Ek lees vandag in die koerant se In memoriam van jou dood. 'n Foto van 'n veel jonger jy, die effens lonkende blik, die familie se medelye. Sonder die oorsaak van jou dood. Maar tussen die reëls staan dit dáár.
Ek plaas die koerant neer en dink na oor ons verbintenis. Toenadering van jou kant wat deur die jare driftiger en gevaarliker geword het.
Voel ek 'n verlossing? Voel ek aandadigheid? Dit was immers ek wat ...
My sielkundige het versoek dat ek, vir die wis of onwis, 'n verslag moet skryf in geval daar 'n verdere ondersoek plaasvind. In 'n gedistansieerde, sober aanslag. Sonder enige leuens of verdigsels.
II
Goed dan. Ongeveer twintig jaar gelede begin jy (ongevraag) met my te korrespondeer in handgeskrewe briewe. Bykans elke dag is daar 'n brief van jou. Dit word persoonliker. Dit begin my bedreig. Ek versoek jou om nie verder kontak te maak nie.
Ek, die romanskrywer toe woonagtig op 'n afgeleë dorpie, genaamd P.
Jy hou egter aan. Later begin jy my handskrif naboots.
Ek ignoreer jou verdere briewe. Op 'n dag bel my uitgewer my. "Hier is 'n manuskrip van jou. Maar ek kan dit nie publiseer nie. Dis iets wat jy al vantevore beter gedoen het."
Ek verduidelik aan haar van die briewe. Van die man se aanslag op my lewe.
Dit is in die dae voor die hoogbloei van postmodernisme en sy is nie beïndruk met die spel nie.
Sy stuur 'n afskrif van die brief aan die jong man aan my, die ouer vrou.
Daarna publiseer hy wél 'n roman waarin ek sydelings 'n rol vertolk. Die roman word nie deur die kritiek goed ontvang nie. Dis nou tien jaar later. Pastiche, skryf een resensent. Nabootsing, meen 'n ander.
Konterfeitsel, dink ek. 'n Verhaal waarin hy onbewustelik soos ek wil wees en my identiteit probeer kaap.
Ek verlaat die platteland en trek stad toe. Hy woonagtig toe op 'n ander dorpie in die Vrystaat.
My roman Begeerte begin vorm aanneem. Ek skryf 'n roman-binne-in-'n-roman met verwysings na werklike insidente en mense.
Die jong man publiseer 'n tweede boek. Hy dra selfs sy pen dwars in sy hemp soos wat ek graag doen vir vinnige notas of idees. Hy dra 'n Gucci-bril, nes ek. Gerugte doen die rondte dat hy ook dieselfde fabrikaat motor as ek ry.
Dat hy alles van my wil weet ...
III
The 'imitations' of A Sentimental Journey are uniformly disastrous - turgid, farcical and insipid, skryf Iain McGilchrist in Against Criticism (Faber & Faber, 1982, 151) oor Sterne se nabootsings in Tristram Shandy.
In Tennessee Williams se A Streetcar named Desire meen die desperate Blanche Dubois die dood is die teenoorgestelde van begeerte.
Of dalk is dit eerder waansin?
IV
Die ontknoping?
Ek het met hom begin korrespondeer, sy handskrif begin naboots en 'n roman in sy naam ingehandig wat tot 'n uitgerekte lastereis gelei het en hom finansieel geruïneer het.
Maar niemand kon ooit bewys dat ek daarmee iets te make had.
Dis tog alles net 'n spel, nie waar nie?
Opperman se blik-op-blik.
© Joan Hambidge