Ann Patchett. Bel
Canto. Jonathan Ball, 2001. ISBN 1 84115 583 7.
Resensent: Joan
Hambidge
Bel
Canto van Ann Patchett het die 2002 Pen/Faulkner-prys verower.
Die skrywer is bekend in die VSA waar sy alreeds die gesogte Guggenheim
Fellowship ingepalm het en die Nashville Banner Tennessee Skrywer van die Jaar
Toekenning ontvang het. Sy is ook bekend as joernalis (haar naam het al
opgeduik in GQ, Vogue, Elle, Boston Globe…).
Die gegewe van Bel
Canto herinner nogal aan Werner Herzog se Fitzcarraldo in die belewenis van ‘n fantasie wat skeefloop.
‘n Party word aangelê vir ‘n ryk Japannees, ene meneer Hosokawa, wat ‘n elektroniese
besigheid besit. Dit word natuurlik alles gedoen besigheid ontwille. Om alles
vir hom aanloklik gemaak, word sy obsessie met Amerikaanse opera diva, ene
Roxanne Coss, aangespreek. Sy word genooi na hierdie party sodat hy haar van naderby
kan betrag. Die gegewe speel sig af in Suid-Amerika en ja, terroriste wil die
president ontvoer.
Die president bly egter die aand tuis om na sy gunsteling
soap opera op TV te kyk. Dit het tot gevolg dat ‘n vreemde skare eerder ontvoer
word. Natuurlik ook die pragtige Amerikaanse opera diva, die ryk Japannees wat
besete is met haar talent (en elke liggaamsuiting van haar registreer) en ‘n
vertaler. Liefde tussen onmoontlikes (binne ‘n vreemde ruimte) vind dus plaas.
Natuurlik is dit ‘n foutiewe ontvoering en vele intriges spruit uit hierdie
samekoms tussen mense. Vladimir Propp se Morphology
of the folktale en die verskillende rolle wat karakters vertolk, is dus
tersprake.
Vir die leser is dit duidelik dat die skrywer die gegewe
wou laai met opposisies: Ooste en Weste; kuns en geldmag; terrorisme en
regeringsbeheer; intellektualisme en vervlietende vermaak. Die gegewe speel
ook in op die Peru-krisis in 1996 toe
mense vir vier maandelank gevange gehou is. Op Powells.com (“Ann
Patchett hits the right notes”) word ‘n onderhoud gevoer met
Dave Weich waarin dit ook duidelik is dat die skrywer geen gebrek aan
selfvertroue het nie. Inteendeel. Sy wou
glo ook ‘n alwetende verteller inspan soos in Anna Karenina.
“Let’s hope the next book takes on something else”, bely sy. Ons hoop ook so. En ja, Thomas Mann
se The Magic Mountain het haar ook bekoor! Meer in die kol is die opmerking dat
The Poseidon Adventure ‘n interteks is. En dat sy ‘n Eudora Welty-tipe lewe
lei…
Vir die kenner en liefhebber van opera en sang is hier
vele juwele. Verwysings na Tosca en La Wally, onder andere. Daar is mooi
momente – soos wanneer die sangeres se sang beskryf word – maar dit is asof die
skrywer se idees nooit werklik die leser oorrompel nie. Die dialoog is soms ook
so niksseggend.
“So you live in Milan,” Thibault said.
“It’s a beautiful city.” (p. 316)
Karakters praat dan te dikwels asof hulle optree in ‘n
strokiesverhaal.
“I’ve located the boy,”Gen said.
“The boy?” Mr. Hosokawa said.
“The singer.”
“Oh, yes, the boy, of course.” (p. 282).
Die hele roman misbruik die sub-tekste van opera soos “ek
het gelewe vir die kuns” en die dood sal oorwin word op ‘n té resepmatige wyse.
Dis ‘n “lekkerlees” roman. Iewers tussen ‘n
badlees-episode en ernstige, talmende prosa. Goed aanmekaar gesit, vermaaklik,
vergeetbaar. R119 vir hierdie sagteband is nogal ‘n duur uitgawe’tjie, sou die
uwe meen.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]a