Vicky Christina Barcelona
Woody
Allen
I
Woody Allen se Vicky Christina
Barcelona (2008) is Woody Allen se vierde rolprent wat hy buite die VSA
vervaardig het. Hierdie rolprent het ongeveer 25 pryse verower en word allerweë
as ‘n uitsonderlike werk geloof. Met elke weerkyk is daar ‘n besondere toespeling
nie alleen op die werk van Gaudí en Miró, nie maar veral aan die Spaanse
filmmaker Pedro Almodóvar. Iets van die Spaanse filmmaker se melodramatiese
aanslag, word in hierdie Spaanse film aangetref. Een van Almodóvar se
gunsteling aktrises, Penélope Cruz, is alreeds ‘n kode vir die speurende kyker
met wie Almodóvar 'n filmiese verhouding opgebou het. Ook die gebruik van
werklike kunstenaars (soos die Spaanse kitaarspelers) en die Katalaanse
kunstenaar, Agustí Puig, wat vir Vicky Christina Barcelona kunswerke
gemaak het, is ‘n verdere kopknik na die Spaanse filmmaker wie se films ook die
spanning tussen werklikheid en fiksie problematiseer. Pedro Almodóvar gebruik
sy werklike familie as karakters en in een film is daar ‘n konsert waar
aktrises luister na ‘n Spaanse konsert. In Vicky Christina Barcelona is
die kitaarspeler in Asturias Emilio de Benito wanneer 'n mens na die lys van
erkennings kyk.
In die werklike lewe is Bardem getroud met
Cruz. Dus duidelike vraisemblance in Barthes se terme of die inspeling van die
werklikheid wat alles voortdurend uitstel en problematiseer.
II
Twee vriendinne vertrek vir 'n vakansie na
Barcelona. Dit word deur 'n "voice over" (Evan Welch) vertel. Die
twee se sieninge van die liefde verskil dramaties: die een soek sekuriteit, die
ander een, pas uit 'n verhouding, hou meer van uitdagings. Beide raak betrokke
by 'n Spanjaard, ene Juan Antonio Gonzalo, wie se vader gedigte skryf maar dit
wil publiseer nie, weens sy afsku aan die mensdom se selfgerigtheid.
Aan die einde (die film is 'n voltooiing
van die ervaring, soos die "voice over" reeds aandui), keer Vicky
terug na die ou lewensstyl en sy het 'n tweede Amerikaanse bruilof met haar
eggenoot Doug (Chris Messina) wat nie bewus is van haar kortstondige affair met
Juan Antonio nie. Christina, op haar beurt, weet beslis wat sy nie wil hê nie.
Haar verhouding met Juan Antonio en María Elena (Cruz) was eweneens 'n
vakansie-romanse.
Vicky word "verower" na 'n Spaanse
kitaaraand.
III
Aan die einde staan Doug en Vicky by 'n
straatwinkel en hy oorweeg om vir hul gasheer en -vrou (Judy en Mark) voëls te
koop as 'n geskenk. Die voëlhokkie waarsku die kyker wat met Vicky gaan gebeur:
sy gaan in 'n huwelik vasgevang wees met Doug, waaruit sy nie sal kan ontsnap
nie. Hierna het sy 'n laaste ontmoeting met Juan Antonio en María Elena skiet
op hulle, wond Vicky per ongeluk wat dan tot realiteit geskok word. Sy besef
dat dit nie die lewe vir haar sal wees nie. Juan Antonio, ten spyte van sy
romantiese aard (waarteen sy aanvanklik in opstand kom) dui op gevaar. Sy
verkies 'n lewe met die voorspelbare Doug, oor wie Christina uiters neerhalend
is in een van hul gesprekke. Vicky se onrus word uitspeel teen Judy en Mark,
die welgestelde weldoeners, se lewe: sy sien hoe Judy, haar "distant relative",
(Patricia Clarkson) 'n man soen en Judy probeer om Vicky en Juan Antonio weer
bymekaar uit te bring by 'n partytjie. Vicky besef egter dat Judy haar eie
ongelukkigheid só probeer besweer.
IV
Deur 'n Spaanse film te maak vind ons 'n
duidelike toespeling op Almodóvar se films. En Vicky is boonop 'n kenner van
Gaudí (Besoek 7 November 2015) se werk, die "backdrop" waarteen die film afspeel.
Karakters ontmoet by die Sagrada Família,
onder andere.
Hoe moet 'n mens dit benader? Woody Allen
se Manhattan(1979) kan onder beskou word as sy liefdesverhouding
met hierdie stad. George Gershwin se Rhapsody in Blue is die musiek wat
gebruik word om die stemming te skep. Zubin Mehta (van die New Yorkse
Philharmoniese orkes) en Michael Tilson van die Buffalo Philharmoniese orkes
was die dirigente van die musiek vir hierdie klassieke film.
Die Sagrada Família is onvoltooid. Dit is
waarskynlik ook die mees gewaardeerde monument in Barcelona en een van die
meeste toeriste lok.
Vicky Christina Barcelona is die film van Allen waarna hierdie kyker die meeste kere
teruggekeer en by elke herbesoek 'n ander dimensie ontdek het oor verhoudings,
toespelings op kunswerke en films, en is so beskou ‘n "onvoltooide"
teks in my gemoed. Die Spaanse kitaarspel bly draal in die gemoed lank ná die
voltooiing daarvan ...
Vertelling (en Woody Allen kan vertel),
subteks, interteks, toespelings, grappies - dit is alles daar. Nes die intrede
van Joan Pera (‘n Allen-"double") wat 'n mens weer neem Fellini se Otto
e mezzo (1963), 'n besinning oor die aard van die filmkuns met Marcello
Mastroianni as Fellini se doeblet.
© Joan Hambidge