Henry James (c) John Singer Sargent
Die afgelope
paar jaar verskyn daar etlike romans oor Henry James. Uiteenlopende tekste soos
A.N. Wilson se A jealous ghost
waarin The turn of the screw
herskryf word, David Lodge se Author,
Author en hier te lande Michiel Heyns se The typewriter’s tale. Verder is daar Colm Tóibín se Master en Allan Hollinghurst se The line of beauty.
Daar is
waarskynlik nóg tekste oor hierdie fenomenale skrywer en elkeen van hierdie
romansiers se kennis oor sowel James se lewe as skryfwerk spreek duidelik uit
hul komplekse tekste waarin biografiese feite en insigte oor die skryfkuns
gefiksionaliseer word.
By Tóibín en
Lodge word daar op dieselfde problematiek gelet in James se lewe (1843 – 1916),
die beroemde Amerikaanse skrywer wat in Engeland gaan woon het.
In James se
lewe was daar die ouer, afkerende broer, William, die sielkundige; die invalide
suster, Alice en Constance Fenimore Woolson, ‘n skrywer wat waarskynlik
selfmoord gepleeg het, omdat haar passie vir James onbeantwoord gebly het.
Waarom
interessseer hierdie skrywers mense juis nou? Vanselfsprekend weens sy enorme
skryftalent – ons dink hier ook aan die voortreflike verfilming van The Portrait of a Lady met
John Malkovich en Nicole Kidman met Jane Campion as regisseur – wat wys hoe
relevant die skrywer bly wat sosiale kodes en mores kon belig. Ander tekste is
ook verfilm: o.a. deur my gesien is The
wings of the dove en Washington
Square.
James self is
“larger than life” in sy verstommende kreatiwiteit, as dikteerder aan sy
sekretaresse en as persoon wat die kuns bó lewe verkies het.
En vermoedelik
wil gesiene skrywers soos David Lodge iets probeer vasvang van ‘n grootse
skrywer. Waarskynlik beleef ons tans die einde van die postmodernisme wat vir
vele lesers ontaard het in ‘n fasiele spel met intertekste. Juis om deur ‘n
fenomenale kreatiewe skrywer te werk, word daar uiting gegee aan
spiritualiteit.
Lodge se roman
handel oor James se drama Guy Domwille
se negatiewe ontvangs. Die vriendskap met die skrywer George du Maurier lê aan
die basis van die roman.
Skryfkompetisie en die hantering van sukses en
oorspronklikheid kom hier aan bod. Du Maurier se vertelling van dieselfde
storie as wat James gebruik maak van ‘n blitsverkoper. Terselfdertyd kan hy nie
die roem en blootstelling hanteer nie, terwyl James juis na groter bekendheid
smag.
Die
Lodge-roman begin met die einde van James se lewe en waar hy in ‘n siekbed
briewe ontvang van bekende mede-skrywers soos Rudyard Kipling, Thomas Hardy,
George Bernard Shaw, Arnold Bennett, e.a. Dit is egter sy verhouding met ‘n
minder bekende skrywer wat die fokus van die roman word: Du Maurier, ‘n persoon
waaroor sy broer, William, bedenkinge gehad het.
Lodge lewer
kommentaar op James se selibate toestand via ‘n teks van Maupassant wat hy lees
oor ‘n liefdesverhouding tussen ‘n man en ‘n vrou. James gril gewoon vir die
lyflikheid tussen die twee karakters en gru aan die gedagte dat mans ook met
mekaar sou kon verkeer.
Paul Zhukovski
se attensies laat hom wegdraai van ‘n vriendskap, waarskynlik omdat hy so ‘n
diep-gesetelde vrees vir intimiteit gehad het, met sowel mans as met vroue. In
hierdie biografiese roman word daar geweldig baie klem gelê op die verhouding
met die suster en die jaloerse verbintenis met en bewuswees van ander skrywers.
Sy afkeer van
Oscar Wilde se skandalige bestaan en arrogansie word eweneens beskryf deur
Lodge. Die ekshibisionistiese kamp-gedrag vir James onaanvaarbaar en wanneer
Wilde aan die einde van sy suksesvolle drama die gehoor bedank vir hul
skerpsinnigheid, vind hy dit onvanpas. Maar die eintlike afkeer in Wilde is sy
homoseksuele dubbelbestaan en uittarting van die morele kodes van die tyd.
The typewriter’s tale – a novel is Michiel Heyns, ‘n James-kenner, se blik op hierdie
boeiende skrywer, maar vanuit die perspektief van sy (gefiksionaliseerde)
sekretaresse, Frieda Wroth. Haar verbintenis met Morton Fullerton lewer
kommentaar, sydelings, op die soort tekste wat sy moet tik.
Soos in Lodge
se teks, is die vrees vir openbaarmaking kenmerkend van James se psige. In ‘n
gesprek tussen Frieda en Fullerton word die Oscar Wilde-saak bespreek en
geanaliseer. Edith Wharton word ook helder en goed geteken in hierdie
aangrypende roman.
