Wednesday, February 6, 2013

Elna Crouse - Gestaltes van ‘n dogter – in konfigurasie (2007)



Elna Crouse. Gestaltes van ‘n dogter – in konfigurasieGenugtig! Uitgewers, 2007. 9 780980 260632.

Resensent: Joan Hambidge

Gestaltes van ‘n dogter – in konfigurasie is ‘n bundel van Elna Crouse. Dit het by Genugtig! Uitgewers verskyn en volgens die agterplat word daar in hierdie bundel ‘n volledige en tipiese beeld gegee van verkragting. Die klassieke simptome en verwerking daarvan, glo. Deborah Steinmair loof hierdie bundel as ‘n ongewone en merkwaardige versameling gedigte wat met verbysterende ambisie die haas onverwoordbare verwoord.

Verbysterende ambisie is dit nou helaas nie. ‘n Mens is strykdeur bewus van die persona se Hades en die worsteling met die ontstellende pyn.

Pyn, verwerping, ellende is egter geen waarborg vir goeie poësie nie. As dit so was, sou daar meer digters op aarde gewees het reëndruppels. Trouens, die bundel laat by hierdie leser die indruk van iemand wat nog met die eerste fase van gedigte werk. Dit is gedigte op soek na vorm, distillasie, afstand, beheer.

Dit is jammer dat die bundel in so ‘n rouvorm gepubliseer is. Die leser word bewus van ‘n Jungiaanse insig, naamlik dat daar geen lig sonder skadu kan wees nie, en geen psigiese heelheid sonder onafheid en pyn nie. ‘n Gedig soos “In die woud” (63) wys dat hier talent is. Die bundel beoordeel aan die eise van die digkuns faal egter.

Miskien moes dit eerder binne die private ruimte van ‘n sielkundige spreekkamer gebly het of as ‘n skryfstuk aan vriende en geliefdes.

Die mitologiese verwysings (Demeter, Hades, Persephone, ensomeer) kon met groter afstand die gedigte gered het.

Die verwysings na Nietzsche en Jung onder andere wil die gedigte anker in ‘n groter verwysingsveld, maar dit word niks meer as los motto’s rondom die gedigte nie.

Met die pyn en verwerking daarvan het hierdie leser wel eindelose erbarming.

Steinmair skryf verder: “Die gedigte is outentiek, eg en reverbereer tot in die rugmurg om dae lank by die leser te spook.”

Miskien het sy ‘n ander bundel gelees as hierdie leser. Nee wat. As ‘n mens psigiese geskondenheid en die verwerking daarvan in gedigte wil lees, tel liefs ‘n Sylvia Plath of Anne Sexton op.

Ongewoon, merkwaardig, verbysterend ensoaan is woorde wat vir werklike digters van formaat gebruik word. Anders word dit leë, niksseggende woorde wat later soos ‘n tafel se poot ‘n dooie metafoor is.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]