Monday, February 4, 2013

Dana Snyman - Op die toneel (2009)



Dana Snyman: Op die toneelHuman & Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981 5121 4.

Resensent: Joan Hambidge

Dit is waarskynlik ónnodig om ‘n boek van Dana Snyman te resenseer. Hy het reeds so ‘n groot aanhang met sy stories wat op ‘n onpretensieuse wyse die lotgevalle van die gewone mens opvang. “Die mens is die storie, die storie is die mens”, volstaan die raconteur. Hy kyk na die eenvoudige mens sonder om hulle uit of af te lag en die agterflap praat tereg van die verhale as eerlik en eg.

Toe hierdie leser hom die eerste keer in Beeld ontdek het en daarna sy ontwikkeling meegemaak het, het ek ‘n bietjie my hart vasgehou. Gedink die aandag, bekronings en loftuitinge gaan hom bederf.

Inteendeel. Hy het sy vertellinge al hoe sterker en meer vaartbelyn gemaak. In die nawoord gee die skrywer erkenning aan waar hy stories “geleen” en herskryf het. Twee titels is by onderskeidelik Chris Barnard en J.C. Steyn geskaai. En ja, waarskynlik moet ons dan ook besef dat van die verhale wat ons lees, is al iewers gehoor, gesien en opgeskryf. Die orale teks is allemansgoed. As iemand vir jou ‘n storie vertel en jy skryf hom oor, is dit ‘n ander vertelling as die een wat jy gehoor het. Dit word verwerk deur die skrywer en kry sy eie stempel. Dis soos Boeregrappe wat permutasies beleef van grappe uit Ierland en elders.

In “Groet” ( 9) kom die boeregroet onder die loep. En wat dit alles beteken. En ons lees van Oupa wat taisis in die myn gekry het en een valstandlose nag in 1999 in die plaaslike hospital dood is. Kweek spartel steeds uit die tuinpaadjie en die gevoelige leser sien soms ‘n digter aan die woord.

Die vertellinge is nie essays nie. Hulle wil net stories wees en niks anders nie. Maar jy onthou hulle. Vir die humor, die skerp waarneming, die ingeboude ironie en die lekkerte van lees aan hulle.

“Die lewe is eenvoudig” (157) verduidelik dat die lewe nie eenvoudig is nie.

In “Die dag toe ons agtergekom het dis nie oorlog nie” (49) word ‘n snydende blik gegee op die politieke opposisies in hierdie land, met humor en deernis. Die papegaai kan nie AWB reg uitspreek nie!

Dalk sou ‘n mens Dana Snyman ten beste kon opsom as ‘n beoefenaar van nostalgie en sy beskrywing van ‘n nagmaalfees op Soebatsfontein (135) kan as een van die sterkste voorbeelde hiervan gesien word. 

Hy het hierdie wêreld verlaat, maar hy kan in die fynste besonderheid elke optrede registreer met deernis en hy lag nie hierdie mense uit nie. Hy beskryf alles met erbarming, terwyl hy homself as waarnemer en optekenaar daarstel.

Sonder om kommentaar te lewer, maak hy ‘n Boereoom na wat vra dat die “ou skepsel” moet mooi kyk na alles en juis hierom word die vertelling ‘n skrynende verslag van rassisme én neerbuigendheid.

Hierdie vertelling word meer gelade wanneer dit saamgelees word met “Regstellende aksie” (58) en mense se kommentaar, van binne en buite, hierop. 

Dana Snyman is die optekenaar, ironies, sardonies. Hy skryf tydsdokumente wat vir Jan en Alleman bedoel is.

Alles word beskryf in helder, sober Afrikaans en wanneer hy Engels inspan is dit met woorde soos “sideboard” wat sy plek in die volksmond gekry het. In ‘n verhaal word hy as “kleindominee” aangespreek (43) en wanneer hy met sy pa gesels is daar vergifnis en begrip. Dana Snyman het ‘n natuurlike talent. Sy vertellinge sou ‘n mens as oefeninge in die nostalgie kan beskou, ‘n ewige terugkeer na dit wat nou vir altyd verby is. Maar deur hierdie uit-die-hart-uit stories gee hy ‘n nuwe lewe aan gemoedelike lokale realisme waarop daar al neergesien is. Tereg word daar dikwels gevra en geïmpliseer: wie onthou nog dit of dat?

Dalk doen hy met P.G. du Plessis wat P.G. met Mikro gedoen het? Hulle hou daardie vertellyn lewendig! Soos ‘n plaastelefoon.

‘n Mens mag nie die plek van Jaco Kirsten, Johannes Bakkes en Dana Snyman in ons vertel- en rubriekkultuur onderskat nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]