Tuesday, December 5, 2017

Resensie | Elsa Joubert - Spertyd (2017)

Elsa Joubert - Spertyd. Tafelberg, 2017. ISBN 9780624084327

Resensent: Joan Hambidge

‘n Wonderlike geweld (2005), Reisiger (2009) en nou Spertyd. Dit is die memoires van Elsa Joubert. Die jongste boek is 207 bladsye lank en dit lees vlot. Dit ‘n merkwaardige boek van ‘n skrywer wat op 95 haar lewe sonder enige sentimentele aanslag vir die leser aanbied.

Sy vermeld die rol van haar kinders en meer spesifiek, haar seun Nico se aanmoediging met die woorde dat sy altyd vreemde plekke besoek het en nou betree sy, in sy woorde, die “kontinent van die ouderdom”. Sy bedank die Berghof-personeel vir hul ondersteuning in die tyd wat sy al hoe “krankliker” geword het.

Enige leser wat ‘n met ‘n bejaarde persoon in aanraking is (of was), sal kan identifiseer met die pynlike ervaring van broosheid (vir sowel die buitestaander as die ouer mens), die afwagting van die dood (‘n taboe-onderwerp in Berghof), die terugkyk op ‘n lewe wat verby is. Indien dit ‘n skrywer is, word ander ervarings bygebring: ‘n letterkundige sisteem wat verander het (hier het Etienne Bloemhof kon oorneem by Riana Barnard) en ‘n politieke sisteem wat daagliks transformeer.

Kyk hoe mooi praat Etienne Bloemhof oor haar boek (Spertyd deur Elsa Joubert/ bekendstellingstoespraak | LitNet. Besoek 5 Desember 2017).

Joubert, ‘n sterk bekroonde skrywer, het immers haar hele lewe lank oor die politiek geskryf: daar was Die swerfjare van poppie Nongena (1978), die reisvertellings, Die reise van Isobelle (1995), te veel om op te noem. ‘n Gunsteling vir hierdie leser bly Die Wahlerbrug (1969).

Hierdie vertelling heet spertyd – soos in dead-line – en hier volg ‘n paar indrukke.

Die boek is absoluut meesleurende leesstof. Ek het dit letterlik in twee sittings deurgelees. ‘n Mens beweeg saam met die skrywer van ervaring na herinnering. Sy skryf: Herinnering wat diep in my hart verborge was, kom nou so sterk na my terug, ander beelde dring tot my deur …” (76). ‘n Paar paragrawe later vra sy: Kan ek my geheue en verbeelding uitmekaar hou? Die landskappe van die gees vloei in mekaar in.” (77)

En dit is wat die leser tref in hierdie bewussynstroom-tegniek: herinneringe, ‘n nadink oor die lewe en spiritualiteit. Sy bely dat min van hulle Sondae kerk toe gaan en sy wonder saam met ‘n vriendin oor die rol van die kerk.

Die vertelling-in-herinnering gaan terug na sleuteloomblikke in haar lewe, waarskynlik momente wat haar as skrywer gevorm het. So ‘n vertelling is die ervaring op ouderdom tien toe hulle op reis is. Padkos met toebroodjies en hoender. Die moeder onthou dat sy vergeet het om die hoender die vorige aand in die yskas te sit en nou is dit op reis nie meer vars nie. Die vader gee opdrag aan die dogter (nie die seuntjie nie) om die hoender aan die karretjiemense te gee. Tog vandag nog wil sy vergifnis vra om die bedorwe hoender wat sy vir hierdie mense gegee het.

Jung het by geleentheid daarop gewys dat ‘n mens in jou ouderdom by jou essensie uitkom. In ‘n film oor sy lewe verwys hy na die agtermiddag van jou lewe en die reis na binne (Senior Circles/ Carl Jung's theories on aging - Baltimore Sun. Besoek 5 Desember 2017). 

Spertyd sit vol vinjette wat vir die leser en Joubert-liefhebber sleutels gee tot haar sosiale gewete.

Dit is ‘n boek waarin die skrywer hardop dink, o.a. oor taal. Sy nuanseer telkens haar gevoelens. Enersyds is sy krities oor die Afrikaner se groepdenke (met Afrikaans wat nou ook in die spervuur is); andersyds weet sy Engels is die wêreld- en kompertaal. Sy is wel ‘n taalpatriot, bely sy, en maan ons om eerder die klein erfie wat jou toebedeel is, te bewerk (128).

Daar is herhalings wat te make het met die sirkelgang, met herbesoeke, met hardop-dink.

Vriendskappe word beskryf (Audrey Blignault, Rita Scholtz, Annari van der Merwe, die taxi-bestuurder …) en die belangrikheid van haar kinders en kleinkinders – en natuurlik: haar man, wyle Klaas Steytler, ‘n onderskatte skrywer.

Wat Elsa Joubert skryf oor die behoud van boeke, moet ons almal ter harte neem. Hoe boeke (regte boeke) vertroos. Sy verwys na ‘n boek uit 1926, Sahara, en hoe onmoontlik dit sou wees om hierdie boek op elektronies te lees. Hoe boeke om haar staan, wegraak, asemhaal, ja dit kan ‘n mens nie vergeet nie.

Eweneens boeiend, is die verhouding met haar liggaam en siekte; die agterbaksheid van die liggaam. Dan is daar ‘n sterk besinning oor stilte wat in ons almal skuil.

Boeiend, prikkelend, sensitief …