Henry James (c) John Singer Sargent
So twee jaar
terug is ‘n kollega aan die UK besig om sy kantoor op te ruim en boeke uit te
gooi. Hy het van vakgebied verander en nooi almal uit om boeke te neem waarin
hy nie meer belang stel nie. Ek vra of ek die Leon Edel, in twee volumes
netjies in ‘n boksie verpak, oor die lewe van Henry James mag kry?
Natuurlik. Hy
het die letterkunde vir media-studies verlaat...
Hierdie twee
tome en Harold T. McCarthy se The
Creative Process (1958) het ‘n beduidende invloed op my begrip van hierdie
skrywer gehad en die afgelope paar weke het ons Henry James deur die oë van
ander, waargeneem.
In bykans al
die romans word ‘n skatpligtigheid aan Edel se biografie genoem. Party skrywers
erken verder dat die briewe bestudeer is en werklike Henry James-afficionado’s
ken ongelooflike besonderhede oor die skrywer se lewe.
Colm Tóibín
illustreer iets hiervan: in The Master
weet ons geweldig baie van die skrywer se ervaring van Venesië en die selfmoord
van sy skrywersvriendin. Ook in welke mate werklike mense modelle was vir
James, blyk uit hierdie skitterende teks.
Henry James se
notaboeke is vir die letterkundige speurder ‘n fassinerende en besonder
openbarende versameling. Telkemale staan die leser voor die besef dat die
skrywer skuldig voel omdat hy nie by mense kan of wil betrokke raak nie. Hy kyk
na die “donnée”, oftewel dit wat hy uit die lewe kry ten einde te kan skryf.
Tog bly hy deurgaans bewus dat die ervaring nie vanself teks word nie; dit moet
deur geweldig baie dinkwerk en gevoelens gaan alvorens dit verhaal word. James
gebruik dikwels as kritikus die begrip “feeling” wanneer hy die sukses van ‘n
ander skrywer se ‘n verhaal beoordeel.
The Real Thing
illustreer waarskynlik James se siening oor die verhouding tussen die lewe en
kuns ten beste: ‘n kunstenaar maak sketse van bekende mense en ‘n egpaar, Major
en Mrs Monarch bied hulself, weens finansiële nood, as modelle aan. Hulle het
die regte kleredrag, gesigte, posture en dies meer, maar die kunstenaar vind dat
hy beperk word deur die werklikheid en dat daar min ruimte vir die vlug van die
verbeelding bestaan, argumenteer McCarthy. Dit kan volgens hom ook as ‘n
kritiek op die Naturalisme gesien word en die beheptheid van hierdie beweging
om die werklikheid getrou weer te gee soos onder meer in die romans van Zola.
Vir die slordigheid en vormloosheid van die Naturalisme had James geen sin voor
nie. Vir hom moes ‘n roman aan vormlike eise voldoen. Tussen die idee en die
vorm van die roman is daar dieselfde verhouding as tussen ‘n naald en gare: "I
never heard of a guild of tailors who recommended the use of the thread without
the needle, or the needle without the thread” (McCarthy, p. 99).
Een van James
se belangrikste dictums oor die skrywer was die volgende uitspraak: "For the
teller is but a more developed reader” (McCarthy, p. 71). Hierdie uitspraak is
gemaak in verdediging teen sy broer, William se reaksie op die einde van The Europeans.
‘n Mens
vermoed hier dat die broer reageer op sekere herkenbaarhede en dat Henry James
se verweer was dat die skrywer beter weet as leser(s) wat iets wegwens...
In Henry James – The Creative Process word
sy vriendskappe met ander skrywers ook toegelig. Onder andere ‘n merkwaardige
verbintenis met die Russiese skrywer, Toergenjef en James se
huldeblyk ná sy dood, kan van toepassing gemaak word op sy eie sieninge van die
skryfkuns. Die sogenaamde “habit of observation” is waarskynlik een van James
se bekendste eienskappe. Die vriendskap met hierdie Russiese skrywer het vele
van James se aanvanklike skepsis oor sy skryfaanslag verander.
