Afrikaans is 'n wetenskapstaal en die huidige debat erken telkemale die
posisie van Afrikaans. Die hewigheid van die debat laat 'n mens nadink oor die
volgende:
waarom moet ons luister na rubriekskrywers wat Afrikaans minag? Hoekom
word hulle idees nie eerder in 'n Engelse dagblaaie uitgestal nie?
waarom laat polemici (eerder fulguriete) hulle uit oor taalkwessies
as hulle nie eens die verskil tussen 'n senaat se rol en 'n raad begryp nie?
waarom word 'n taal wat hier getransformeer het van Hollands en ander tale
in sig dra en 'n semi-kreoolse taal is, verminder word?
waarom 'n taal verklein met soveel skrywers, bloemlesings, woordeboeke en
vakwetenskaplike tekste?
waarom laat mense wat nie die kompleksiteite van taal begryp nie, hulle
nie maar eerder uit oor hul eie vakgebiede nie?
waarom bydraes lees van mense wat nie die verskil ken tussen alumus en
alumna nie?
waarom kyk hierdie napraters van Engels nie eerder na Kanada en België
alvorens hulle meen ons moet nou die Rubicon oorsteek nie?
waarom word prosedures aan 'n universiteit geminag en moet 'n raad agterna
daarop wys dat 'n taalbeleid nie sito-sito verander kan word sonder om al die
taakspanne en rolspelers in ag te neem nie?
waarom word 'n drakoniese beginsel geuiter dat die amptelike voertaal
(selfs in koshuise!) voortaan in Engels sal geskied?
waarom luister na diegene wat nie die verskil verstaan tussen 'n taal as
gesprekstaal en wetenskapstaal nie?
waarom word die gedagte uitgespreek dat dit nie 'n universiteit se rol is
om Afrikaans te beskerm nie, maar tog word hierdie debat (wat bepaald nie
histeries is nie) oor 'n universiteit veral in Afrikaans gevoer?
waarom die dawerende stilte van onse groot skrywers woonagtig in die Bos?
'n Mens kan net 'n satiriese opera oor hierdie kwessie skryf: Macchiavelli
in Stellenbosch. Met die senaat as 'n koor wat mymer "Wiff all respect,
Mistah Blyde Boodskap" en "We speaka da Engliesh so internashional
and inclusif". Met manlike castrati, fopdos-soprane jubelend op "O
moenie huil nie, o moenie treur nie ...". Met die Eersterivier as 'n
Rubicon.
Mag die paar helderdenkendes - wat nog oor is - die ryke tradisie van
kreatiewe skrywers aan hierdie instansie eer waar hulle manuskripte in bewaring
is vir 'n nageslag. Is dit te veel gevra dat daar herbesin word juis omdat die
implikasies hiervan ander Afrikaanse departemente en almal wat in Afrikaans
werk, mag raak?
Goed dat soveel mense buite die universiteit hierdie ding sien presies vir
wat dit is: nogmaals 'n geswig voor die regering van die dag se kortsigtige
politieke eise.
Soos dit opgeteken staan: Geniet die oorlog; die vrede gaan erger wees.
Soos dit opgeteken staan: Geniet die oorlog; die vrede gaan erger wees.
© Joan Hambidge