I
In 1978 het ons Dallas begin gekyk, daardie televisiedrama
met Larry Hagman as die grypsugtige, onderduimse olie-taikoen. Bekend om die cliff-hangers soos “Who shot J.R.?” het die reeks
boeiend gebly tot in 1991.
In die volksmond was dit bekend as “die
gejok en gefok van die kinders van oom Jock”.
Jock Ewing het weer uit die dode
opgestaan in die vorm van 'n Steinhoff-sage. Southfork is nou Stellenbosch met
'n taikoen wat resiesperde besit, 'n wynplaas, 'n huis in Hermanus, 'n
vermeende minnares met 'n Bentley en vele eiendomme, ryk kinders, 'n straler en
wat nog. En 'n rags to riches-verlede.
Bosmanstraat in Petoorsdorp. 'n Kind op ouderdom twaalf wat deel word van die
pret van weddenskappe.
Boonop word eiendomme nou sommer
platgeslaan om iets beters of groters te bou.
En as 'n naburige restaurant nie behaag
nie, word dit ook uit die pad gevee. Die huis op die rotse (hoe simbolies) se
bouery is inmiddels gestaak.
Nou is daar 'n cliff-hanger.
Wat is volgende? 'n Sepie met die titel “Die geknersus en gekerfus van ou Merkus”? Sal Kevin
Spacey dalk belangstel na House of cards?
Hoe lyk dit Charlize Theron?
Gaan die state alles verklap? Die
Joostestreke openbaar word?
Is dit waar dat 'n miljoen in Stellenbosch 'n mouton heet en 'n biljoen 'n wiese?
Vriende en kennisse het baie verloor in
hierdie debakel. Dan praat ons nie eens van werkers se pensioengelde nie. En
soveel mense wat dalk hul werk gaan verloor nie.
Waar was die direkteure toe hulle die
boeke moes afteken? Dalk elders aan diens?
Daar bestaan 'n urban
legend dat aan die
einde van elke episode van Dallas op 'n Dinsdagaand het New York se
rioolsisteem gelol, omdat almal gelyk badkamer toe gegaan het. Ons watertekort
kan egter nie so 'n rioolprobleem hanteer nie.
II
Die impak van van ons eie Southfork het
verdere implikasies. 'n Kollega weet te vertel dat wanneer huise in
Stellenbosch platgeslaan word, dit vinnig moet gebeur sodat geen wasbak, vensterraam of deur
in die hande van 'n bouer beland wat dit dalk tweedehands kan verkoop of hergebruik nie. Dit moet alles vinnig gebeur sonder om te besef hoe dit ander
mense se lewens raak. Die gaping tussen “haves” en “have nots” word dus al hoe
groter.
Daar word glo gespog oor hoeveel
vermoënde beleggers op hierdie dorp “verloor” het in hierdie fanfare – net om
te spog oor hoe ryk hulle eintlik is. Dis nou wat gebeur wanneer krummeltjie
brood word.
III
Die dirty business of Dallas word nou herhaal in hierdie
eg-Afrikaanse drama. Dallas het 357 episodes beleef en die ingeligtes en
kundiges voorspel dat ons nog vir baie lank van hierdie skouspel in dagblaaie
gaan verneem.
Rykdom, mag, seks en die voortdurende
stryd tussen die Ewings en die Barneses word nou verplaas na 'n spanning tussen
die Joostes en die Wieses.
In Dallas is daar 'n stryd tussen goed en kwaad;
al is dit net in die kyker gesetel. (Besoek 30 Desember 2017).
Nou is die cliff-hanger wanneer die Steinhoff-direksie al die
vrae gaan beantwoord?
Die oorspronklike verhaal van Dallas handel oor bedrog (cheating) oor olie en 'n vrou wat
afgevry word. Beesboedery word nou vervang met renperde in ons eie skouspel.
IV
Iemand het op Jooste se Hermanus-huis thief en con-artist geverf. Net soos 'n kuberkraker op sy
wikipedia-profiel onvleiende eienskappe aan hom toegedig het.
In die oorspronklike Dallas-produksie
was daar main cast departures.
Ons onthou almal Jock Ewing se “misterieuse” dood in 'n
vliegongeluk in Suid-Amerika en Bobby se dood wat alles net maar 'n droom was van
Pamela Barnes Ewing ...
Die vraag is op almal se lippe: waar
bevind Markus Jooste hom tans?
Of repeteer hy vir sy rol in Markus
does Ballas?
© Joan Hambidge