


Scène 3 


Op dag drie is ons vrouekarakter alleen, want haar reisgenoot moes vriende in Verona besoek. Sy kyk na bakens in die stad soos deur Visconti vasgelê in Death in Venice. Daarna klim sy op die vaporetto en vaar tussen die verskillende bakens deur. Sy klim af waar die Venesiese Biënnale tweejaarliks aangebied word. Al die hekke is gesluit, en sy keer terug na die San Marco-punt. 


Die dag is triest, en dit raak koud. Die sonsondergang is oorrompelend. In die kroegie om die draai van die hotelletjie bestel sy ’n bier vir €5.50 en keer terug hotel toe waar sy e-pos lees danksy WiFi in die hotel. Laatnag rook sy ’n sigaret op die stoepie tussen die eerste en die tweede verdieping. Sy koop water vir €1 by die blikkantien.


Scène 4 

© 2013 The Art Institute of Chicago



Nou vertrek hulle na die bekende eilande: Murano, Burano en Torcello. Hulle beloer die glasware soos dit goeie toeriste betaam en neem die volgende vaporetto na Burano, waar die ander reisiger wat hulle by hulle aangesluit het, ’n oud-Venesiaan, ’n restaurant uit sy jeug onthou, genaamd die Swart Kat. Ná vele rondswerwinge vind hulle dit en nuttig ’n maal van spaghetti bolognese en rooiwyn.


“Ek het die Ripasso dal Valpolicella behaaglik en smulryk gevind,” sê sy.


“Beter as die Barolo?”


“O ja! Dié reis is ’n kulinêre avontuur!”


Daarna is dit Torcello toe, maar die volgende vaporetto kom eers oor 35 minute, en die son begin al sak. Dan neem hulle ’n boot wat hulle teen €100 op die eiland besorg en terugneem Venesië toe. ’n Noot word aan die man oorhandig.


In die aanskoulike kerk – waar fotografie verbode is – skyn die son laatmiddag dringend teen die mure. Buite op die stoep vind hulle die blinkgevryfde bronsbeeld van die pous.


Hulle wandel terug na die boot en drink grappa teen die koue. Laatmiddag voordat die son suur trek, is hulle terug in die Stad van Water.


“Wie het gesê ’n mens moet Venesië nie in die winter besoek nie? Die stad is sjarmant, en die koue is goed vir die siel,” sê sy. Hy knik.


Scène 5 


Harry’s Bar (naby die San Marco) wat ontstaan het nadat Harry Pickering, die jong alkoholis wat elke dag in die Hotel Europa gedrink het, geld geleen het by meneer Cipriani toe hy “down and out” was. Die geld het hy met rente teruggegee sodat Cipriani ’n kroeg kon open: Harry’s Bar, in 1931. Charlie Chaplin, Ernest Hemingway, Truman Capote en Georges Braque het onder andere hier uitgehang.


Geen bier word hier geskink nie. ’n Bottel Barolo word bestel.


© WCC, 2012 

Die kamera fokus op ’n skryfsel voor haar:

 
Dood in Venesië

What fresh hell is this?
Dorothy Parker

In ’n Venesiaanse stegie
loop ek my vas in haar:
lank terug, ’n ewebeeld
van my,
in hierdie stad
van vergissing
en begoëling.
Koop ’n masker toe
om my
ontreddering
te maskeer.
’n Masker
word ’n gesig,
soos spotspraak
’n gedig verweer.
Hoe broos
hierdie stil herwinning.
Bykans twee dekades later,
ja, teen dusketyd,
haal ek my masker af
en goël met haar woorde:
“die liefde se verdwaaltyd
bly my steeds agtervolg.”

Venesië
Jy het opgemerk dat jy gekom het om die stad se wonderlike restaurante te besoek. Nou skryf jy ’n gedig. Wat pla jou?”


