A.N. Wilson. A
Jealous Ghost. Random House, 2005. ISBN: 0 09 180020.
Resensent: Joan Hambidge
A. N. Wilson het ‘n loflike kommentaar op sy jongste
roman se buiteblad van Anita Brookner wat na hom verwys as ‘n hipnotiese
storieverteller. Sy uitmuntende biografie oor Iris Murdoch het hom gevestig as
‘n biograaf van formaat en in 1992 het sy topverkoper Jesus, en die opvolg Paul,
vir ‘n letterkundige opskudding gesorg. Ook sy studie oor The Victorians (2002) verdien vermelding.
Sy jongste roman (ek ken nie The healing art nie, terloops) A
Jealous Ghost is ‘n teks wat sterk letterkundig en intertekstueel werk. Die
hoofkarakter, Sallie Declan, is ‘n jong Amerikaner wat haar in Londen bevind.
Sy is geobsedeer met Henry James se The
turn of the screw waaroor sy haar doktorale tesis skryf. Ten einde
finansieel te oorleef, moet sy ‘n “nanny” word. Vir die leser van James se werk
wat altyd handel oor vreemdelingskap of ‘displacement’, is die skrif reeds aan
die muur wanneer ons lees dat sy ‘n Amerikaner in Londen is. Die verwysing na The turn of the screw laai die gegewe
oor die goewernante in James se teks nog verder. Trouens, hy insinueer dat
hierdie vertelling ‘n botsing uitbeeld tussen die bo-natuurlike en
kinder-seksualiteit. ‘n Moderne skrywer sou binne ons samelewing waarskynlik
ook die pedofiliese implikasies verder uitgebrei het. Maar juis omdat James
hierop sinspeel, word dit ‘n krag in die roman.
Wilson laai ook sy teks met verwysings na letterkundige
teorie, soos onder andere die verwysings na Foucault, Tordorov en Roland
Barthes. Die ingewyde ken ook die psigoanalitiese lesings van What Maisie knew. Nie alleenlik betrek
hy dus narratologiese studies nie, maar ook ingewikkelde psigoanalitiese tekste
wat die vertelling problematiseer en daaraan ‘n meta-kwaliteit verleen.
Die belangrikste vraag is natuurlik altyd wanneer ‘n teks
sterk toespelings maak op ‘n bekende teks of
klassieke skrywer se komplekse oeuvre is of die nuwe teks in die eerste
instansie so geslaagd of pakkend is as die eerste. Of is dit gewoon om met ‘n ander
man se kalwers te ploeg?
Die tweede vraag, wat net so belangrik is as die eerste,
is of die teks enigsins sal sin maak as ‘n mens nie bekend is met Henry
James-kodes of nog nooit verfilming van onder andere ‘n James-roman gesien het
nie? Selfs in die films word die belangrikste kodes van James se tekste goed
opgevang.
Die derde vraag is of die Wilson-teks daardie spanning en
verwysing na die “unheimliche” (in Freud se terme) kan volhou? James het immers
in hierdie teks daarin geslaag om ‘n spel met die bo-natuurlike te beheer en
die skokkende einde van die verhaal word selde deur skrywers geëwenaar.
Trouens, ‘n mens keer terug na die vertelling ten einde die tegnieke van
voorbereiding op die skokkende slot weer raak te lees. Ook lees jy Wilson weer:
presies waar insinueer hy dat die hoofkarakter Sallie Declan (decline) van haar
klippers af is? En waarom raak sy so geobsedeer met haar baas?
Wilson se verhaal is dan ‘n modernisering van James,
gedoen op ‘n behendige en pakkende wyse.
Baudrillard se teorie van “hyperreality” word gebruik om
die James-teks verder te problematiseer. Ons lees wat die promotor dink James
in gedagte gehad het en waarom ons, na die kind se dood, nie terugkeer na die
vriendekring nie. Die promotor meen dat James sélf in sy notaboeke geskryf het
dat hy daardeur die spanning en vrees wou versterk, terwyl die jong student dit
natuurlik as biografiese trivia sien (p. 53). Háár outobiografie en verwysing
na ‘n insident waar sy ‘n jong kind beseer het tydens ‘n babawagter-sessie,
word juis hierdeur verïroniseer, omdat sy by die teks, net by die teks
voorhande wil bly. Barthes se S/Z
speel dan ook hier in, waarin gesuggereer word dat ons deur te lees ons eie
vertelling as’t ware skep.
Maar sy ken letterkundige teorie, nie letterkunde nie.
Ook nie politieke verwysings nie. Haar onkunde oor Garibaldi is ‘n aweregse
grap en bewys die opvatting van letterkundiges uit die ouer skool waarskynlik
reg dat mense dikwels meer oor boeke lees, as wat hulle van die ware
letterkunde weet. Wat immers ook ‘n ironiese obiter dictum word vir Wilson se
doen-en-late: hy teer immers op ‘n ander teks!
Die verskil tussen Henry James se gesofistikeerde
hantering van die bo-natuurlike en die Harry Potter-reeks se meer populistiese
siening van dieselfde onderwerp, word ook vernuftig betrek.
In Henry James se roman werk alles op suggestie. Dis ‘n
verhaal van spoke en kontak met die bo-natuurlike; by Wilson ervaar ons die
tragiese ineenstorting van wat in die moderne sielkunde as ‘n
“border-line”-persoonlikheid beskou sal word.
(Sallie het ‘n seksaversie en verwys hierna as B.L., “between the legs”.
‘n Kode dus vir die “border line”-geval.)
Dit is ‘n skitterende roman. Gewoon net as verhaal, maar
ook as metakommentaar én teoretisering van die oorspronklike verhaal, The turn of the screw, verdien dit
lof. Anita Brookner, daardie ánder onbekroonde meester van die onderstelling,
het gelyk. Die roman is 186 bladsye lank, maar wanneer ‘n mens James en die
notaboeke by lees, ook die opera van Benjamin Britten betrek, ‘n langer en
komplekser teks.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]