Fanie Olivier (Samest) - Die heel
mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Human & Rousseau, 2016. ISBN 9780798170406
Resensent: Joan Hambidge
I
Op die Versindaba het ek in 2010 geskryf oor die
liefdesgedig in 2010 en onder meer gesprek getree met Roland Barthes se
beroemde A lover’s discourse (Woorde wat Weeg/ Die liefdesgedig. ‘n Persoonlike belydenis).
Marius Crous resenseer die bundel vanoggend 15
Februarie vir Die Burger en Beeld (“Olivier se groot verseboek van
die liefde”) en verwys eweneens na Barthes se beroemde fragmentariese teks. Die
intertekstuele spel tussen resensies kan ‘n interessante vakgebied word. Toe ek
indertyd verwys het na “vermeende” foute in Kerneels Breytenbach se roman Ester het dit my groot jouissance
verskaf om te sien hoe dit die resepsie van die teks verander het. Die
sogenaamde “fout” in die (post)moderne teks mag; dit weet ons uit D.M. Thomas
se Flying into love (1992) waar die
historiese werklikheid aangepas word of in sy roman The white hotel (1981) waarin Freud en Jung optree. Die kenner van
hul lewens weet watter kanse Thomas vat. Terselfdertyd is Barthes oor die
liefde ‘n seminale teks waarsonder ‘n mens nie die sogenaamde “heel mooiste”
liefdesvers kan benader nie.
Hierdie boek verskyn presies drie jaar na die moord op
Reeva Steenkamp. Op daardie dag vier ek vir oulaas Valentynsdag met my geliefde,
‘n geskryfde, en ‘n jong man gee vir ons elkeen ‘n roos persent – een vir my,
een vir die geskryfde, een vir sy geliefde. Drie jaar later is ons deur die
media-verhoor van Oscar Pistorius en al die kwessies rondom ‘n verhouding wat
die pers sou uitblaker …
En as jy die liefde ken, weet jy deur watter pyn
hierdie man moes gaan na haar dood.
Hierdie kwessie neem ‘n mens na G.A. Watermeyer se
klassieke vers uit 1948 wat heet “Ballade op die dronkparty” wat so eindig:
Die liefde is die bitter glas,
die droë glas, die donker glas;
die liefde is die naverdriet
wat in die hart se holte pas.
Hoe resoneer hierdie vers nie steeds nie?
Olivier se bloemlesing is myns insiens belangrik,
omdat hy die net wyd gooi; waarskynlik te wyd, maar vanuit ‘n historiese
perspektief is dit opwindend om die ontwikkeling van die liefdesgedig te sien.
En hierom sal ‘n mens sterk reageer op die nou geykte “Jou liefde is ‘n helder
vlam / wat stil en suiwer voor my brand” van I.D. du Plessis wat in 1952
verskyn het. En Boerneef as motto as waarskynlik ook al ‘n bietjie lank in die
tand:
Mits dese wil ek vir jou sê
Hoe diep my liefde vir jou lê
Breytenbach se “Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n
rooiborsduif” is ‘n klassiek.
Sekere liefdesverse in Afrikaans is onvergeetlik mooi:
daardie nog-in-my-laaste-woorde of die beklemmende teen dusketyd, een van die
verruklikste verse van Boerneef.
Dit is goed dat hy jonger digters ook opneem, want hul
belewenis van die liefde is anders: daar is die internet, sms-taal, moderne
musiek, ensomeer wat Valentynsdag op Facebook anders daar laat uitsien.
Die meeste liefdesverse handel oor die bloedige
afloop: Carol-Ann Duffy se liefdesverse bewys dan ook dat Jonker reg was:
die liefde’s niks anders
as die verlange (“Gistraand”, 1963).
Die dye
trek die dye aan (Johann de Lange en Antjie Krog)
1998 is die pendant vir hierdie versameling van Olivier: hier is dit die meer
robuutse seksvers wat opgeneem word. ‘n Mens sou dit ook lyflike verse kon
noem.
II
Roland Barthes se bekende A lover’s dicourse dra ‘n sub-titel, te wete “fragmente”. Miskien omdat ‘n mens nooit die geliefde in
volledigheid kan beskryf of besit nie.
Die “discours amoureux” is in Afrikaans só veelsydig.
Barthes beskryf hoé die geliefde jou volledige universum word en dat jy later
alles as tekens van die geliefde interpreteer.
Barthes skryf oor die “angoisse” of agonie wat die
geliefde ervaar: die wag op ‘n wederwoord of ‘n verwerking van die afsegging,
van die verby-wees oftewel, die “cri de coeur”.
