Michael Almereyda se Hamlet
– met Ethan Hawke as Hamlet – is ‘n besondere interessante en relevante
herbesoek van Shakespeare se klassieke drama. Die teks word verskuif na New
York, meer spesifiek Manhatten met sy geel taxi’s en paranoiese gejaagdheid.
Herkenbare bakens word ingespan om die storie te vertel, soos Times Square en
die Guggenheim-museums met sy sirkels. Hier gil Ophelia haar waansin uit en die
sirkels van die hel word geaktiveer.
Moderne tegnologie (selfone,
TV-skerms, telefoonapparate, komputers en ‘n gedateerde faksmasjien) word
ingespan om die storie te vertel. Die jong, wroegende Hamlet besoek ‘n
DVD-winkel waar hy stapels en stapels films uitneem om iets te verstaan van sy
Umwelt, teenoor die lesende Hamlet in die oorspronklike teks.
Hierdie film is alreeds in 2000
gemaak en analiseer die impak van modern tegnologie op ons lewens. Hamlet dwaal
binne ‘n vlugkajuit en wonder oor die impak van sy dade, terwyl hy na ‘n film
kyk.
Is dit toevallig dat die
drama-binne-in-die-drama Mousetrap heet? James Dean, die silwerdoekheld
soos Hamlet, bly tydloos aanwesig en glibber op ‘n TV-skerm.
Ophelia neem Polaroids wat sy
weggooi, in plaas van blomme …
Die oorweldigende back-drop van
die nooit-slapende New York was ‘n knap idee. Hierom is die jonge, tobbende
Hamlet ‘n tegno-junkie. Die beroemde “to be or not to be”-monoloog word
geparodieer deur ‘n Oosterse kommentator op ‘n TV-skerm wat beklemtoon dat ‘n
mens se “being” altyd gedefinieer word deur ander mense. Met hierdie insetsel
word daar verder gesuggereer dat ‘n mens se syn in die moderne wêreld verder
bepaal word deur jou ekstensies in die tegno-wêreld.
Die jong Hamlet weifel tussen ‘n
studie in die MBA-wêreld en filosofie. Hy keer terug uit die buiteland om te
ontdek dat sy vader, die hoof van Denmark Korporasie, dood is en dat sy moeder
(Diane Venora) getroud is met sy moordenaar, Claudius (Kyle MacLachlan). Die
nuwe vader is ook nou in beheer van die maatskappy en die oorspronklike
oedipale stryd word nou in moderne terme ook ‘n geldstryd.
Peter Bradshaw, ofskoon
entoesiasties oor hierdie produksie, is wel skepties oor die voiceovers:
Moreover, Almereyda persistently
makes the vulgar mistake of putting soliloquies onto a voiceover over a shot of
the tight-lipped protagonist, as a kind of "thinks" bubble. It was
the sort of thing Polanski did with his 1971 Macbeth: a disconcerting and
unnecessary trick which you just don't need on film, and which lessens the
visceral impact of speech.
(Fresh prince of Denmark | Film | The Guardian. Besoek 12 November 2015)
Vir my is dit aanvaarbaar binne
die styl-mélange van die produksie. Dit dwing die kyker om die monoloog van
elke karakter weer aan te hoor. Met onderskrifte word dit ‘n besondere
spannende spel tussen die Shakesperiaanse taal en die moderne vertolking van
Hamlet met ‘n bokbaardjie, sonbril of ‘n tweegeveg wat gemoderniseer word met
'n elektroniese punteteller!
Shephard se Buried Child
(1979) is ‘n belangrike interteks, nes sy gekwelde lewe. Hierdie drama lewer
kommentaar op die spanning in die nuklêere gesin. Hierdie pakkende aktiveer
bloedskande op ‘n direkte wyse en aktiveer sowel Oedipus rex as Hamlet.
(Buried Child - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 12 November 2015
Hiermee wil die die filmmaker
waarskynlik ‘n spanning uitwerk tussen Shakespeare en moderne dramas wat steeds
bly teer op die Freudiaanse familieromanse wat terugkeer na Sofokles.
Met Liev Schreiber as Laertes
beweeg hierdie kyker weg van die Mousetrap tot in Ray Connolly,
‘n reeks wat moderne kykers fassineer.
Die TV-leser, ten slotte, lewer
kommentaar op ons samelewing in hierdie tye wat resoneer tot en met FMF#.
Is die moderne student nie ook
in opstand teen die vaderfiguur (die regering) wat hom en haar versaak het nie?
The Mousetrap (Besoek 12 November 2015) is die kode met die leser wat moet speurwerk doen. Soos
Agatha Christie se drama beskryf word as "the longest running play",
is Hamlet presies ook dit.
© Joan Hambidge