In tye van
briewe en waar mense mekaar vertrou, word intimiteite openbaar, verduidelik
Fullerton aan haar. Gelees in ‘n hof en deur buitestaanders beskou, kry dit ‘n
nuwe betekenis en kan sodanige briewe jou ophang.
Biografiese
besonderhede verwys ook na James se vernietiging van sy korrespondensie ten
einde sodanige blootstelling te voorkom en jou eie privaatheid te beheer.
Heyns se roman
in die beskrywing van ‘n sekstoneel is uiters visueel en oortuigend. En uiters
ironies wanneer ‘n mens dit teen James se vrees vir intimiteit en seksuele
aanraking plaas.
Die periode in
Rye (Sussex) word in ‘n spesifieke tyd geplaas en as ‘n James-afficionado erken
Heyns in welke mate hy die gegewens gefiksionaliseer het.
Die skrywer
erken dat hy gegewens geannekseer, geïnkorporeer en aangepas het vir sy eie
doeleindes.
Sy hooffiguur
is gebaseer op Theodora Bosanquet wat vanaf 1907 tot en met James se dood sy
sekretaresse was. Die gedagtes is Frieda s’n, hoewel daar uiteraard
ooreenkomste tussen die twee figure is. Na James se dood in 1916 het sy deur
middel van ‘n ‘spirit control’, Johannes, met James kontak gemaak.
Die briewe in
die roman is aangepas, maar Heyns lei die leser na die oorspronklikes vir
vergelyking. (Die verbintenis tussen
telepatie, tik en outomatiese skryfwerk is ‘n belangrike aspek waaraan Heyns
aandag gee en hy verwys die leser na Thurschwell se studie hieroor wat in 2001
verskyn het.)
Die leser word
op die koop toe van opsetlike foute bewus gemaak, soos o.a. dat Frieda nie vir
meneer James kon sien fietsry nie; hy het reeds in 1901 daarmee opgehou!
James het sy
briewe in die herfs van 1909 verbrand; die skrywer skuif hierdie gebeurtenis na
laat-Julie. In die roman waarin die steel en verbranding van briewe ‘n
belangrike tema is, betrek Heyns by implikasie Edgar Alan Poe se The purloined letter om die spel met
privaatheid en openbaarmaking verder uit te brei.
En dan:”As
dedicated Jamesians will have noticed, I have found myself at times
appropriating phrases from the writings of Henry James. I have retained these
borrowings, not as plagiarism, but as homage to the works to which this novel
is above all indebted”.
So gelees, is
hierdie roman ‘n fassinerende ‘paper chase’ met ‘n verbluffende spel nie alleen
met romans van James nie, maar ook met verwysings na die lewe en uitinge van
die outeur. Dis ‘n
besondere roman juis omdat dit bewys dat ‘n biografiese roman se groot krag in
‘n verwringing en aanpassing lê.
Beide Lodge en
Heyns se boeke is ‘homages’ aan James.
Biografiese
romans wat die spanning tussen teks en lewe uitstippel en wys hoe elke skrywer
by implikasie sy eie interpretasie aan HJ laat inspeel op die gegewens. James
is by uitstek geskik vir hierdie soort spel, juis omdat hy ‘n groot skrywer was
en is met ‘n komplekse belewenis van intimteite. Juis deur hierdie romans word
daar nogmaals erkenning gegee aan een van die grootste storievertellers nog.
Deur hierdie
romans kry die lewe en werk van Henry James ‘n tweede lewe. Die skrywer het op
‘n keer bely dat Balzac sy model was:
“A novel is in
its broadest sense a personal, a direct impression of life: that, to begin
with, constitutes its value, which is greater or less according to the
intensity of the impression” – The Art of Fiction, 1885.
Hierdie romans
het my teruggeneem na Leon Edel se biografie oor die meester en dan moet dit
miskien duidelik geskryf word: Michiel Heyns se boek is ‘n boeiende, puik,
oorrompelende roman wat beslis nie terugstaan vir die ander meesters se pogings
nie.
Daar is iets
metableties (in Van den Berg se terme) af te lees uit verskillende skrywers se
blik op ‘n groot skrywer: ‘n versugting weg van postmodernistiese tekste se
spirituele leeghede? ‘n Terugkeer na karakters se binnespraak?
Bronne:
Michiel Heyns. The typewriter’s tale – a novel. Jonathan Ball, 2005. ISBN: 1 86842 229 1.
David Lodge. Author, Author. Penguin, 2004/2005. ISBN: 780 141 018225
Colm Tóibín. Master. Picador, 2004. ISBN: 0330 485652.
A.N. Wilson. A jealous ghost. Hutchinson, 2005. ISBN: 0 09 180020.
Allan Hollinghurst. The line of beauty. Picador, 2004. ISBN 0-330-48320-X.
Emma Tenant. The felony. Vintage, 2003. ISBN 0-09-928397-2.
Leon Edel: Henry James: The master 1910 – 1916. Rupert Hart-Davis, 1972.
Harold T.
McCarthy: Henry James – The creative
process. Thomas Yoselhoff, 1958.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]