Milan Kundera - The
Festival of Insignificance. Faber & Faber, 2015. ISBN 9780571316465
Milan Kundera is ’n gerekende skrywer. Daar is gedeeltes van elke roman
wat ’n mens bybly. Hy weet hoe om die menslike kondisie vas te vang en die ellende
van eensaamheid te midde van gemeensaamheid te verwoord.
The Joke. The Book of Laughter and Forgetting. The Unbearable Lightness
of Being. En daar is vele ander tekste waarin hy die menslike bestaan ook
teen die groter geskiedenis van politieke ongeregtighede of veranderinge
projekteer.
Jy kan immers nie iemand uit die geskiedenis redigeer nie; die hoed bly
agter.
The Book of Laughter and Forgetting: ’n Foto van 21 Februarie 1948,
waar Vladimír Clementis neffens Klement Gottwald staan. Toe Vladimír Clementis
in 1950 aangekla is, word hy uit die foto verwyder saam met die fotograaf Karel
Hájek.
En om Kundera te verfilm amplifiseer die problematiek dat hy onvertaalbaar
in die filmkuns is, juis omdat hy so gedronge, metafories én assosiatief skryf.
Daar is eweneens essays oor die binnewerkinge van die roman, soos The
Art of The Novel, Testaments Betrayed, The Curtain, Encounter
. . .
Die jongste roman heet The Festival of Insignificance. Dit is
pakkend geskryf. Vol dinamiet. En dit is dalk die werk van ’n ouer skrywer,
maar hierdie man het nie sy aanslag of energie verloor nie.
“Human existence is nothing but solitude” verneem ons op bladsy 62. En dan
kom die ander karakter se teen-antwoord: “A solitude surrounded by other solitudes.”
Daar word wrede opmerkings gemaak oor oudword en aftrede.
’n Swanger vrou probeer haar eie lewe neem. Wanneer sy die water tref,
begin sy instinktief swem. ’n Man probeer haar red en hý verdrink.
Dié roman is dan ’n besinning oor die toekoms van die roman. Verskillende
afdelings kondig die verhaalgang aan (“Part One: Introducing the Heroes”) met
die implikasie dat hier ’n afwesige en dus manipulerende outeur aanwesig is. ’n
Aansluiting by die tradisie van die 19de eeu waar die outeur sy karakters
voorstel as mense met foute en beperkinge?
Hierom begin die roman met nawelstaardery. Is die skryf van ’n roman,
wetende dat Kundera tong in die kies skryf, ’n selfbewuste, narcistiese daad?
Of blote erotiek? Leuens wat tot ’n gelag lei, is aan die orde van die dag en
die ingebedde teks Memoirs of Nikita Khrushchev laat die absurde verder
uitwaaier.
Het Stalin die waarheid vertel oor die skiettoneel van die patryse of is
dit alles net ’n grap? Moet ons verder die verteller glo oor die gekleurde
urinale? Hiermee impliseer Kundera waarskynlik hoe die geskiedenis geskryf word
deur anekdotes en urban legends.
Ingebedde besinnings oor moederskap en moedertaal word eweneens aangetref.
Soms skryf Kundera sy romans in Frans. Hoe voel hy as Tsjeg oor die “nuwe”
Europa en sy migrante?
En moet ons Hegel, Schopenhauer of Kant verstaan om hierdie roman te
begryp?
Bepaald nie, maar tipies Kundera speel hy ’n spel met “das Ding an sich”
en hoe die roman sekere filosofiese waarhede probeer daarstel, al is dit
tevergeefs. Die verwysing na Caliban en marionette en ook Bakhtin aktiveer ’n
spel binne-in ’n spel. Die karnivaleske, dus.
Met name soos Quaquelique weet jy daar is baie oogknippe – soos die titel
van die roman wat menslike individualiteit bevraagteken.
Daar is romans wat bloot ’n storie vertel, in Colm Tóibín se terme, daar
is ’n dans en alles beweeg vorentoe. Hier is dit metaforiek, vinjette,
implikasie en die leser moet self die verbindings tussen tonele trek. En alles
beweeg eerder opwaarts as vorentoe. Helde, marionette, moeders (en oorsprong),
vere, engele en dan die gevolgtrekking: “The festival of insignificance.” Daar
is ’n getob oor ouer word en die dood, oor afgetredenes wat in die pad is.
’n Kennis van Shakespeare en die Russiese en Oosblok-geskiedenis maak die
leesproses vlotter.
Uiteraard is daar, soos met alle ouerwordende skrywers, terugverwysings na
vorige romans. Die boek moet gelees word as ’n epiloog tot sy groot romans.
Daar is min skrywers wat so deur die tydgenote besing is as Kundera:
Salman Rushdie, Carlos Fuentes, John Updike, Ian McEwan, om enkeles te noem.
Dit is ’n juweel van ’n roman. Ek waag ’n raaiskoot: Hy wou eintlik ook ’n
metarefleksiewe teks oor die roman as kunsvorm skryf soos dikwels in
romanskrywers se “laat werk” gebeur.
Nie sy grootste nie, maar beslis uiters genietlik.
Net humor kan ons red, predik hierdie roman – die oneindige goeie
gemoedstoestand (unendliche Wohlgemutheit): “Not teasing, not satire. Only from
a height from an infinite good mood can you observe below you the eternal
stupidity of men, and laugh over it” (bl. 77). Aldus Ramon.
En die voorblad is veelseggend: die afhaal van ’n masker! Een oog laggend,
die ander een teen ’n blou agtergrond.