Friday, November 13, 2015

Jean Oosthuizen vra Joan Hambidge oor die US se taalbeleid


1. Daar word gesê almal is mislei. Dit was nog deurgaans die beleid dat Stellenbosch nie ʼn  Afrikaanse of Engelse Universiteit is nie maar hoe nou? Het Engels nou gewen?

Die teerling is gewerp, behalwe as die personeel hulle gaan verset teen die rektor se besluit. Die komplekse debatte rondom Afrikaans as voertaal word met so 'n aankondiging geminag. Afrikaans is 'n wetenskaptaal met woordeboeke, gerekende skrywers en 'n veelrassige taalgemeenskap wat hiermee spreekwoordelik van die taal gevee word. Dit was immers Caesar se woorde toe hy die Rubikon oor is in 49 VC: die teerling is gewerp.

2. Hoe gaan die besluit Afrikaans as akademiese taal raak noudat dit ʼn  minderwaardige plek teenoor Engels gaan beklee?

Hier sal vaktydskrifte steeds Afrikaans se posisie beskerm: Stilet, Literator, Tydskrif vir letterkunde en Litnet-Akademies.  Daar word skynbaar nie besef dat daar bruin studente is wat nie in Engels wil onderrig ontvang nie. Wat van studente wat kies om Stellenbosch toe te gaan? Of maak dit nie saak nie?

3. Wat was die reaksie wat jy tot dusver ontvang het oor die besluit?

Ek het dit laataand verneem, per sms versend na vriende en die reaksie was oorweldigend een van skok en een skrywer, 'n oud-Matie, se sms het gelui: "Veg!" Hierdie aksie is deel van die neo-politiek korrektheid wat tans ons universiteite verswelg. Hoofde van universiteite is besluiteloos en word deur oningeligte drukgroepe rondgeslinger soos 'n skippie in 'n storm. Open Stellenbosch-forum en die verpolitisering van Afrikaans het waarskynlik agter die skerms 'n rol gespeel.

4. Is die nie maar net die begin van die einde van Afrikaans op die kampus nie.

Hier kan 'n mens net The Campus War lees van John Searle (Penguin, 1972). Dis asof dit geskryf is vir hierdie tyd. Searle, die beroemde taalkundige en die skrywer van Speech acts (1969), was verbonde aan Berkeley en lid van die Senate Academic Freedom Committee. Sy analise van drukgroepe se "sincere imbecility" en "preposterousness" wat gebaseer is op 'n utopiese visie (en onkunde) laat 'n mens nadink.

Hierdie taalkwessie moet gelees word teen die agtergrond van Rhodes must fall / Fees must fall wat (as ek my nie verbeel nie) ontaard het in volledige anargisme.

Die aanvanklike protes oor fooie en taal het nou wapens geword in die hande van die massas wat dreig, beset, brand, intimideer; eksamens word selfs geskryf met sekuriteitswagte in die agtergrond aan die UK.

5. Wat is jou boodskap aan almal wat lief is vir Afrikaans en geskok is oor die besluit?

Daar sal 'n groot gefladder wees. PEN-Afrikaans sal reageer, briewe sal deur Die Burger tsoenami en Afrikaanse mense sal in alle waarskynlik gryp na vlugsout, Groot verseboek en CP Hoogenhout se "Vooruitgang" aanhaal:

"Engels! Engels! Alles in Engels! Engels wat jy sien en hor;
in ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor."

En dan sal almal nogmaals besef hoe die wol oor ons oë getrek word. Die aftog blaas en weet dat Hermann Giliomee dit al lank terug voorspel het.

6. Enige iets anders wat jy graag wil  byvoeg na gisteraand se besluit en die aanvanklike reaksie daarop?

Wie het die rektor die mandaat gegee om so 'n aankondiging te maak? Het hy met gesiene taalkenners en filosowe onderhandel? Wie sit op die "language task teams"? Is dit waar dat hy nie die senaat se goedkeuring het nie? Die senaat is die ruimte waar so iets goedgekeur word, nie andersom nie. Selfs die opskorting van Grieks 101 moet deur die senaat gaan.

Die volgende uitspraak wys hoe min die rektoraat (oftewel die bestuur) verstaan van taalhandelinge (ons is terug by Searle).

"In residences and other living environments, students should use English as the common language in house meetings and other official functions. Other languages can be used additionally, and mechanisms like interpretation can be employed."

Ek het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en as alumna verset ek my teen hierdie besluit wat essensieel dui op onkunde, opportunisme en al die sinonieme. O ja, ek sien mense mag protesteer met geen vrees vir viktimisasie nie.

O moenie huil nie, o moenie treur nie, die Stellenbosse boys kom weer.