Harper Lee is op
19 Februarie oorlede.
Die verloop van tyd het nie die ontslape skrywer Harper Lee se roman To
kill a Mockingbird ingehaal nie, skryf Joan Hambidge.
Dit het meer as 40 miljoen eksemplare verkoop en is in meer as 40 tale
vertaal.
Die boek het ’n Pulitzer en die Presidential Medal of Freedom verower en
kan as ’n moderne klassieke roman beskou word.
Dit is die verhaal van Scout en Jem en hul blik op rassediskriminasie
wanneer hul vader, Atticus Finch, ’n swart man, Tom Robinson, op ’n aanklag van
verkragting moet verdedig. Die vrou se klag, so argumenteer Atticus, het
gespruit uit haar skuldgevoelens omdat sy ’n swart man wou soen.
Hy word egter deur die jurie skuldig bevind, hardloop weg en word per
ongeluk doodgeskiet. Die kinders is aanvanklik vreesbevange vir die buurman Boo
wat hulle uiteindelik red wanneer Bob Ewell wraak neem en die kinders op
Allerheiligeaand (Halloween) probeer beseer.
Die hof beslis dat Ewell deur sy eie mes gedood is, maar die leser besef
dat dit waarskynlik Boo was. Alles speel af in die dertigerjare in die
verbeelde Maycomb, Alabama.
Die rolprentweergawe (1962) met Gregory Peck is deur Robert Mulligan
geregisseer en bly ’n juweel van prent.
Dit begin met ’n simboliese boksie met figuurtjies en ’n horlosie daarin geberg.
Deur die jare moes Lee skinderstories trotseer dat sy nie die skrywer van
hierdie roman was nie, maar eerder haar briljante jeugvriend, Truman Capote.
(Is die maatjie Dill byvoorbeeld gegrond op Capote, of nie?)
Go set a Watchman het verlede jaar media-opslae gemaak en onmiddellik is die
twee boeke teen mekaar afgespeel.
In my bespreking vir Die Burger (8 Augustus 2015) het ek daarop gewys dat
’n mens dit as twee afsonderlike tekste moet benader. Twee tekste, waarvan die
een uit ’n jeugperspektief op rassespanninge en haat kommentaar lewer, en die
ander uit ’n volwasse blik.
Lee was haar lewe lank die gevangene van die suksesverhaal van haar roman. En haar vriendskap met die komplekse en grensoorskrydende Capote het haar ook in die spervuur laat beland wat oorspronklikheid betref.
Lee was haar lewe lank die gevangene van die suksesverhaal van haar roman. En haar vriendskap met die komplekse en grensoorskrydende Capote het haar ook in die spervuur laat beland wat oorspronklikheid betref.
Uiteraard het Capote haar heel waarskynlik van raad bedien en voorgestel
dat sy die belewenisse van ’n kind ondersoek, soos hy in The Grass Harp (1951)
gedoen het.
Capote het dit as sy gunstelingwerk uitgesonder – dit is egter ’n
sentimentele werk en ’n mens besef dat Lee haar juis teen sentimentaliteit verweer
het.
To kill a Mocking Bird is gegrond op ’n werklike insident, net soos Capote se In
Cold Blood ’n werklike moordsaak ondersoek.
Eersgenoemde teks word deur vertelstrategieë briljant in bedwang gehou;
laasgenoemde teks is “new journalism” en gebruik joernalistieke tegnieke om
die verhaal te laat voortstu.
Inderdaad was hulle jeugvriende en Capote was openlik homoseksueel, terwyl
Lee se gendervoorkeure (Scout) vanselfsprekend is.
Albei ondersoek die komplekse verhouding tussen ’n Alabama-jeug en ’n
volwasse lewe in New York – voortdurende spanning dus tussen die Diep Suide en
’n metropool-bestaan van vryheid, wég van die Bybelse voorskrifte van die jeug.
To kill a Mockingbird word elke jaar in Monroeville opgevoer en die hofsaal is
as ’n museum vir besoekers bewaar.
Skynbaar was Lee gaande oor die fliek Capote met wyle Philip Seymour
Hoffman in die hoofrol en Catherine Keener as Lee, die mede-reisiger wat Truman
van raad moet bedien en teen woestelinge moet beskerm.
Wat ’n skrywer is Lee steeds.
Sowat drie jaar gelede was dit ’n susterskind se matriekvoorgeskrewe teks
in ’n Johannesburgse privaatskool. Ek lees dit weer en help die jongeling (se
ma) met die struktuur van die boek.
Toe vergelyk ek dit met Capote se eerste werke en weet hy het dit (Go
set a Watchman) beslis nie geskryf nie.
© Joan Hambidge