Die meester-diskoers oor wat ’n
“goeie” gedig is, word hier en elders te lande gedekonstrueer en herbesoek. Vier
nuwe digbundels by Naledi.
I
In sy gesaghebbende studie oor
kanonisering, The Western Canon: The Books and School of the Ages (1994),
skryf Harold Bloom ons leef in die tyd van onsekerheid en kan nie nou al bepaal
watter stemme binne die Engelse letterkunde oor ’n dekade die toon sal aangee
nie.
Dieselfde geld die Afrikaanse
digkuns, waar soveel uiteenlopende digters tans publiseer. Lina Spies het
onlangs verminderend hierna verwys as “op die lopende band”, maar die paradigma
van die Groot Kanoniseerder (soos D.J. Opperman of André P. Brink) word deur
hierdie menigte aanslae ondermyn of ondergrawe – van Kaaps tot korrekte
Afrikaans; van die gedig as fotostaat tot praatvers; van postmoderne verse tot
estetiese verse; van die gedig-as-knapsekêrel tot loodsware erns . . .
Bo en behalwe NB-uitgewers het
Protea Boekhuis en veral Naledi die afgelope tyd sterk bundels gelewer, soos
Knapsekêrels van Pieter Fourie, Sulamiet van Spies en ’n nuwe Daniel
Hugo-bundel, wat in 2018 verskyn.
Die “kleiner” uitgewer buite
die tradisionele hoofstroom het inderdaad ’n plek en bestaansreg. Dink maar aan
Wilma Stockenström wat indertyd by De Reijger-uitgewers (van Wilhelm Grütter)
verskyn het totdat Opperman haar raakgesien het.
Wat volg, is ’n bespreking van
tendense soos dit na vore kom in vier bundels wat die afgelope maande by Naledi
verskyn het. (Lees in hierdie verband ook Hein Viljoen se insigryke bespreking
in Stilet 22(2) van September 2010. Dit verskyn ook op Versindaba (www.versindaba.co.za)
– tik “Groot avonture in die onlangse Afrikaanse poësie” by die soekbalkie in.)
Hier sowel as in die buiteland
word die meester-diskoers van wat ’n “goeie” gedig is, gedekonstrueer en
herbesoek. Vir elke sytak – postkoloniale diskoers, gay-diskoers, eko-gedigte,
politieke verse, of wat ook al – is daar inderdaad ’n ander manier van lees.
II
Op die vingerpunte van die
heelal deur René Bohnen. Prys: R175
René Bohnen debuteer in 2000
met Spoorsny en volg dit op met In die niks al om (2011). In haar jongste bundel,
wat handel oor die natuur en wetmatighede, spreek die digter sowel die plasma
om die son en sterre aan as die votum en meditasie. Ook opvallend is die
verwysing na digterlike vorms en tegnieke (onder meer koeplette, rondeel,
kwatryne, sonnet, metafore, groen gedig . . .) wat ’n tematiese lyn vorm én ’n
bemoeienis met die digkuns illustreer.
Verder is die digter voyeur, sy
skryf oor reiservarings en die dood, en lewer sterk ekokritiek. Daar is ook
verse oor die kunsteorie en fotokuns, en vir die digter is kuns ’n manier van
gedigte nader roep.
Dit is ’n bundel van terugkyk
en terugflitsverse wat nie-chronologies, bykans in sirkelgang, gelees moet
word. Amanda Lourens som dit klinkend op in haar resensie op Versindaba: Sy wys
daarop dat ons in hierdie dae van soveel debatte oor wat “goed” of “sleg” is,
eerder na die hartklop van elke bundel moet luister.
Hier gaan dit om die
“eilandjies van stilte” en, meen hierdie leser, ook om ’n spirituele ervaring
van die lewe wat die digter wil deel:
want in die vakmanskap se
sirkelgang
teken gedigte net
die grade van vryheid aan (bl.
36)
III
Vuurvas deur Carel Anthonissen.
Prys: R190
Carel Anthonissen se debuutbundel, Vuurvas, met ’n mooi voorblad van
’n vuurlelie wat groei te midde van (of as gevolg van) brande, bevat
religieuse sowel as aardse verse. Op die agterflap beskou Marlene van Niekerk
dit tereg as ’n meditasie en ’n belydenis. Ook loutering . . . inderdaad word
niks gelouter of gesuiwer sonder pyn nie, wat Van Wyk Louw se “Vroegherfs”
oproep.
Vir hierdie leser is die
mooiste verse die eenvoudige oomblikke wanneer meditasie, belydenis en
loutering saam plaasvind, soos in die gedig “Wete” (bl. 80):
vanoggend met die dag se
aankoms in die stad –
die stad met sy gedrang
wéét ek opeens hoe diep
Jy reeds in my sisteem
geskag is
ook deur my bloedstroom
vloei
Daar is ’n hand vol verse in
Vuurvas wat beslis nie verminderende resensies verdien nie: “Bergklimmer” (bl.
29) met die gespook van alleenwees, die gesprekke met die vader en die afskeid
aan die moeder asook die aangrypende “Wintersaandgebed” (bl. 73) sal in die onthouboek
van die digkuns – of sekerlik myne! – opgeteken bly.
An Appetite for Poetry (1989)
deur die Britse literêre kritikus Frank Kermode, wat al deur Nina Auerbach die
“psalmis van literatuurteorie” genoem is, sal belangrike sleutels vir hierdie
bundel verskaf.
