Sowat ‘n jaar gelede skryf ek vir Anton
Prinsloo ‘n e-pos waarin ek hom bedank vir sy werk as taalkenner. Dit is nadat
ek ‘n rubriek gelees het waarin hy iets so helder verduidelik – net soos
Gerhard van Huyssteen wat deesdae rubrieke behartig en vir ons sake verduidelik
soos die belangrikheid van die sirkumfleks (oftewel die kappie). Die akuut en
gravis kom so saam, nie waar nie!
Prinsloo skryf terug en bedank my vir my
aandag.
Nou moet ons dit pront en duidelik stel.
Woordeboekmakers, taalkenners, taalpolisie, lede van die taalkommissie, is my
helde. Ek lees woordeboeke vir my plesier. Langs my bed neem ek dikwels Louis
Eksteen se Sinoniem-woordeboek ter hand of die De Stadlers se Afrikaanse
tesourus waarsonder geen digter durf dig nie. Of geen skrywer ‘n roman durf
skryf nie. Of resensent ‘n oordeel mag vel nie.
Die HAT en WAT is my Bybels. Ek borg
graag woordeboeke, woorde soos Vuisboek of Goegeloer. Of Hamboud.
Wat van flikkereer (vir ogies maak) of
tjekkereer?
Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom (Pharos, 2004) is ‘n belangrike teks in my lewe. Hier kan ‘n mens sien
hoe ‘n woord of uitdrukking transformeer en van een kultuur na ‘n ander sy
beslag kry.
Nou onlangs beweer ‘n kelner hoe moeilik
dit is as mense nie "opsteek" by restaurante nie, met ander woorde,
nie opdaag nie.
‘n Mens is nooit te oud om te leer nie.
En hierdie kompendium maak jou nederig oor taalverantskappe, afleidings en
idiome.
Hierdie boek laat ‘n mens dikwels
harpuis ruik! En dit beteken letterlik die klewerige gom wat jy ruik wanneer jy
as bokser uitgeslaan word (bladsy 115).
En harmansdrup?
‘n Outydse medisyne wat stadig uit die
botteltjie geloop het en daarom wanneer iemand stadig is, noem ons hom ‘n
harmansdrup(bladsy 115).
Iemand die harnas injaag verwys na die
Middeleeuse ridder se wapenrusting. En om iemand dus die harnas in te jaag,
aktiveer ‘n bakleiery (bladsy 115).
Geweldig baie idiome is ontleen aan
Nederlands. Ook aan Engels.
Dikwels wat mense as
"anglisisties" ervaar, is eintlik verder terug al in ‘n Germaanse
taal opgeteken.
Soos iesegrim (‘n knorrige persoon) wat
verwys na Van den vos Reynaerde se knorrige wolf, Isengrijn.
In hierdie beklemmende dae waarin ons
dalk afstuur op ‘n mono-linguale kultuur, onthou ek dat ek dosente meegemaak
het wat Goties en Frans en Duits en Middelnederlands kon lees, onder andere.
Wat die herkoms van ‘n woord vir jou kon verduidelik dat dit plesierig was.
En dat daar taalkundiges bestaan wat
Xhosa-Afrikaans en Zoeloe-Afrikaans in woordeboeke opgeteken het. En dat Ernst
Kotzé se Japannees-Afrikaanse woordeboek binnekort met ons gaan wees. Want op
dieselfde tyd wat die Nederlanders aan die Kaap aan wal gestap het, was hulle
ook in Japan, en meer spesifiek in Nagasaki. Gaan luister maar weer na die
verruklike Madama Butterfly van Puccini wat hier in ‘n museum bewaar
gebly het!
So sit ek een aand in ‘n visrestaurant
in Nagasaki doer in 2001 en ja, ek hoor Nederlandse woorde ingebed in die
Japannees! Puccini snoer twee kulture saam en lewer meta-kommentaar deur onder
andere die Amerikaanse volkslied (The star spangled banner) as
refrein te gebruik. En hiermee saam, die Japannese volkslied (Kimi ga yo)
en bekende Japannese liedere.
Soos hierdie opera die verbintenis
tussen verskillende kulture uitwys, is taalkenners daar om ons te help om taal
tot in die vesels te verstaan.
Hierdie rubriek was bedoel om Anton
Prinsloo te huldig. Sy Taalkruie in Die Volksblad kon ek danksy
die internet lees, en Feite, flaters en fiksie wat handel oor
taaleienaardighede.
Mag ons nooit met ‘n mond vol tande
staan voor die werk van gedugte taalkenners nie.
En onthou die boeregrap waar die twee ou
ooms sit en gesels op die stoep. Die een seg ja, die een nee. So gaan dit aan
vir ‘n hele dag. Laatmiddag kom ‘n jongman by hulle aan.
En hy seg:"Ja-nee.".
"Wat dink jy van hom?" vra die
een Oubaas.
"Man, hy praat te veel."
© Joan Hambidge