Ronelda S. Kamfer – Hammie.
Kwela, 2016. ISBN 9780795707575
Resensent: Joan
Hambidge
Hammie is ’n Kaapse woord vir “ma” of “moeder”. En hierdie bundel aktiveer
Nancy Friday se My Mother My Self (1977) en hoe die vrou-as-digter (in die
besonder) haar self posisioneer teen die moederfiguur.
In Afrikaans het veral Antjie Krog op ’n onrustige wyse hierdie verhouding
met haar moeder, Dot Serfontein, gekarteer en ondersoek. Sylvia Plath se
Letters Home: Correspondence 1950-1963 (1975), die verslag van ’n digter se
briewe aan haar moeder, word ook in herinnering gebring.
In die gedig “Vetste vlieë” speel Kamfer klaar met die “nuwe breed” van
feministe wat volgens haar “amper altyd kak dom” is.
Kom ons praat sommer padlangs. Hierdie bundel is stérk en tref jou tussen
die oë: oor die vreeslose ondersoek van familiegeweld, haat (oor apartheid),
die ónbereidwilligheid om te vergewe (en vergeet), die uitskryf van
maatskaplike ellende, genderpolitiek en geweld op alle vlakke.
Die gedig word selfs ’n ruimte waar die emosionele geweld opstu en jou as
leser saamsleep.
Die gedig word ’n soort “mission impossible”. En tog is daar
weerlose verse soos hierdie een op bladsy 41:
Koud
die tweede dag
het ons gesit en wag
my hand op haar hand
alleen in die donker
Kamfer was verpleegster en hierdie werk word ook hier onder die loep
geneem.
Die moeder se siekte en besoeke aan die “ICU” word oopgeskryf (“Nathan”)
en die moeder se “troupanne” word later verpand vir kos. Wanneer die moeder
sterf, hoop sy dat sy nie tot rus kom nie, maar sal bly haat:
Onrus
ek hoop sy rus
nie in vrede nie
ek hoop sy haat
waar sy is
In hierdie bundel word die emosionele reaksie op die moeder se siekte –
met skerp aanduidings dat dit deur uitbuiting veroorsaak is – en die
uiteindelike besoeke aan die hospitaal ontgin.
Ronelda word vir die ma “Neldie”; en as Allisen, die suster, iets sou
oorkom, sal sy haar vrekmaak (“Wees lief vir mekaar, kyk agter haar, Neldie, sy
is jou suster . . .”). In “Volkspele” word wit skryftydgenote uitgehaal: hul
depressies en wedersydse hatigheid. Altyd die kompromislose, onvergewensgesinde
waarnemer; immer woedend en in die gedig “Slapende honde” weier sy volstrek om
die Jonker/Krog/Bukowski-rolmodel te wees:
gelukkig het ek
hulle nie geglo nie
omdat ek weet
hoe mense is
hulle is kak
hulle hou van ’n vrou
in pyn
hulle hou van ’n dronk suicidal
teef
met genoeg suicide
vir hulle om op af te jerk
en genoeg teef om te admire
’n Mens kan jou voorstel hoe my resensie eweneens versnipper sal word met
’n hoonlag en ’n gevoel van wat weet jy van my situasie.
Noudat slapende honde (die debuut uit 2011) het juis indertyd getref weens
die besegging van al die genoemde ellendes van ’n onregverdige bestel.
Sy spreek benewens die ontslape moederfiguur haar partner Nathan Trantraal
aan. ’n Mens lees ook figure soos Krog en Annemarié van Niekerk raak. Trouens,
’n mens sou ’n vergelykende studie kon doen oor hoe haar gedigte met Trantraal
in gesprek tree.
Dit is ’n kompromislose bundel en een wat nie doekies omdraai nie. Die
bundel verraai diep emosionele wonde. ’n Mens lees met groot pyn die woorde van
die moeder: “Ronelda, jy is my kind en jy bly my kind tot die dag wanneer die
maan ’n ander naam kry.” – Gertruida Kamfer /Hammie, November 1999, Stratford
Green, Eersterivier.
Hammie is ’n sterk bundel en een wat Kamfer se reputasie gestand doen ná die
effense insinking van die tweede. Dit is nie “mooi” verse nie, maar is
bloedige, aanvallende verse.
En ons weet mos dat woede ook pyn is, omdat dit ’n groot stuk magteloosheid dra. Die gedig op die agterplat som dit op: Die glasstukkies is onder die vel begrawe.
En ons weet mos dat woede ook pyn is, omdat dit ’n groot stuk magteloosheid dra. Die gedig op die agterplat som dit op: Die glasstukkies is onder die vel begrawe.