Michiel Heyns. The typewriter’s tale. Jonathan Ball,
2005. ISBN 1 86842
229 1.
Resensent: Joan
Hambidge
The typewriter’s tale – a novel is Michiel Heyns, ‘n James-kenner, se blik op hierdie
beroemde Amerikaanse outeur se verblyf in Rye. Die verhaal, vertel vanuit die
blikhoek van sy gefiksionaliseerde tikster, Frieda Wroth weliswaar gebaseer op ‘n
werklike mens.
Die roman is
‘n fassinerende spel tussen fiksie en werklikheid en vir James-afficionado’s
sal dit alte lekker wees om die oorspronklike briewe en romans te lees ten
einde Heyns se afwykinge en aanpassings te sien. Kenners van sy tekste kan eweneens die
gebruik van frases, sinskonstruksies en dies meer in Heyns se roman raaksien.
Die roman –
geskryf tydens ‘n Kreatiewe Skryfwerk-projek aan die US onder leiding van
Marlene van Niekerk – is ‘n briljante teks. Hoe meer jy jou kennis van James-romans
laat inspeel, kennis dra van sy verwikkelde persoonlikheid en neuroses oor
intimiteite, des te meer word die roman kompleks. Dit herinner aan die spel wat
met die kyker gespeel word in die film Il
postino: hoe meer jy van Pablo Neruda ken, des te meer kan jy die
fiksionaliserings begryp en waardeer. En ironies, des te meer word die gebeure
“waar”! Die mag van fiksie skyn sterker te wees as die werklikheid, by
implikasie.
Die roman van
Heyns word ‘n ‘paper-chase’ waarin jy saam met die outeur, die fokalisator, en
veral die tikmasjien inkyk in die psige van ‘n úiters komplekse mens. En ‘n
verbluffende skrywer.
Henry James
(1843 – 1916) het 20 romans, 112 verhale, 12 dramas en verskeie letterkundige
studies geskryf.
Die
Heyns-roman speel in Rye af en ook hier word die gegewens aangepas die storie
ontwille. Sy vader was ‘n bekende intellektueel en hulle het dikwels gereis
tydens sy jeug wat waarskynlik sy perspeptiewe insigte oor hoe gemeenskappe se
sosiale kodes funksioneer, verklaar. James se vrees vir intimiteit en sy
siening oor die funksie van briewe, is belangrike kwessies wat in hierdie roman
ondersoek word.
Moes Michiel
Heyns wel sy nawoord geplaas het? Of moes die leser self soos in David Logde (Author, Author) en Colm Tóibín (The Master) die kreatiewe ontsporings
gaan uitsnuffel? Is dit nodig om te weet dat James op daardie datum ophou
fietsry het en dat die outeur-Heyns hom vryhede veroorlof ten opsigte van
presies wanneer die Lamb-huis verlaat is?
Heyns se roman
staan egter nie ‘n duit terug vir hierdie meesters nie. Ons weet dat Henry
James wars van Oscar Wilde se ekshibisionisme; dat hy jaloers was op Wilde se
sukses as dramaturg; dat hy bevriend was met o.a. Edith Wharton; dat sy romans
beroemder en geslaagder was ná sy dood; dat hy nie kon begryp dat die Britte
Rudyard Kipling as ‘n groot skrywer beskou het nie; dat hy kuns bó die lewe
verkies het weens sy afkeer aan intieme verhoudings (iets wat in Tóibín) ontken
en op sy kop gedraai word).
Sy romans is
al verfilm, soos byvoorbeeld The Portrait
of a lady, Washington Square, The Wings
of the dove, wat ek meegemaak het.
As
James-afficionado het ek verskeie studies oor hom gelees, ook Leon Edel se
groot biografie en vind ek sy romans meesleurend. Gaan lees The typewriter’s tale onder andere vir
die verbluffende navorsing, kommentaar op telepatie en tikwerk, en veral om die
aweregse James-agtige “verhouding” tussen Frieda en Fullerton. Jare gelede het
ek by ‘n tweedehandse winkel (vir R1) Henry
James: The Creative Process gekoop van ene Harold T. McCarthy wat nog ander
moontlikhede oopmaak vir Heyns se spel met James.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]