IV
Die Goddelike komedie deur
Dante Alighieri, vertaal en verwerk deur Cas Vos. Prys: R175
Cas Vos se
vertaling van Dante se Die Goddelike komedie is uiters ambisieus. In Afrikaans
vind ons Dante terug in motto’s of intertekste, onder andere by Leipoldt, Van
Wyk Louw, Opperman, Blum, Cloete en Pirow Bekker.
Verskillende vertalings van
hierdie magistrale gedig word aangestip waarvan Robert Pinsky se Inferno (1994)
vir my ’n hoogtepunt bly. Net soos in Die mooiste Afrikaanse Christelike
gedigte raak die vertaler te geselserig in sy inleiding, soos op bl. 41: “Soms,
net soms, kan daar dalk ’n vars briesie trek.”
Die digter situeer die gedig
histories en wys op die geskiedenis van Florence en presies dít waarteen Dante
gepolemiseer het. Insigryk word die leser herinner aan die struktuur van die
canto’s en die canticas: “Inferno”, “Purgatoria” en “Paradiso”. Die
ingewikkelde terza rima is by Vos aangepas. Sy tersines is in ’n
aba-cdc-efe-rympatroon vertaal.
In die middel van ons
lewensreis
het ek my in ’n donker woud
bevind –
ek het die regte pad van die
hand gewys.
Ag, hoe moeilik om woorde te
vind;
alles so wild en woes, so
donker en dig
as vrees my met elke gedagte
verblind!
Die bundel bevat aantekeninge
vir die speurende leser wat verdere navorsing wil doen. Soos die digter skryf:
“soveel sinne, soveel gode”, en die leser kan dit vergelyk met ander vertalings
binne die letterkunde. In Afrikaans was daar Delamaine du Toit, wat sy boeke
self moes uitgee, maar later deur die Akademie bekroon is, en as jong student
het ek die Italiaans vergelyk met Dorothy L. Sayers se vertalings.
Ten slotte is daar drie gedigte
van Vos opgeneem: “Die stryd van Aleppo”, “As die gode afdwaal” en “Jesus en
Dietrich Bonhoeffer” waar die noot hoog ingesit word.
Hier vind ons reëls soos:
Vlieë vroetel behaaglik met hul
voetjies
aan sy wonde en slurp sy bloed
(bl. 118)
Die vertaling is dus sterker as
die oorspronklike gedigte.
V
Oop sirkel deur De Waal Venter.
Prys: R175
De Waal Venter is ook bekend as vertaler en kortverhaal- en jeugboekskrywer,
en sy nuutste digbundel, Oop sirkel, volg op Kiem (1963), Klawer (1966, saam
met D.P.M. Botes en Menno Stenvert), Pols (1975) en die Engelse bundel
Entangling States of Mind (2010). Volgens publisiteitsmateriaal moet die titel
van die nuwe bundel só gelees word: “’n Sirkel het geen punt wat as ‘voor’ of
‘agter’ beskryf kan word nie. Enige punt op ’n sirkel het presies dieselfde
status as enige ander punt.”
Afdeling I en III handel oor
die persoonlike geskiedenis, terwyl die tweede afdeling oor die liefde handel.
In die vierde afdeling kom filosofie en wetenskap aan bod, die vyfde en sesde
afdelings betrek humor en ironie, en die sewende handel oor die digkuns. Die
laaste afdeling bevat prosagedigte.
In J.C. Kannemeyer se beknopte
Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 word verwys na die ek-gesentreerde poësie
van hierdie digter, wat nie ’n wesenlike beswaar mag wees nie. Hy verwys na die
“weinig beelding” en swak liefdesverse.
Van die geslag waartoe Venter
behoort het ten tyde van sy debuut, het Breyten Breytenbach die sterkste na
vore getree, terwyl Wilma Stockenström op haar beurt ’n besonderse stempel
afgedruk het. Venter se verse sluit aan by die losser gestruktureerde verse uit
die 1960’s en ’70’s wat assosiatief werk en wentel om opsetlik disparate én
teenstrydige beelde. En so moet dit ook benader word.
In Oop sirkel is opwindende
idees, veral oor die wetenskap en die gedig wat op sigself inbuig, te bespeur,
maar daar is selde vuurwerk. Dikwels is dit net verkapte prosa omdat die digter
’n slim idee wil oordra, soos “Droom muskiete van elektriese skape?” (bl. 73)
en “Onbekende digter” (bl. 109), wat só klink:
Hendricus van Laatmijgen
is geheel en al onbekend
in die geskiedenis van die
Nederlande
van die sewentiende eeu. . .
Op bl. 108 meen die digter
“poësie is die ware taal van die ongetemde gemoed!” en probeer peil wát die
ware gedig bepaal, maar selfs hier in die getob oor die kunsvorm bly dit
dikwels net stelling. Dieselfde geld “Poësie as ’n organisme” (bl. 103) waar ons
die lewenskrag mis van die gedig.
Ons vind ook talle selfbewuste
of narcistiese verse wat handel oor die digterskap in ’n voortdurende soeke na
die “ware gedig”. Hier is Kermode nogmaals tersaaklik: In die genoemde teks
tree hy in gesprek met Culler dat literatuurkritiek voortdurend aannames moet
ondersoek oor wat goed/sleg in die digkuns behels.
VI
Persoonlik verkies hierdie
leser die gedig met min woorde. Die tyd van onsekerheid, van onrus in Bloom se
terme, maar die kleiner uitgewer bring die wins van vergelyking.
© Joan Hambidge
(Hierdie rubriek word geplaas met vriendelike
vergunning van Rapport)