Henry James (c) John Singer Sargent
Henry James – The Creative Process van Harold T. McCarthy het in 1958 verskyn. Dit is ‘n
fassinerende studie oor die meester wat tans deur verskeie bekende en groot
skrywers in biografiese romans of gewoon net in gefiksionaliseerde romans,
beskou word. Michel Heyns se The
Typewriter’s Tale staan nie ‘n duit terug vir die Britse of Ierse
beskouings oor James nie. Inteendeel.
Sy teks is
waarskynlik sterker as Lodge se Author,
Author.
In dieselfde
jaar as Lodge se roman, verskyn die kragtige bydrae van Colm Tóibín.
Die eerste
vraag is: het hierdie skrywers van mekaar kennis geneem? En is dit tersaaklik
of nie?
Die leser kry
telkens ‘n nuwe blik op die figuur Henry James: beskou vanuit die perspektief
van ‘n fiksionaliserende outeur.
Selfs al is
daar van mekaar se tekste kennis geneem, is dit steeds elke ervare skrywer se
blikhoek op die komplekse figuur, Henry James. Lodge byvoorbeeld, wend o.a.
James se tegniek van binnestroom aan, terwyl daar by Tóibín eweneens sprake is
van die binnespraak.
By Lodge word
die jaloerse verhouding met Oscar Wilde uitgewerk, omdat James se drama Guy Domville misluk. (Die drama is op 5
Januarie 1895 opgevoer). Vanweë sy komplekse psige en sy vrees vir intimiteit,
vind hy Wilde se gedrag aanstootlik en die openbare hofsaak en verguising van
Wilde se homoseksualiteit steurend. Tóbín in The Master egter skep ‘n toneel waar ‘n kortstondige aanraking met
‘n man wel moontlik sou wees. By Heyns is daar ook verwysings na die Wilde-saak
in gesprekke tussen karakters.
Al wat hierdie
drie romans gemeen het, is dat al drie skrywers hul enorme navorsing en kennis
kreatief aanwend om meesleurende romans oor die meester, Henry James te skryf.
(In die
nawoord van The Master erken die
outeur dat hy kwistig Henry James-uitsprake rondgegooi het en Etienne Britz wys
ook in welke mate Michiel Heyns se taal deur James beïnvloed is. Sy resensie,
wat ek nie op Die Burger se
webruimte kon vind nie, is goedgunstiglik aan my versend deur die
boekeredakteur.)
A.N. Wilson se A Jealous Ghost aktiveer nie die lewe van James nie, maar gebruik
as interteks The Turn of the Screw. Die hoofkarakter, Sallie Declan,
is ‘n jong Amerikaner wat haar in Londen bevind. Sy is geobsedeer met Henry
James se The Turn of the Screw
waaroor sy haar doktorale tesis skryf. Ten einde finansieel te oorleef, moet sy
‘n “nanny” word. Vir die leser van James se werk wat altyd handel oor
vreemdelingskap of ‘displacement’, is die skrif reeds aan die muur wanneer ons
lees dat sy ‘n Amerikaner in Londen is. Die verwysing na The Turn of the Screw laai die gegewe oor die goewernante in James
se teks nog verder. Trouens, hy insinueer dat hierdie vertelling ‘n botsing
uitbeeld tussen die bo-natuurlike en kinder-seksualiteit. ‘n Moderne skrywer
sou binne ons samelewing waarskynlik die pedofiliese implikasies verder
uitgebrei het. Maar juis omdat James hierop sinspeel, word dit ‘n krag in die
roman, het ek in Mei verlede jaar geargumenteer in my resensie oor hierdie
boek.
Wilson laai ook sy teks met verwysings
na letterkundige teorie, soos onder andere die verwysings na Foucault, Todorov
en Roland Barthes.
By die lees van al die verskillende
romans oor James se lewe en werk, vra die leser die volgende vrae:
Is hierdie roman so geslaagd en pakkend
as die eerste roman/lewe? Of sou dit nie gewerk het as dit nie vir die eerste
teks was nie?
Die tweede vraag is uiteraard
vanselfsprekend: indien die leser nie bekend is met Henry James-kodes nie, sou
die teks enigsins kon slaag?
Op hierdie twee vrae sou ‘n mens kon antwoord
dat die ‘n bekendheid met James-kodes die teks met meer nuanses en suggestie
laai, maar dat die oningeligte leser dit bloot net as ‘n “storie” kan lees.
In Wilson se roman sou ‘n mens derdens
moet vra of die teks die volgehoue spanning met die bo-natuurlike so goed
volhou as in die oorspronklike teks? Hierop meen ek van ja, want ‘n mens
probeer agterna presies uitvind waar het die hoofkarakter, Sallie Declan
(decline) ontspoor? En waarom raak sy so geobsedeer met haar baas?
Wilson se verhaal is dan ‘n
modernisering van James, gedoen op ‘n behendige en pakkende wyse, met ‘n
aweregse kritiek op die Harry Potter-reekse se populistiese hantering van die
bo-natuurlike.
In Henry James se roman werk alles op
suggestie. Dis ‘n verhaal van spoke en kontak met die parapsigologiese; by
Wilson ervaar ons die tragiese ineenstorting van wat in die moderne sielkunde
as ‘n “border-line”-persoonlikheid beskou sal word. En so gelees, word die
spanning tussen twee tydvakke goed verbeeld.
In Harold T.
MacCarthy se studie oor Henry James word ‘n lang hoofstuk afgestaan oor James
se werkswyse. Hy skryf: “James preferred, even in short stories, to develop the
dramatic oppositions latent in his donnée
and produce a work that illustrated something about life as a whole. He wanted
to exhibit delicate shadings, to see one thing through another and still
another through that, to see all the dimensions of an idea and produce the
effect of ‘truth diffused, distributed and as it were atmospheric’.”
En al hierdie
verskillende romans doen presies dít waaroor MacCarthy skryf in sy studie, ‘n
geskenk aan my jare gelede gedoen deur ‘n bekende romanskrywer.
Bronne:
Heyns, Michiel: The Typewriter’s Tale. Jonathan Ball,
Kaapstad. 2006.
Leon Edel: Henry James: The Master 1910 – 1916.
Rupert Hart-Davis, 1972.
Lodge, David. Author, Author. Penguin, Londen. 2005
(2004).
McCarthy,
Harold T.: Henry James – The Creative
Process. Thomas Yoselhoff, 1958.
Tóibín, Colm: The Master. Picador, Londen. 2004.
A.N. Wilson: A Jealous Ghost. Hutchinson, Londen. 2005.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]