Tuesday, January 29, 2013

Damon Galgut - In a strange room (2010)



Damon Galgut. In a strange room. Penguin, 2010. ISBN 978 0 143 0627 3.

Resensent: Joan Hambidge


Geagte Leser

Is u moeg vir boeke wat binne die Suid-Afrikaanse landskap bemark word as goed, uitstaande, die beste en dan lees u dit met ‘n gevoel van matelose teleurstelling? Wees gerus: Damon Galgut se In a strange room sal u nie teleur stel nie. Dit word deur Penguin bemark as ‘n roman, maar ‘n mens sou dit ook as ‘n losse versameling tekste kan lees gekonstrueer rondom ‘n outobiografiese ‘ek’, ene Damon / Noel.

Die ‘naked I’ wat ons hier aantref is ‘n reisende, verkennende ek wat getransporteer word van een landskap na ‘n vreemde een: Griekeland, Afrika, Indië o.a. In hierdie beskrywings word die versplintering van die ek aan die leser voorgestel. Die reisende ek is ‘n soekende persoon in die eerste vertelling, “The follower”, word die delikate relasie tussen twee mans beskryf. Wat met jou gebeur terwyl jy reis, is die uitgangspunt van hierdie vertellinge: jy is verveeld, jy is bang, jy kan besteel word en by doeanes in Afrika jou vasloop teen offisiere wat rang trek. 

Die punt van hierdie vertellinge is nie travelogue nie, maar eerder ‘n ragfyne ondersoek van die binnelandskap van die reisende karakter. Hy registreer met ongelooflike waarneming die landskap óm hom en sluit vriendskappe en verbintenisse. Wat dikwels plots tot stilstand kom. Ek ken min boeke waarin die isolasie en vervreemding van ‘n reisiger met soveel helderheid vertel word. Die eensaamheid en onvervulling is die goue draad wat deur die teks loop. Jy kyk as’t ware deur sy oë na ‘n Afrika-landskap of beleef die absurditeite van reisigers wat nie ‘n visum in Afrika kan gebruik nie en telkens by banke voor dooiemansdeur staan.

My eksemplaar is omkring met belangrike uitsprake en oomblikke: die dood van ‘n vriendin waarvan die volle impak hom eers veel, veel later tref (179). ‘n Sentrale fokuspunt is die volgende stelling: “I am writing about myself alone, it’s all I know, and for this reason I have always failed in every love, which is to say at the very heart of my life” (106).
Natuurlik word die landskap korrek weergegee en hierdie leser het soms binnepret gehad oor die anekdotes, veral in Afrika, wat wáár is.

Die teks gaan waarskynlik al die literêre pryse verower. En dit sal welverdiend wees, want Damon Galgut kan skryf. Hy het gedebuteer op 17 met A sinless season en hierna telkens met groter helderheid én sekerheid goeie romans gepubliseer soos Small circle of being, The beautiful screaming of pigs, The quarry, The impostor en The Good doctor. Hy het al gesogte kortlyste gehaal, soos die Man Booker-prys – en ek voorspel goeie dinge vir hierdie roman. (Een punt van kritiek: die verwysing na William Faulkner is onvolledig.)

Die titel aktiveer die idee van “ostranenie” oftewel vervreemding: dat ‘n goeie teks die klip as’t ware klipperiger moet maak (aldus die Russiese Formaliste) of die bekende “strangely familiar”. Deurentyd bly ‘n mens bewus van reisiger-as-optekenaar of skrywer. Op die agterplat word die reisiger tipeer as Volger, Geliefde en Beskermheer en daar is subtiele aanwysings in die teks dat ‘n mens hierdie lewensreis via die tarot kan volg. Daar gebeur ook wonderwerke: die verlore pille word gevind in Indië en nog ánder oomblikke soos ‘n klip wat deur ‘n venster trek, wat nie…wag, wag. Lees self. Die slotgedeelte is ‘n kragtoer en ‘n mens ervaar hoe uitgelewer ‘n vreemdeling is aan die Indiese burokrasie en veral oor hoe wette verskil van land tot land. Jy het nie ‘n visum vir ‘n land in Afrika nie, maar as jy pleit kan jy deurgaan. Moenie net nie omdraai en verwyt as iets verkeerd gaan nie.

As u nie van hierdie boek hou nie, kan u voortaan weet u hoef nie my resensies te lees nie. Wees gewaarsku: wanneer jy begin lees, word jy meegesleur deur ‘n teks wat so subtiel saamgestel is. Jy gaan dit dikwels neersit en nadink oor die tekstuur van vertelling en die verhulde pyn in die teks.

Na ‘n hele paar mindere romans is Penguin weer tops!

Dit is 180 bladsye van jouissance en ‘n verkenning van melankolie en vervreemding. Die beskrywing van die vriendin se diarree en die worsteling met die ellendes rondom haar maniese aanvalle, is grotesk. Die abjekte aldus Kristeva roer hier. Lees dit. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]