© Barcroft Media/Pharand
Reis-om-die-aarde
Joan Hambidge
maar Tyd en die stede ontkrag ons
formules,
nou bly die
weemoedwalse, die walse van óu plekname, oor.
Jannie Coetzee, ”Weemoedwalse
van ou plekname”
As jong kind het
Jules Verne se Around the world in 80
days my bekoor. Ek wou nog altyd daardie reis-om-die-aarde onderneem en toe
stel ‘n vriend dit een aan aand voor. Van Johannesburg tot in Hong Kong,
Beijing, Tokio, San Francisco, Los Angelos, Chicago, Washington DC, New York,
Istanboel.
Op die negende
van die negende vertrek ek. Om nege stede te besoek op verskillende kontinente…
Twee dae voor 9.11, my geboortedag, ook met die doel voor oë om in New York te
wees tydens die herdenking van die terreuraanval. Maar liefs nie op daardie dag
nie. Eerder ‘n bietjie later sodat ‘n mens met afstand na die herdenkings kan
kyk. ‘n Terugkeer na my geliefde stad, New York, ‘n stad wat ek sedert die
aanval nog nie weer kon besoek nie, omdat dit vir my emosioneel te oorrompelend
sou wees.
Maar dit word
ook ‘n herbesoek aan ánder stede wat ek al in die verlede besoek het, weliswaar in ‘n jonger gedaante, met meer
drif, meer onskuld. Hoe sou San Francisco nou lyk? My eerste bundel Hartskrif bevat immers ‘n gedig oor
hierdie stad, soos oor New York, wat in vele bundels my bly agtervolg het.
‘n Re-unie dus.
Maar terselfdertyd ‘n meditasie. ‘n Teruggaan-in-die-tyd met die opgaaf om as
ouer persoon weer te probeer kyk na ‘n stad soos jy dit die eerste keer ervaar
het. San Francisco en LA in 1980, Tokio in 2002, Istanboel in 2008. New York in
1980, 1984, 1990, 2000. Chicago in 1994. Van die Ooste na die Weste tot in die
oer-stad: Istanboel. Een kaart per Star Alliance. Reis is dhutanga, oftewel harde praktyk, omdat ‘n mens dikwels soos die
Boeddhisme ons leer, goed afweer of uitskud.
© LocalEats® 2012 | All Rights Reserved
Hong Kong het ek
deur die jare goed leer ken. Op die voorblad van Vuurwiel (2009) is daar ‘n foto van ‘n hotelkamer in hierdie stad van
deurgang, poort tot ander stede. Ek het eweneens die transformasie van die stad
sélf deur die jare beleef: van ‘n stinkende, agterlike stad wat ruik na kos tot
‘n gesofistikeerde, bruisende wêreldstad.
Daar is min
geweld en diefstal. Kenmerkend van die stad is die rooi taxis wat vinnig deur
die strate vleg. Hong Kong spog met meer skyscrapers
as New York en word vandag saam met Tokio as ‘n finansiële hoofstad beskou.
Met my aankoms
is Hong Kong besonder warm en swoel. Die Sondagaand beleef ons ‘n monsoon. Maar
die reën bring min verligting.
Die Hong Kongers
is ‘n uiters gedissiplineerde, gehoorsame gemeenskap wat net stap wanneer die
voetganger-mannetjie groen flits met klik-klik geluide wat die stad se hartklop
word. Op ‘n nuwejaarsaand, jare gelede, het ek gesien hoe die polisie met
behulp van toue skares mense oor die strate help. Wanneer die tou oopmaak, stap
almal vorentoe in gelid. Op die oopbus-toere vind ‘n mens oorfoontjies waarmee in
die taal van jou keuse (helaas geen T-opsie) die geskiedenis van die stad verhaal
word, onder meer hoe Hong Kong in 1997 teruggegee is aan Sjina.
Hong Kong staan
in die teken van welvaart. Dis embleme en handelsname net waar jy kyk en geboue
word gereeld afgebreek en herbou om nuwe werkgeleenthede te skep. ‘n Voortdurende
facelift
dus.
Wanneer ‘n mens
reis, agtervolg dele van ‘n ander land jou dikwels. Hier vind mens byvoorbeeld
plakkate van Chicago, ‘n stad wat ek later in hierdie reis gaan besoek.
Hong Kong is ‘n
stad van transformasie, van ‘n voortdurende wisseling van lywe om met die
digter saam te praat.
Meditasie:
‘n Stad is soos ‘n mens,
word oud, steier onder aanslae,
dra letsels, plooie van jare se swaarkry,
uitdagings misverstand.
‘n Stad is ook ‘n spieël,
kaats terug wat voor sig staan.
Bron:
John Snelling.
1990. The Elements of Buddhism.
Massachusetts: Element.