In hierdie
studie word James se bewondering vir Flaubert behandel. En die algemene ekstase
vir die werk van George Sand in haar tyd!
Die
verskillende romans wat ons die afgelope paar weke gelees het, lewer kommentaar
op fasette van sowel James se leefwyse as sy artistieke opvattinge. Michiel
Heyns se The Typewriter’s Tale lewer
by implikasie ‘n meer gedistansieerde bik op James se lewe, maar juis deur die
gebruik van ‘n buite-kommentator lewer dit paradoksaal helderder kommentaar op
James se afsydige houding en sy vrese vir intimiteit. Lodge se Author, Author is waarskynlik te
gedistansieerd in sy blik op die skrywer.
Leon Edel in
sy magistrale biografie, noem James “The Observant Stranger” tydens sy Londense
periode. Hy kom as ‘n absolute vreemdeling na die stad, maar ken binne ‘n kort
ruk te veel mense. Hierom dat hy uitwyk Rye toe.
Buite die
gevaarsone van mense wat hom aanhoudend uitnooi vir etes waaraan hy nie erg het
nie.
Die lang
wandelinge – hierop fokus Tóibín onder andere – word in die Edel-biografie in
die grootste besonderhede weergegee. ‘n Mens weet selfs wat die skrywer vir
ontbyt genuttig het!
Al die
verskillende romanskrywers bely hul erkentlikheid aan Leon Edel se biografie en
aan James se romans. Inderdaad kan ‘n mens Edel se invloed sien op al die
romansiers. Die ongelooflike besonderhede waarmee alles opgeteken word, is
bewonderenswaardig. Onder andere lees ons dat hy op ‘n Kersdag in Rome kalkoen
en appelmoes nuttig. Hoe hy wandel, die stadige pas van die lewe in ‘n oop
rytuig meemaak en sy besoek aan Rome vergelyk met ‘n vorige uitstappies.
Hoe hy verby
die Spaanse trappe weifel, wegdraai in die Via Gregoriana.
Leon Edel se
biografie boots bykans die styl van ‘n Henry James-roman na: die kleinste
besonderhede, krakies, ligte wat waargeneem word, die vrees vir alleenheid,
maar terselfdertyd, die bewuswees dat om by bekendes tuis te gaan, sy wêreld
sou verklein en verburgerlik.
Henry James
skryf só uitmuntend oor intimiteit en die spanninge tussen mense, omdat hy dit
self as problematies ervaar het.
Die
verskillende ‘antwoorde’ op Henry James se romans en lewe is soos ‘n ryk
tapisserie vir die leser bekend met James se werk.
Daar word nuwe
lewe aan James gegee en soos reeds opgemerk, moet hierdie ‘antwoorde’ of
‘homages’ gelees word as ‘n soeke na sin en spirituele diepte binne die roman.
Indien ‘n mens
verder sou teruggaan, sou die invloede van Flaubert en Balzac, dalk ook Guy de
Maupassant, se beheptheid met die vorm van die prosateks op James se tekste
uitgewys kan word. En Toergenjef.
Maar hy het
hom buite die letterkundige sirkels gehou; waarskynlik vanweë sy besware oor
hul morele waagstukke (McCarthy, p. 20).
Dalk was Henry
James in wese die gevangene van sy eie morele waardes.
Bronne:
Edel, Leon: The Life of Henry James I, II. Penguin,
Londen. 1953/ 1977.
Heyns, Michiel: The Typewriter’s Tale. Jonathan Ball,
Kaapstad. 2006.
Lodge, David. Author, Author. Penguin, Londen. 2005
(2004).
McCarthy,
Harold T.: Henry James – The creative
process. Thomas Yoselhoff, 1958.
Tóibín, Colm: The Master. Picador, Londen. 2004.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]