“Die stad roep net ’n einde van ’n verhouding op wat ek in die somer beleef het, weet jy... meer as 20 jaar gelede. Dit vertel ’n mens iets van hoe geheue werk,” sê sy.


“Dalk hou die stad al die herinneringe geberg.”


Scène 6 


Die fokus verskuif na die Danieli, die beroemde vyfsterhotel, ’n hanetree van San Marco en die paleis. Die hotel besoek hulle bykans elke dag, omdat die kroeg tot laat oopbly en gaste 24 uur van die dag kan in- en uitboek.


“Schioppettino vir jou?” vra hy.


Sy knik.

“Die skaapkotelette vandag was uitstekend, nes die parmaham!”


“Ek dink hierdie stad se seekosse is ongeëwenaard. Ook die vleis: die varktjops...”


“Dink jy ons lewe om te eet? Of eet ons om te lewe?” vra hy speels.


Hulle stap verby die Doge-paleis met sy Gotiese styl. Later in die dag besoek hulle dié asemsnakkende paleis.


“Oppas vir sakkerollers!” waarsku hy.

Twee Italiaanse skollies skuifel by hulle verby, maar haar rugsakkie kleef verbete aan haar rug.


Scène 7
Peggy Guggenheim Museum


Accademia


Bekend om die lieflike versameling van pre-19de-eeuse kuns. Hulle bekyk Bellini, Carpaccio, Giorgione, Veronese, Tintoretto en Tiziano se aangrypende werk.


Die museum is onder rekonstruksie, en verwers in oorpakke is oral doenig.


Die twee reisigers verdwaal en sukkel om die pad te vind na die huis van die Guggenheim; net om te ontdek hulle moet terugkeer op dieselfde roete in die reën. Hy dra ’n parka; sy ’n sambreel om die water af te weer.


Hulle vertoef kortliks langs die Canale Grande in ’n kroeg vir ’n bier.


“Ek is teleurgesteld in die Accademia. Meer verwag.”


“Toemaar,” sê sy “die Guggenheim in New York was verlede jaar ook onder rekonstruksie en toe was van die afdelings gesluit vir besoek. Onthou die imposante skilderye en vergeet wat jy nie kon sien nie. Jy kan dit altyd in ’n kunsboek tuis weer opsoek,” troos sy.


“Dink jy ’n mens reis eerder om die gevoel van ’n stad in te drink?”


“O ja. Elke stad het immers ’n persoonlikheid. Vir my is dit die stad van maskers.
”

Peggy Guggenheim se huis is ’n vesting vir groot kubistiese, surrealistiese en ekspressionistiese kuns.


Hulle staan lank voor ’n Jackson Pollock en ’n Max Ernst, laasgenoemde Guggenheim se eggenoot.


Haar dogter, ook ’n kunstenaar, se werk hang ook hier, ofskoon dit sleg afsteek teen die groter kunstenaars soos Klee, Picasso, Braque, Duchamp, Léger, Brancusi, Severini, Balla, Dalí, Magritte, Delaunay, Kupka, Miró, Picabia, Mondrian, Kandinsky, Van Doesburg, Giacometti, Ernst, Pollock, Rothko, Calder, Moore en Marini.


Haar lewenskets staan somber aangeteken teen die muur as ’n vroeë selfdood weens depressie. In die tuin is ’n verskeidenheid beelde, en vele toeriste trotseer die museum.


“Behalwe vir die wonderlike wyn en uitmuntende kos, sou die reis al die moeite werd gewees het vir die besoek aan hierdie museum,” merk sy op.


Teen die einde flits dit op die skerm:


La Dominante”, “Serenissima”, “Stad van Water”, “Stad van Maskers”, “Die Drywende Stad”, “Die Stad van Vele Brûe”. En natuurlik: Shakespeare se Merchant of Venice... 

- 
Bykomende bron: Venice – Pure City deur Peter Ackroyd (Chatto & Windus)
Desember 2012

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]