I
Die onthulling
van professor Wim de Villiers, rektor aan die Universiteit van Stellenbosch,
oor die toekoms van Afrikaans as voertaal is met skok begroet. Dit is geen geheim
dat universiteite tans in 'n krisis gedompel is nie en aan Stellenbosch, my
alma mater, is die studenteverset - gelei deur die Open Stellenbosch Forum -
veral teen Afrikaans geloods. Ons het almal die Luister-video gesien.
'n Nagraadse student
aan die UK spekuleer die rektor het voor 'n kruispad gestaan: toegee aan die
studente se eise of die kritiek van Afrikaanse simpatisante. Kennelik besluit die
studente belangriker is as die dosente, konvokasie, alumni, en ander
ondersteuners van die US. Ondertussen het Breyten Breytenbach en Johann Rossouw
met skerp en oortuigende argumente gekom oor waarom dit 'n dwase besluit sou
wees. Die rektor krabbel terug na die persverklaring en omsendskrywe wat ek in
die nag van 12 November gelees het en 'n e-pos waarin hy deur die studente
toegejuig word oor sy taalplan wat nog nie deur die raad of senaat goedgekeur
is nie. Een e-pos van studente word selfs met 'n Amandla afgesluit. Die senaat
moet eers só 'n beleid goedkeur en 'n mens maak die afleiding dat die korrekte
prosedure nie gevolg is nie. 'n Raadslid het immers in die pers hiervan kennis
geneem.
II
'n Mens onthou
hoe daar 'n paar maande terug in die pers berig is (op 'n Sondagoggend in Rapport) dat die Geesteswetenskappe voortaan
in Engels sou kommunikeer. Na skerp reaksie is dit ontken, teruggetrek,
weggepak, toegedoek. Die jongste besluit het 'n lang geskiedenis (as ek reg onthou):
dubbelspraak, 'n voormalige rektor se skuinspraatjies, lekkasies uit die Raad
waar een ding besluit word, en in die werklikheid iets anders. Ons het deur die
jare verskillende taalplanne aangehoor: T-opsie, tolkdienste, parallelle
medium-onderrig; alles woorde wat volgens my strategieë was om Afrikaans al hoe
meer uit te rangeer. Hermann Giliomee en Marié Heese (volledig tweetalig en
ingelig oor taalonderrig) het telkens gewys op die gevare van verengelsing indien die kwessie van
moedertaalsprekers nie in ag geneem word nie. Dus: jy het 'n student wat nie
Engels is nie, wat onderrig word deur 'n dosent vir wie Engels eweneens nie 'n
eerste taal is nie. Self was ek al by lesings waar hierdie interaksie tussen
dosent en student in die sogenaamde "common language" nie deug nie.
III
Daar word
toenemend gepraat van "dekoloniseer ons universiteite" en 'n ander
mantra is destabiliseer witheid. (Al
wanneer ek bereid is om witheid te destabiliseer, is wanneer ek 'n bottel wit
wyn oopmaak.) Hoe ironies dat mense wat universiteite wil de-koloniseer, dit juis
doen in die taal van kolonisering. Engels is nie net 'n taal nie; dis 'n
magsbasis. Die jongste taaldebat, eerder taalherrie, dui ook daarop dat dit nie
net om Afrikaans gaan nie, maar meertaligheid ontken en minag. Boonop word daar
'n Bestuur (die kollektief vir Outoriteit) besluite geneem, terwyl gesiene
taalkundiges soos Neville Alexander, Raj Mesthrie en Ana Deumert sou kon help
met die aanspreek van hierdie taalkwessie. Alexander se werk bly 'n baken; en
laasgenoemde twee linguiste is verbonde aan die UK en sou 'n buite-blik kon
gee. Aan die US is daar eweneens gesiene taalkundiges, taalpraktisyne en
woordeboekmakers wat sou kon hand bysit.
IV
Maar as 'n
Bestuur dit nodig ag om die kar voor die perde in te span, dui dit daarop dat
'n politiek korrekte besluit swaarder weeg as 'n kulturele een. Waarom moet die
komplekse kulturele samestelling van 'n kampus vereng word? Afrikaans is Kaaps; daar is tsotsitaal;
Moeslem-Afrikaans; Facebook-Afrikaans, Stellenbosch-Afrikaans, ensomeer: maar dit
is veral 'n wetenskapstaal en 'n taal met kreatiewe uitsette ('n lekker
universiteitswoord) met bekroonde en internasionaal gerekende skrywers. En 'n
hele paar woon op dáárdie dorp. Dit is eweneens 'n ruimte waar woordeboekmakers
woorde opteken en bewaar. En kundige vertaalkursusse aangebied word.
V
In een
omsendskrywe word Afrikaans met vier a's gespel. 'n Verskrywing wat dui op die druk waaronder
die skrywer was. Waarom, vra 'n mens jouself af, na hierdie jaar van etlike
krisisse (waarvan geen universiteit in die nabye toekoms gaan herstel nie),
moet die aankondiging teen latenstyd gemaak word? Dit, terwyl dosente bereid is
om uitgestelde eksamens te akkommodeer, etlike aanpassings maak met betrekking
tot verlof, ekstra lesings gee, studente bystaan, e-posse uitstuur om nóg 'n
krisis af te weer. Administratiewe personeel se werkslading het eweneens
verdubbel met die uitstel van eksamens.
Boonop word dit
in die pers aangekondig op Vrydag die dertiende.
Krisisbestuur
of 'n berekende stap? Maak die aankondiging wanneer almal reeds vuis- en
media-voos is van brandende klaviere en traanrook. 'n Senaatsvergadering met
waterbottels wat deur die lug vlieg. En nog 'n # op 'n ondeurdagte wyse deur
die media flits. Slagspreuke eerder as denke.
Heyneke Meyer
se ongewildheid word tans net deur professor Wim de Villiers se omstredenheid
getroef.
Joan Hambidge
is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK.