Francis Galloway (red.) – Vlam in die sneeu: Die liefdesbriewe van André P. Brink & Ingrid Jonker. Umuzi, 2015. ISBN 9781415208816. R350
Resensent: Joan Hambidge
Hierdie briewe is deur die
skrywer aangebied vir die uitgewer, Fourie Botha. Dit word gekontekstualiseer
deur Willie Burger en geredigeer deur Francis Galloway. Met ’n indeks vir die
speurende leser wat kan sien wie Jonker se rival was.
Met die aanbod word die
onfatsoenlike voyeurisme opgehef – iets wat werklik problematies was toe Anne
Sexton se psigoanalis haar terapie-bande aan die New York Times gelek
het en agterna, skouerophalend opgemerk het dat dit tog mos alles in die
gedigte staan?
Die Jonker-Brink-verhouding is
alreeds in Orgie gefiksionaliseer. En synde self ’n skrywer, weet
hierdie leser watter komplekse prosesse tussen lewe en teks lê.
Adrienne Rich het immers gevra:
“What kind of beast would turn its life into words?”
En dis hoe ek hierdie
liefdesbriewe lees: Nie as ’n skandalige onthulling van ’n privaat-pynlike
liefdesverhouding wat in die selfdood van die een party geëindig het nie, maar
as ’n openbarende psigoanalitiese verslag van hóé mense wat skryf (en in ’n
intieme relasie staan) se skryfwerk beïnvloed en gekalibreer word deur ’n
wedersydse skryfverhouding. Wat het in die skrywer-Brink se kop aangegaan toe
hy in hierdie verbintenis gestaan het? En in die digter-Jonker se gemoed?
’n Mens lees hierdie briewe met
die wete dat jy die slot van hierdie mitiese liefdesverhouding ken.
Die briewe is afwisselend
sentimenteel (Brink veral) en intieme seksuele besonderhede word verklap.
Onthou, Brink het sy briewe op deurslagpapier geskryf en sodoende kopieë bewaar,
juis omdat hierdie briewe nie net ’n verslag van ’n liefdesverhouding was nie,
maar ook inspirasie was vir hom. Jonker het soms geskryf, soms haar briewe
getik. Sekere briewe ontbreek, soos van dié tydens ’n oorsese reis aan haar
versend. Sommige opgeskeurde briewe is in die Gerrit Komrij-argief in Portugal
en kon nie opgeneem word nie. Die kundige Francis Galloway, kenner van die
sestiger-letterkunde, gee ’n goeie verduideliking vir die chronologie en
samestelling van dié papierverhouding. Die titel staan in ’n brief van Ingrid
Jonker.
Indien ’n mens ’n boek soos
hierdie publiseer, weet jy dit gaan kontensieus wees en juis omdat hierdie twee
skrywers teen sensuur gekant was, sou ’n gekuiste uitgawe – soos Ted Hughes se
versnippering van die Plath-briewe – nie deug nie.
Hoe benader ’n mens hierdie
briewe uiteindelik?
Daar gaan vermoedelik twee tipe
lesers wees. Diegene wat dit gaan lees vir die vlymbekkige opmerkings van sowel
Brink as Jonker oor medeskrywers, die ingebedde skinderpraatjies (hoe dan anders,
dit is immers briewe, oorspronklik private gesprekke), vir die
storie-agter-die-storie. Daar gaan ook ander wees wat dit gaan benader as ’n
tydsdokument en as ’n fassinerende spel tussen twee skrywers se kommentaar op
mekaar se werk en die angstigheid van die een om die proewe te sien van die
roman
Orgie om haar te
beskerm teen moontlike kritiek en aanvalle. (Daar is die pynlike brief van haar
vader wat haar politieke standpunte nie aanvaarbaar vind nie.)
’n Mens kry inderdaad ’n blik op
die hardwerkende Brink, immer aan die vertaal om ekstra geld te maak wat hy ook
aan haar versend; sy betrokkenheid by sy seuntjie Anton; sy eensaamheid; sy
verskeurdheid tussen sy huwelik (en werk) en die veeleisende verhouding met ’n
ingewikkelde vrou. Sy brei vir hom ’n trui en is bekommerd oor haar kind se
welstand; hy op sý beurt is besorg oor Simone en verlang na ’n dogtertjie van
sy eie. Hy is dosent. sy is onder meer proefleser, werk in kantore en stuur
selfs vir hom geld as ’n geskenk. Haar geestesgesondheid is broos.
Uiteindelik is die briewe tussen
André P. Brink en Ingrid Jonker iets wat ’n mens eenvoudig meesleur.
Tristia
is ’n fassinerende interteks en ’n mens besef hoe produktief en gedrewe Brink
was. Sy dinkwerk rondom Elders mooi weer en warm het hierdie leser
gefassineer. Haar kommentaar op Die ambassadeur is op sy beurt insigryk.
Dit het alles verskriklik skeef
geloop. ’n Mens raak bewus van sy ambivalensie en uiteindelik sy distansie.
Maar jy weet ook dat sy hom frustreer met haar verbintenisse met ander mans
(o.a. Jack Cope). Sy droom hy gaan haar los en hierdie droom is ’n pynlike
prospeksie van wat gebeur en die slotbrief tref jou tussen die oë . . .
’n Mens sou opmerkings oor
medeskrywers (of hul vroue) kon aanhaal. Hierdie skrywers moet eerder self die
uitsprake lees en dit probeer kontekstualiseer: Dit is geskryf deur twee jong
mense in ’n stormagtige tyd. Die eerste brief begin op Sondag 21 April 1963;
die slotbrief is geskryf op Dinsdagaand 27 April 1965.
Op 4 Desember 1963 pos hy vir
haar ’n doring wat in sy toon was en uitgesweer het ná ’n Gordonsbaai besoek.
Simbolies van hoe ’n mens hierdie boek moet benader? Hy noem haar selfs
Doringrosie op ’n keer . . .
’n Mens bly deurgaans bewus van
die “hoë emosionele tempo” van die briefwisseling; die kommentaar van ander;
Jonker se vriendskap met Chris Lombard, iemand wat haar ondersteun; en die
moeilike verbintenis met Freda Linde.
Hoe die lewendes hierop gaan
reageer, is nie my besigheid nie. Selfs ná sy dood gaan André P. Brink, soos in
sy gevegte teen sensuur, in sy skerpsinnige resensies en laaste roman en
memoir, ’n Vurk in die pad, steeds vir polemiek sorg. Net soos sy
korrespondent wat stééds met haar gedigte kommentaar ontlok in flieks, gedigte
oor haar, studies oor haar werk, ’n prys met haar naam, en bespiegelinge, ook
nie tot rus kan kom nie. Dit is die soort gegewe waaroor Janet Malcolm
waarskynlik ’n studie sou kon skryf.
Dit is ’n boek wat ’n mens
eenvoudig meesleur. En ’n mens kan die teks nie “skoon” of onbevange lees nie.
Daar is telkens iets wat jy invul tússen die briewe.
Ingrid Jonker & Jack Cope
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)