Is die parodie of pastiche nie dalk juis ‘n poging om
hierdie pyn te probeer systap nie?
Want die liefdesvers dra in sigself die Petrarcaanse
paradoks: jy raak dikwels verlief op die projeksie wat dalk niks met die
werklikheid te make het nie. Petraraca, so skryf
kenners van die Canzoniere,
het Laura nooit geken nie, sy was ‘n maaksel / ‘n konterfeitsel.
Tog het hy bitterlik geween toe sy dood is.
III
Olivier (tans woonagtig in Pole) het hierdie bundel
vanuit die buiteland saamgestel. Volgens sy eie belydenis in ‘n biblioteek in
Gent. Hy verwys dan ook na ander bloemlesings met “omvattende inleidings” en hy
skryf:”Literatore sou miskien kon hoop op teoretiese opmerkings. Oor waar en
wanneer die sonnet oorheers, wat die funksie van die kwatryn is om te help dat
die gedig die emosie temper en of daar iets te sê is oor langer of korter
gedigte teen die maatskaplike, politieke of ekonomiese agtergrond”.
En dit is presies wat hierdie leser – sowel die digter
as die teoretikus – verwag van ‘n bloemlesing. Ons is nou onlangs vergas met ‘n
bloemlesing wat praat oor gedigte wat nie daarin opgeneem is nie (In a burning sea), en lesers bestaan
immers ook uit studente wat iets moet verstaan van die tradisie waartoe hulle
behoort. En dat daar teorieë bestaan dat die Petrarcaanse sonnet die droom en
werklikheid van Petrarca se psige vergestalt en dat die kwatryn – daardie
“weerlig van die ongeloof” – juis die vinnige liefdesuiting só uitstortend
opvang. Skryf mans juis hierom meer dikwels kwatryne as vroue? Is die kwatryn
‘n soort saadstorting?
Ons sou eweneens ook die gesprek tussen digters verhelder
wou sien – soos De Lange se “Nog in my laaste blow job” (uit 2014) terug praat
met Van Wyk Louw; of Antjie Krog se ‘huisskoonmaak” uit 2014 tree in gesprek met
Eybers in ‘n (verhulde) sonnet.
Hipotese: Daar bestaan ook genderverskille tussen
gedigte van manlike digters (wat dikwels meer op die sien/kyk fokus) en
vroulike digters wie se verse meer fokus op aanraking. Bevestig deur Tom Gouws se gedig uit 2012 “vrou
slapende” waar die man kyk en ‘n bestekopname maak van die vrou en die taktiele
vers van Petra Müller uit 2002 wat “onderweg” heet.
Die gedig as “deurskynende liggaam” (196) sou ‘n mens
weer kon neem na Barthes se The pleasure
of the text …
Watter digters het die meeste verse geskryf oor die
onderwerp van die liefde? Skryf gay-digters meer oor die afgelope, kortstondige
verhouding as straight digters?
En handel ‘n liefdesgedig oor ‘n werklike
liefdesavontuur of oorstyg dit juis die oomblik? Ek onthou hoe drie vrouens
aanspraak gemaak het op ‘n liefdesvers in Bitterlemoene
en nou onlangs is ‘n liefdesvers van my in ‘n in memorian in Die Burger geplaas wat die liefdesvers
“Wete” verander het na ‘n lykdig.
Hou ons digkuns op hierdie gebied kers vas by
buitelandse bloemlesings?
Die “heel mooiste” dui reeds op ‘n emosionele uiting.
In die kolofon staan daar dat die uitgewer haar bes
gedoen het om al die digters op te spoor. Indien die uitgewersbrief jou nie
betyds bereik het, kontak die uitgewer.
Hierdie bundel het in 1986 verskyn vir die eerste keer
en herdrukke en uitbreidings beleef in 1992, 2001, 2006.
Ook dit sou tersaaklik wees: die veranderende
politieke “back drop” en hoe digters steeds bly dig oor die liefde ten spyte
van alles wat verander (het) en aanspraak maak op ons daaglikse oorlewing.
Kaapstad, Februarie 2016
Bibliografie
Barthes, Roland. 1979. A lover’s discourse: Fragments.
New York: Hill and Wang.
1973/1975. The pleasure of the text. New York: Hill and
Wang.
Brink, A.P. 2000. Groot verseboek 2000. Kaapstad:
Tafelberg.
De Lange, Johann. 1998. Die dye trek die dye aan.
Kaapstad: Human & Rousseau / Tafelberg. (saam met Antjie Krog).
Olivier, Fanie. 1992. Die mooiste Afrikaanse
liefdesgedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.